Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

John Kololo – staatmaker en vertroueling

Deur Mariëtte Odendaal

“Wanneer dit tyd was vir die destydse jaarlikse sinodale kommissievergadering, is daar altyd in die portaal van die Sinodesaal tee en verversings aangebied. Dan het John ’n das aangesit, sy wit stofjas aangetrek en reg agter die kokende urn gaan staan en na homself as die ‘saakgelastigde se agteros’ verwys, terwyl hy die aandag van die teedrinkende broers terdeë geniet het.”

 Mnr André Esterhuizen
Eertydse saakgelastigde

Ons stap daagliks in pragtige geboue, blinkgepoetste huise en kantore in en besef dikwels nie dat daar ’n toegewyde mens en baie harde werk daaragter sit nie.

As ’n mens in die gange van ons Sinodale Kantoor in Bloemfontein instap, sal jy dalk op Girly Seyoko afkom wat al vir meer as 35 jaar sorg dat ons vloere blink en ons kantore sonder stof is. Daar is egter ’n interessante storie agter Girly se betrokkenheid by ons sinode wat by haar oupa, John Kololo, begin het.

Mnr André Esterhuizen, eertydse saakgelastigde, vertel: “Toe die bekende dr SJ (oom Fanie) Naudé op 6 November 1920 by die Vrystaatse Kerk begin werk het en nog’n alleenloper was, het John Kololo by die Sinodale Kantoor begin werk en ook sommer vir oom Fanie in sy blyplek gehelp.

“Nadat oom Fanie getroud is, het John se vrou, Maggie, by die Naudé’s aan huis begin werk tot, sover ek weet, met haar afsterwe.

“John was ongeveer vanaf 1920 in diens van die Sinode Vrystaat totdat hy iewers in die tagtigerjare, steeds in diens van die kerk, gesterf het.

Hy was aanvanklik as gewone skoonmaker aangestel en het later die verantwoordelikheid van hoofskoonmaker op sy skouers geneem.

“Buiten hierdie werk was hy ook die persoon wat daagliks, met sy fiets op pad werk toe, die kantoor se pos by die poskantoor gaan haal het. Wanneer die personeel dus soggens by die kantoor ingestap het, was die pos reeds daar en gereed om oopgemaak te word.

“John het ook die hele gebou se sleutels gedra en was daarvoor verantwoordelik om soggens die kantore oop te sluit sodat die ander skoonmakers kon begin skoonmaak voordat die personeel op kantoor was. Hy het ook gesorg dat die hele gebou se kantore gesluit was wanneer uitskeityd smiddae aangebreek het.

“John was ’n besondere mens; hy was opreg, eerlik en altyd betyds – iemand op wie ’n mens kon staatmaak. Hy het ook ’n heerlike sin vir humor gehad.

“Wanneer dit tyd was vir die destydse jaarlikse Sinodale Kommissievergadering, is daar altyd in die portaal van die Sinodesaal tee en verversings aangebied. Dan het John ’n das aangesit, sy wit stofjas aangetrek en reg agter die kokende urn gaan staan en na homself as die ‘saakgelastigde se agteros’ verwys, terwyl hy die aandag van die teedrinkende broers terdeë geniet het.

“Wanneer dit Kersfeestyd geword het, was daar die gewoonte dat die skoonmakers altyd kom vra het: ‘Waar is my krismis?’ Die bedoeling was dan dat ’n mens vir hulle iets as kersgeskenk sou gee. Eendag het ek egter besluit om hom voor te spring en voordat hy nog iets kon sê, het ek hom gevra: ‘Waar is my krismis?’ Hy het my so ’n rukkie aangekyk en toe baie ernstig geantwoord: ‘OK, ek sal môre vir jou ’n ou hemp bring.’ Agterna het ons twee baie lekker saam daaroor gelag.”

Mag ons altyd met erkenning en respek na die mense kyk wat daagliks sorg dat ons plekke van werk skoon en netjies is.