Deur Mariëtte Odendaal
Hennie de Lange vertel …
Die eerste drie artikels in ’n reeks van vyf oor die afgelope meer as dertig jaar se vyf saakgelastigdes, deesdae bekend as direkteur van administrasie en finansies, het in die vorige drie uitgawes van Vrypos verskyn. Ons het toe gesels oor die sinodale kerkkantoordae van Piet Coetzer, Hennie van der Walt en André Esterhuizen. In hierdie uitgawe gesels ons met André se opvolger, Hennie de Lange.
Die laaste uitgawe sal gaan oor die huidige direkteur van administrasie en finansies, Adriaan de Ruiter.
Hennie, jy het vir 43 jaar, vanaf 1973 tot met jou aftrede in 2016, in die Sinodale Kerkkantoor gewerk, waarvan die laaste jaar as direkteur van administrasie en finansies (saakgelastigde) was. Vertel ons egter eers meer van jouself voordat ons oor jou jare by die Sinodale Kerkkantoor gesels.
“Ek is op 11 Desember 1951 as die derde van vier kinders op Boshof gebore. My pa was ’n boer en my ma ’n onderwyseres by ’n plaasskool waar ek my laerskooljare voltooi het. Na Standerd 5 (Graad 7) is ek na die Hoërskool Rooidak op Boshof waar ek my matriek behaal het.
“Na skool het ek vir twee jaar by Volkskas (nou ABSA) op Warrenton gewerk, en daarna vir ’n jaar by Volkskas in Voortrekkerstraat in Bloemfontein.
“Danksy hierdie werkservaring kon ek in 1973 ’n pos by die Sinodale Kerkkantoor aanvaar en is ek ook in dieselfde jaar, op 24 Maart, met Amanda Erasmus getroud. Ons is geseënd met drie kinders en nege kleinkinders.
“Vanaf 1985 tot 1987 het ek ook deeltyds aan die Technikon in Bloemfontein (tans bekend as CUT) studeer en ’n nasionale diploma in kosterekeningkunde met koste- en finansiële rekeningkunde as hoofvakke behaal.
“Vanaf Januarie 2015 tot Februarie 2016 was ek direkteur van administrasie en finansies, waarna ek ná 43 jaar in diens van die Sinodale Kerkkantoor afgetree het.”
Jou jare ervaring by Volkskas en die jare in die Sinodale Kerkkantoor voordat jy as die direkteur van administrasie en finansies aangestel is, het jou sekerlik goed te pas gekom vir hierdie verantwoordelike taak. Wat het hierdie sinodale pos hoofsaaklik behels?
“Die belangrikste werk vir die grootste deel van my werksaamhede was die Sinodale Pensioenfonds. Ek moes sorg dat alle bydraes maandeliks korrek gehef word sodat leraars verseker kon wees van hul pensioenvoordele.
“Dit was ook my dag-tot-dag taak om die kantoor te bestuur, fondse te kontroleer en uitvoering te gee aan die finansiële besluite van sinodale kommissies.
“Dan was dit ook my taak om daagliks leraars, die publiek en skribas van gemeentes te woord te staan.”
Wat was van die belangrikste gebeurtenisse in jou tyd as direkteur van administrasie en finansies?
“In 2015 was ek deel van die NG Kerk Vrystaat Sinode wat die Algemene Sinodesitting in Pretoria bygewoon het. Een van die belangrikste besprekingspunte het oor selfdegeslag-verbintenisse gegaan.
“Daar is een hele dag afgestaan om dit te bespreek en die volgende oggend is daar met groot rustigheid en kalmte daaroor gestem. Daar is toe konsensus bereik dat gemeentes self kon besluit hoe om dit te hanteer; iets wat vir baie gemeentes ’n groot probleem was.
“Baie lidmate kry seer oor een of ander sinodale besluit, maar die NG Kerk sal altyd poog om diegene wat ly, te akkommodeer en te versorg. Die NG Kerk het nog nooit sy roeping verloor nie en sal altyd ’n kerk wees wat met deernis en groot liefde lei.
“Dit was ook my voorreg om te beleef hoe die Vrystaatse Argief herbou en heropen is nadat die argivalia vir ’n paar jaar gestoor moes word. Ek kon ook die inwyding op 22 Februarie 2016 beleef. Dit was ’n belangrike dag vir die NG Kerk Vrystaat om weer in sy eie kantoor te kon navorsing doen.”
Wat beskou jy as van die grootste uitdagings in jou tyd as direkteur van administrasie en finansies?
“Dit was om te alle tye goeie bande met gemeentes te kon handhaaf om sodoende hul vertroue te behou, aangesien daar maar altyd persone is wat om een of ander misverstand nie van die Sinodale Kerkkantoor hou nie. Ons voer maar net die opdragte van die sinode uit wat hulle self besluit het.
“Deur die jare het ek ook gemeentekassiere en -skribas gehelp om hulle leraars se belasting op salarisse en toelaes te bereken en om te alle tye die regte inligting van die SAID deur te gee.
“In baie plattelandse dorpe is daar nie altyd ’n boekhouer om te help nie. Vandag is daar nog steeds leraars vanoor die hele land wat my skakel en verneem of ek hulle nie kan help met hul belastingprobleme nie.
“Een van die groot uitdagings was om fondse met dieselfde definisie te konsolideer en sodoende die boekhoustelsel te vergemaklik. Die aantekening van elke fonds moet egter in die finansiële state aangebring word en sodoende nie afwyk van die aanvanklike doel nie.”
Hennie, in jou tyd was daar seker ook mense wat ’n groot indruk op jou gemaak het?
“Ja, beslis. Een van die mense wat ek altyd sal onthou, is beslis dr Leon Ferreira. Hy was die argivaris en was baie lief vir sy konsertina. So het dit ’n keer gebeur dat toe sy saak by een sinodesitting ter tafel gelê is, hy afwesig was en opgespoor is waar hy besig was om konsertina te speel op Pick ’n Pay se stoep!
“Dan was daar dr Piet Cloete, die sekretaris vir ampsbediening en evangelisasie, wat daarvan gehou het – of jy nou besig was of nie – om jou te kom vermaak met verhale uit sy kinderdae by Campbell en Niekerkshoop. Op die koop toe sou hy jou dan ook sommer inlig oor ’n paar medikasies, hoe dit gebruik moet word en wat die voordele daarvan is.
“Hannes van Dyk, saakgelastigde tot met sy skielike dood in 1992, was ook ’n besondere mens. Hy het ook van Boshof gekom en was baie lief daarvoor om jou te vertel hoe dit daar gespook het. Hy het ook baie daarvan gehou om te lag en grappe te vertel.”
’n Laaste opmerking, Hennie?
“Ten slotte wil ek net waardering uitspreek vir die Sinodale Kerkkantoor. Dit was altyd ’n besondere plek om te werk en ek is tot vandag toe nog dankbaar vir die voorreg om ’n deel daarvan te kon wees.
“Dit was ’n wonderlike ervaring om te kon help sorg dat die Here se werk kan voortgaan. In daardie tyd het my pad ook met besonderse mense s’n gekruis. Hulle het ewigheidswaarde tot my lewe toegevoeg.”
Kontak
Vir meer inligting kan Hennie de Lange by hdl@msnet.co.za gekontak word.
| verskaf deur: Mnr Hennie de Lange

