Deur Johan van der Merwe
In die Ned Geref Kerk is daar op die oomblik ’n nuwe belangstelling in die erediens. Ons besef deesdae hoe arm ons geraak het aan simbole en rituele en hoe uit voeling ons geraak het met die res van die wêreldkerk. Baie gemeentes kom op die oomblik weer in lyn met die verskillende seisoene in die kerklike jaar soos dit wêreldwyd gevolg word en gebruik elke Sondag tekste uit ’n leesrooster wat op daardie selfde Sondag in kerke wêreldwyd gebruik word. Eeue-oue gebruike waarvan ons nie eers meer geweet het nie (byvoorbeeld Aswoensdag), word opgedelf. Ons is weer bewus van liturgiese kleure (soos pers vir die lydenstyd, wit vir Paastyd en rooi vir Pinksterdag). Ons steek kerse aan, maar saam met hierdie eeue-oue gebruike wat ons help om ’n byna mistieke ervaring van God te hê, vra al hoe meer gemeentes na lewendige, opgewekte eredienste waar mens kan “sien” dat die Gees werk.
Daarom leen gemeentes in die Ned Geref Kerk tans ook baie gebruike by die charismatiese kerke, veral van hulle liedere en aanbiddingstyl. Wat ’n mens ’n bietjie bekommer, is dat ons nie altyd dink wat ons doen as ons sommer so ’n bietjie hier vat en ’n bietjie daar vat nie. Dit kan net wees dat ons sommer net iets in die erediens doen omdat dit lekker lyk, goed werk en mense beïndruk of die idee gee dat ons byderwets is, maar dat dit nie vir mense regtig help om God beter te leer ken nie, omdat dit dinge oor God veronderstel wat ons eintlik nie so glo nie.
My grootste bekommernis is dat die manier waarop ons erediens hou, mense maar net help om so bietjie te ontvlug uit die lewe. Dit help mense nie juis om God beter in die alledaagse lewe te gaan dien nie. Ek is bang die erediens is maar net ’n blaaskansie, `n wegkruipplekkie, ’n oasetjie in die woestyn van die lewe met sy probleme. Daarteenoor is die erediens vir my die plek waar ek juis my eie probleme én die nood van die hele wêreld voor God onthou en dit nie ontken en wegsteek nie. Ek dink mense ervaar die erediens dikwels soos wanneer mens uit die fliek stap. Jy het in die fliek ’n ander wêreld beleef. Maar as jy uitstap in die helder daglig, dan verblind dit jou en voel jy skoon simpel dat jy so pas nog gesit en huil het vir ’n mooi storie. So kan die lewe ons ook verblind as ons by die kerk uitstap. Meteens is die rustigheid van die kortstondige ontvlugting daarmee heen.
So wat doen ons nou eintlik as ons kerk toe gaan?
- In die erediens vier ons fees. Dit beteken dat ons ophou werk en nou eers speel. Dit beteken dat ons vir ’n oomblik ophou vra wat kan ek hier regkry, watter doelwitte streef ek na, watter “deadlines” het ek, wat moet ek nou doen en al die ander vrae wat ons elke dag vir onsself in ons werksopset vra. In die erediens kom “doen” jy nie iets nie. Jy kom “wees” net. Jy gaan immers nie na `n partytjie toe om iets gedoen te kry nie! Jy gaan om sommer bietjie mens te wees, om so bietjie jou medemens te geniet, saam te lag en te kuier. Jy gaan om oor koeitjies en kalfies te gesels, klein dingetjies wat op die ou end baie belangrik is omdat dit die dinge is wat die lewe interessant maak, maar waaroor ons nie praat terwyl ons werk nie. Die erediens is ook so. Daar kom jy om mens te wees, met God te kuier, te gesels oor al die groot goed, maar inderdaad ook al die klein goedjies wat die lewe lekker of sleg maak. Al daardie dinge kom sit ons in die erediens voor God neer.
- Nou sit jy wel binne die erediens met dieselfde werksprobleme, huweliksprobleme of politieke probleme as daarbuite. Maar in die erediens leer jy om met ’n ander bril daarna te kyk. Vat ’n pak van 54 kaarte en jy kan daarmee brug speel. Vat dieselfde pak en jy kan rummy speel, of poker. Dit hang alles van watter reëls vir die spel geld. In die erediens leer ons om dieselfde kaarte, dit wil sê met dieselfde wêreld, hongersnood, siekte, werkloosheid, huweliksprobleem of wat ook al te hanteer, maar met ander reëls – Koninkryksreëls. Daar kies ons om na probleme uit ’n ander hoek te kyk en dit te sien as geleenthede vir God om vir ons nuwe kante van Homself te wys.
