Deur, Engo-aannemings, mediaverklaring
Engo is die grootste liefdadigheidsorganisasie van sy soort in die Vrystaat en bedien jaarliks meer as 200 000 mense in nood. Herkomsnavrae is een van die dienste wat Engo bied, en help met hierdie diens om ouers en kinders wat geskei is as gevolg van aanneming, weer met mekaar in kontak te bring. So kom daar genesing, vergifnis en hoop.
Hier is so ’n storie …
“Verbeel jou jy is 23 jaar oud, jy studeer nog, kom so pas uit ’n warrelwindromanse met ’n man wat jy weet jy nooit weer in jou lewe sal sien nie en jy vind uit jy is swanger. Dit was my lewe 25 jaar gelede. Wat maak ’n mens in so ’n situasie? Ek het gedoen wat vele jong vroue voor en na my gedoen het: eers wou ek dit nie aan myself erken nie – daar moet tog fout wees – en toe het ek met God begin stoei. ’n Mens kan dit seker nie anders noem nie. Nagte en dae is omgestoei en gebid en vrae gevra oor hoekom en waarom ek en hoekom nou? Ek moes nog so baie doen, maar het nog nie my eie geld verdien of my eie plek gehad nie.
As ek terugdink, was ek eintlik baie bevoorreg. Ek het ’n familie gehad wat my ondersteun. Ek kon met hulle hulp self my baba grootmaak sou ek wou. ’n Ou liefde het weer begin blom en daar is ek ook ondersteun. Maar, ek het duidelik besef dat hierdie bondeltjie binne my wat skop en saamgesels nie myne is nie. God het haar beplan vir iemand anders. Ek dra haar net en is geseënd om haar binne my te voel en te ervaar hoe sy groei en kommunikeer. Ek was en is so oneindig lief vir haar. Ek moes net doen wat die beste vir haar is. Ek het die maatskaplike dienste gekontak en hulle het my met die regte mense laat praat en ek het die dapper besluit geneem om my kindjie te laat aanneem deur iemand wat regtig die liefde van ’n eie kind nodig het en bereid was om daarvoor te veg al was politieke tye onseker en ons land in ’n warboel. Ek was nog meer dankbaar dat almal my besluit respekteer het, al het party redelik kapsie gemaak.
Die oggend van haar geboorte is tot vandag vir my in ’n waas. Ek onthou net die hospitaal, mense wat my bystaan en dan die pragtige fyn swartkopdogtertjie in my arms. Ek kon haar ’n klein rukkie in my arms vashou en kyk na elke vingertjie en toontjie en vir haar van my liefde vertel. Ek het haar ’n naam gegee en toe is sy weg uit my lewe. Sommer net so skielik soos sy deel daarvan geword het.
Ja, dit was erg moeilik daardie eerste paar maande. Ek het werk gekry by ’n restaurant en vir lang ure bitter hard gewerk. Sjoe, ek het haar gemis! Ek het immers vir ’n hele paar maande gereeld met haar gesels en selfs gespeel. Maar ek het steeds met God gesels en Hy het belowe om my by te staan en gesond te maak. En God het! Hy het my hart totaal genees. Ek het steeds na haar verlang en vir haar gebid, maar ek het ook geweet dat sy net vir my geleen was en dat sy was waar sy hoort – by ’n mamma en pappa wat God uitgekies het om na haar om te sien en vir haar liefde te gee.
Deur die jare het ek baie keer gewonder of sy darem na my lyk en of sy nog in die land is of ook weg na ’n vreemde land soos so baie. Ek het gewonder oor haar grootword en of sy gelukkig is. Toe ek my twee seuns van haar vertel het, wou hulle haar graag sien en het ek gewonder hoe ek te werk sou gaan om so iets diskreet reg te kry, maar het tog besluit dat ek die keuse om kennis te maak vir haar sou los. Later het ek besef ek kan net vir haar bid, dis al. Dit is die een voorreg wat ek behou het.
Toe, 24 jaar na haar geboorte, kry ek ’n oproep van ’n omie met ’n mooi stem wat vra of hy by die regte huis is en ek weet onmiddellik dat ek eintlik al baie lank vir daardie oproep wag. Dit het net so reg gevoel. Met wysheid van baie jare lei daardie omie my op ’n ontdekkingspad om my dogter weer te sien. Ek weet nog nie of ons ooit fisiek sal kontak maak nie, maar dit is ook nie die belangrikste nie. Ek kon vaskyk in die mooiste gesiggie met pragtige blonde hare. Ek kon uitvind dat sy toe wel in ’n pragtige gesin grootgeword het en versorg is deur ’n baie wonderlike mamma. Sy is ’n pragtige, gebalanseerde, selfversekerde jong vrou – mooier as wat ek kon droom of hoop.
My hart het weer ’n keer heel geword. God het stap een gedoen ’n klomp jare terug en my geseën met ’n stap twee ook. My hart is tevrede. Ek weet my kind leef en is gelukkig.
Sal ek dit weer doen as ek met al my kennis van nou kan terugkeer na destyds? Beslis, ja! Maar nooit sonder God nie. Hy is die volmaakte geneesheer. Deur my tydelike pyn het hy ’n ander vrou se innerlike pyn en verlange na ’n kind genees. Hy het my genees. Ek het hom vertrou met my kind en Hy het beter gesorg as wat ek kon vra.” – anoniem
Wat is Herkomsnavrae?
Herkomsnavrae is:
- Wanneer ’n aangenome kind navrae doen oor sy/haar biologiese ouers en inligting vra oor hul agtergrond en ook huidige omstandighede … En in sommige gevalle die wens uitspreek om die biologiese ouers op te spoor en hulle te ontmoet …
- Wanneer ’n biologies ouer navrae doen oor n biologiese kind wat jare gelede aangeneem is en inligting vra oor die kind se omstandighede en in sommige gevalle die versoek rig om met die kind herening te word …
- Familielede van n aangenome persoon όf van biologiese ouers kan ook in sommige gevalle navrae doen …
- Herkomsnavrae mag te enige tyd deur ’n aangenome persoon of ’n biologiese ouer van ’n aangenome persoon gerig word om sodoende inligting oor/foto’s van die ander party te bekom …
- Herkomsnavrae met die oog op ’n herontmoeting met die ander party mag egter net gedoen word nadat die aangenome persoon die ouderdom van 18 jaar bereik het.
Die proses:
- Wanneer navrae deur die Engo Maatskaplike Werker ontvang word, word dit baie vertroulik hanteer en opgevolg. Voorgeskrewe en toepaslike vraelyste word deur die navraer voltooi en aan die Engo Maatskaplike Werker voorsien.
- Die Engo-aannemings se databasis word nagegaan en indien daar rekord is word die lêer uit die argief aangevra.
- Waar moontlik word agtergrondinligting uit die lêer opgesom en aan die navraer voorsien.
- Persoonlike en vertroulike gesprekke oor die navrae kan ook met die betrokke Engo Maatskaplike Werker gereël word.
- Waar die navraer versoek dat die ander party opgespoor word met die oog op ’n herontmoeting, word navorsing gedoen en alle moontlike bronne geraadpleeg om vas te stel waar die ander party woon en wat sy/haar nuutste selfoonnommers is.
- Die Engo Maatskaplike Werker fasiliteer die proses deur eers self met die ander party te skakel (telefonies of persoonlik) om te hoor of hy/sy bereid is tot verdere skakeling en indien wel word daar eers dmv die Engo kantoor, briewe en foto’s uitgeruil totdat die punt bereik word waar die partye gereed is om mekaar te ontmoet.
- Die ontmoeting word dan deur Engo gefasiliteer/gereël ongeag waar in Suid-Afrika die ontmoeting sal plaasvind.
- Tydens die ontmoeting word selfoonnommers en adresse uitgeruil indien die partye sou wil.
Aangenome persone en biologiese ouers van aangenome kinders loop dikwels (ná so ’n aanneming) met baie vrae in hul binneste rond en weet nie altyd hoe om dit te benader of te hanteer nie. Herkomsnavrae is beskikbaar en word sterk aanbeveel vir aangenome persone en ook vir die biologiese ouers van aangenome kinders.
Die volgende basiese inligting moet voorsien word om die proses te begin:
- Volle name en van en ID-nommers van die aanneemouers; όf
- Volle name en van en ID-nommers van die biologiese ouers (soos dit was ten tye van die geboorte van die aangenome kind).
Die Engo-kantoor in Bloemfontein lewer hierdie diens en navrae kan gerig word aan willie@engo.co.za of magda@engo.co.za

