Deur Inné van Zyl, finalejaar-teologiestudent by Pellissier-gemeente
Kinderpinkster 2026 by Pellissier-gemeente en die daaropvolgende besoek aan Primêre Meisieskool Oranje is gekenmerk deur vreugde, lag en die boodskap van God se liefde toe Leon van Blêrfontein sy opwagting gemaak het.
Leon, die geliefde skaapkarakter uit Die Verlore Skapie-verhalereeks van Martin Schwella, het tydens die drie aande van Kinderpinkster by Pellissier-gemeente in sy volledige skaapuitrusting verskyn. Saam met kinderbedieningleiers het hy verhale uit die tweede reeks van Die Verlore Skapie uitgebeeld en vertel.
Elke aand het op ’n spesifieke tema gefokus. Kinders is onder andere geleer oor boeliegedrag deur die verhaal van Leon en sy vriend Tjoppie. Die boodskap is verder versterk deur Bybelverhale wat deur ds Rikus aangebied is, waaronder die bekende verhaal van Dawid en Goliat gebruik is. Deur die kombinasie van storievertelling, drama en Bybelverhale is die evangelie op ’n opwindende en toeganklike manier aan die kinders oorgedra.
Die week daarna het Leon ook ’n besoek aan die Primêre Meisieskool Oranje gebring. Hier het hy saam met Oranje-leerders twee verhale uit die eerste reeks van Die Verlore Skapie vertolk. Die kinders het met groot entoesiasme deelgeneem deur saam te sing, te dans en die Here te loof voordat die stories aangebied is. Ná elke verhaal is daar ook ’n vers vir die leerders geleer.
Talle drukkies is uitgedeel, pootstote is gegee en waardevolle gesprekke oor God se liefde het ontstaan. Die karakter van Leon help om Bybelse waarhede op ’n manier oor te dra waarmee kinders maklik kan identifiseer en wat hulle lank onthou.
Die Verlore Skapie-reeks bestaan uit drie volledige reekse en is geskryf om kinders op ’n kreatiewe manier van God se liefde te leer. Meer inligting oor die verhale is beskikbaar by Die Verlore Skapie-reeks.
Gemeentes en organisasies wat graag vir Leon na hul eie bediening wil nooi, kan ook die volledige Leon-uitrusting en toebehore by die NG Kerk Vrystaat Sinodale Kantoor huur. Só kan nog meer kinders die geleentheid kry om Leon se storie te beleef en die Evangelie op ’n vars en opwindende manier te ontdek.
| Foto’s is deur ds Rikus Hattingh, leraar van NG Pellissier-gemeente, verskaf.