- Hierdie gesindheidsverandering teenoor probleme kan plaasvind as die erediens ook die plek is waar ons herinner word aan wat Christus klaar vir ons gedoen het, eens en vir altyd. Dit gaan daarom nie oor die oulike goedjies wat ons in die erediens doen of die goeie preke wat ons daar wil hoor nie. Dit gaan oor wat Christus gedoen het. Beteken dit dat ons hande afgekap is en ons geen rol het in die erediens nie? Natuurlik nie! Martin Luther het gesê dit werk soos ’n testament. Die persoon wat oorlede is het in sy leeftyd rykdom versamel en laat dit na sy dood na aan sy erfgename. Dit is dus nie die goedheid van die erfgename wat aan hulle hulle rykdom gee nie, maar die goedheid en hardwerkendheid van die een wat die erflating nalaat. Aan die ander kant, sê Luther, sal die testament nie in werking tree en die rykdom nie in die sakke van die erfgename beland as hulle nie sekere dinge doen nie. Hulle moet byvoorbeeld die prokureur besoek, die testament lees en die erflating In ontvangs neem. So werk die erediens ook. Die Here is daar om alles wat Hy vir ons verdien het deur die dood en opstanding van Jesus Christus aan ons uit te deel. Uit genade gebruik Hy wel menslike woorde en handelinge in die erediens om Sý werk te doen. Dis belangrik om in elke erediens te besef dat ons nie daar besig is om te offer aan die Here soos mens kos en geskenke vir ’n afgod neersit nie. Die offer is klaar op Golgota gebring vir ons! In die erediens wys God vir ons wat daardie offer van Christus beteken vir elke probleem of nood in ons lewens en ons wêreld.
- Die erediens is egter nie net die plek waar ons onthou nie, maar die plek waar ons tot in ons toekoms sien. Daar sien ons dat God nie klaar is met die wêreld nie, maar besig om dit te lei na die voleinding toe. Daarom is die erediens die plek waar ons God se beloftes ernstig opneem. Hierdie beloftes van God is soos ’n kragveld, ’n hoogspanningsveld van baie volts! Voor jy tou opgooi en besluit dat jy nou maar een maal niks aan jou eie en die wêreld se probleme kan doen nie, of voordat jy aan die ander kant die reg in eie hande wil neem en God se werk beter as Hyself wil gaan doen, is die erediens die plek om jou bekommernisse en twyfel heen te bring. Daar kom sit jy dit in hierdie kragveld van die beloftes van God neer waar die vonke spring en die volts reeds knetter.
- Dit is dus belangrik om nie in die erediens te probeer vlug van die wêreld daarbuite nie, maar om dit juis voor God neer te lê. En hoe doen ons dit? Vreemd genoeg, deur te kla! By God te kla oor die dinge in die wêreld wat nie in ooreenstemming is met Sy beloftes oor wat nog uit Sy hand aan die kom is nie. Dis die soort kla wat maak dat jy daar opstaan en buite iets gaan doen om die wêreld meer te laat lyk soos God se wêreld. Ek glo ons móét lofprysing hê, maar ons moet pasop dat ons nie loof asof ons al klaar in die hemel is nie. Ons is nie in die hemel nie, ook nie as ons Sondae in die kerk is nie. Daarom moet ons ook heilige klaagliedere laat opklink soos die Psalmdigters van ouds, sodat ons daarmee sê: die wêreld hoef nie te lyk soos hy lyk nie. En as ons loof, moet dit wees omdat ons weet dat God werklik ons klag hoor.
Iemand vertel dat hy dikwels voel hy wil vir God vra hoekom Hy al die siekte en hongersnood en pyn in die wêreld toelaat. “Nou hoekom vra jy Hom nie?” vra die ou se vriend. “Ek is bang Hy vra vir my dieselfde vraag!” kom die antwoord. Dit is hoe dit werk. In die erediens mág ons maar kla oor dinge nie is soos dit kan wees nie. Maar as ons uitstap, het ons die voorreg om iets daaraan te gaan doen. En dán sien ons, eers Maandag tot Saterdag, terwyl ons in die alledaagse lewe vir God dien, dat God Sondag in die kerk teenwoordig was. Dán weet ons Hy was in die kerk, want dan besef ons ons eie harte, hande en voete het tot bekering gekom. En dit gebeur nie vanself nie, dit gebeur mos net as God aan ’n mens raak.