Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

KI én KI

Deur prof Laetus Lategan, tentmakerleraar verbonde aan die NG Gemeente Bloemheuwel

’n Internetspeurtog oor Kunsmatige Inseminasie (KI) bring ’n verrassende resultaat na vore: In die laat 1800’s was dié tegniek reeds aan die ontwikkel. In kort het KI die moontlikheid om nuwe lewe te skep en kinderlose egpare die hoop op ’n gesin gee. Dus: Lewe.

Nou is daar nóg ’n KI in omloop: Kunsmatige Intelligensie. Hierdie woord, wat gebruikstaal geword het (veral die Engelse ekwivalent “AI”), is jonger as ouboet (of is dit nou ousus?) KI. Dieselfde internetspeurtog verduidelik dat dié term in die middel 1950’s in omloop geraak het. Hìérdie KI kan nou wel nie “lewe” skep nie, maar gaan ’n verstommende impak op ons alledaagse lewe hê. KI het nou die kitsmanier geword om vining ’n antwoord op ’n vraag te kry. Of om kennis te skep sonder dat ’n mens ’n vername bydrae daartoe gehad het. ’n Meer tegniese verduideliking is om te sê dat rekenaars die vermoë het om te dink en te leer. Dus, hulle kan antwoorde gee. Ons sou ook kan sê dat rekenaars kan terugpraat. Van robotte sou dieselfde gesê kan word. Die verwagting is dat met die beskikbare sagteware waarmee hulle toegerus is, hulle kan dink, leer, praat en doen! Hierdie vermoëns is nabootsing van wat mense kan doen. Hulle denke is beperk omdat mense meer as net logika gebruik vir besluite en uitvoering van handelinge. Maar soos in ontwikkelingstudies van mense gesê word: Hulle (die rekenaars en robotte) het die potensiaal om dit (eendag) te kan doen.

KI, dit is nou die nagebootste kennisbron en kennisskepper, word wydlopend bespreek.

Vier sake in hierdie gesprek val my op:

Eerstens, groot stelle data kan nou geïntegreer en ontleed word. Dit help met voorspellings en vooruitskattings. Ekonome en medici is veral hieroor opgewonde. Vooruitskouings en diagnoses (kan) nou baie meer akkuraat word. Uit hierdie oord word die vraag wel gevra of beroepslui, studente en Jan en San Publiek werklik voorbereid is om besluite te kan neem op grond van die inligting wat nóú beskikbaar is. Dus, die kollig verplaas nou na ’n besondere funksie van menswees: die kritiese vermoë om besluite te kan neem. Verder, resultaat (data), konteks (leefwêreld) en toepassing (haalbaarheid) moet mekaar nie weerspreek nie.

Tweedens, vir baie jare is die waarderende stem vir die mens as “arbeider” gehoor. Arbeid adel is ’n spreekwoord. Nog een was “homo faber” – die skeppende mens. Hiérdie mens kon ook met sy of haar vaardighede die leefwêreld beheer. Nou is die werksomgewing anders. Meer kreatiewe maniere van doen. Vinniger werk. Gouer resultate verkry. Maar die bekommerde stem is: wat word van die “mens” as méns in hierdie nuwe werksomgewing? Die mens word al hoe meer gesien as van mindere belang in die werkplek. Dit hang saam met die Vyfde Industriële Revolusie wat ’n reaksie op die Vierde Industriële Revolusie is. Die rekenaar, masjien en robot moet dit oorneem waarmee die mens nie belas hoef te word nie. Mense hoef dit nie te doen nie. Die mense kan egter nie uitgefaseer word nie. Nee, los “sleurwerk” vir die rekenaar, die masjien en die robot – en gee die kreatiewe werk vir die mens. Hiermee word ’n plek vir die mens gereserveer in die nuwe wêreld van werk. Maar ook vir die “masjien” of “robot”. Dus, nie die mens uitfaseer nie, eerder beter aanwend, om dit in meganiese taal uit te druk.

Derdens, meer stemme gaan op teen die moontlike gevolge en misbruik van die vermoëns van KI. Het ons die vermoë om te onderskei tussen eie moraliteit en dié van die nuwe bron van kennisskepping? Tobie Walsh vra juis die vraag: Kan masjiene en robotte met verantwoordelikheid optree (Machines behaving badly: The morality of AI. LaTrope University Press, 2022). ’n Australiese studie neem dit nog ’n stap verder: is dit aanvaarbaar vir robotte om te jok? Die uitkoms het ’n verrassende antwoord: onder sekere omstandighede wel! (Stine Johansen, If robots could lie, would we be okay with it? A new study throws up intriguing results. The Conversation, 5 September 2024.) Is dit die ouer etiekboeke se krisiswaarheid? (In die krisis skep jy ’n waarheid wat moreel geregverdig kan word.) Bogenoemde artikel stel ’n dieperliggende vraag: is jok enigsins eties aanvaarbaar?

Vierdens, noudat ons die teoretiese moontlikheid het om kennis op kennis tot die oneindige te skep, bly die vraag: wat maak ons daarmee? Sou die Prediker se opmerking dat daar nie ’n einde kom aan die skryf van boeke nie en dat te veel studie die liggaam ooreis (Prediker 12:12) dalk in ons dag opgeteken sou word as: Inligting word net meer en meer; te veel inligting oorweldig die mens? Of dalk die teenoorgestelde: Waarom die moeite om te dink en te doen? Los dit vir die robot!

Hoe bring ons nou KI én KI bymekaar? ’n Moontlike antwoord kan gevind word oor wie en wat die mens is. Psalm 8 het die tydlose antwoord gegee. Die mens is nie maar “toevallig” nie. Nie in KI óf KI nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN