Deur Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer
Min dinge kan die mensdom so aangryp soos ’n diertjie wat om een of ander rede swaarkry en dan gehelp of gered word. Een van hierdie verhale het hom die afgelope paar maande oor verskeie sosiale media-platforms afgespeel en gryp steeds die verbeelding van miljoene mense regoor die wêreld aan. Dit is die tragiese verhaal van die sewe-maande oue “Punch”, die klein sneeu-apie wat in ’n Japanse dieretuin gebore is en later deur sy ma verwerp word. Die tonele waar klein Punch deur sy ma met ’n ferm hand weggestoot en selfs weggeklap word, het miljoene mense se harte aangeraak. Klein Punch het ’n simbool van hoop geword in ’n tyd waar die soeke na onvoorwaardelike liefde en ’n gevoel van veiligheid al hoe groter word.
Vir die diereryk heers daar wrede natuurwette, terwyl ons tans die moontlikheid van ’n uitgebreide oorlog in die Midde-Ooste in die gesig staar. Klein Punch leer vir ons van hoop in tye van teëspoed, want dié klein apie klim elke oggend uit ’n beton-skuiling terwyl hy sy opgestopte Orangoetang vasklou. Met lewendige ogies trotseer Punch elke dag die trop vyandige volwasse ape in die groot kamp van die dieretuin met ’n geloof dat elke nuwe dag beter sal wees as gister.
Ons is in hierdie tye bevrees en sukkel om wêreldleiers te vertrou in afwagting vir die toekoms. Tog het ons net een troos, om na ons Ewige Verlosser se Hand te reik en aan Sy genade vas te klou. ’n Lewendige God wat belowe het dat Hy ons nooit alleen sal laat nie, selfs in tye van onsekerheid en nood.
Ek sien hoe klein Punch sy sagte speelding al agter hom aansleep deur die groot omheinde kamp en veiligheid vind in dit wat die naaste aan hom is. Sy storie is nog lank nie klaar nie, want die klein apie het geleer “aanhouer wen” en dit selfs reggekry om maats met van die groter ape te maak. Sekerlik een van die beste voorbeelde in die Bybel wat smart en terugslae verpersoonlik, was Job. Tog het hy deur sy lewe altyd nabyheid gevind in sy Ewige Verlosser, die God van hemel en aarde. In Job 19:25-26 verklaar Job dat hy weet sy Verlosser lewe. Job se boodskap is ook dat selfs tydens die ergste ontberinge op aarde, God alleen verlossing en regverdigheid bring vir dié wat in Hom glo. Hoe goed is dit nie om te weet dat Ons Almagtige Vader in beheer van elke gebeurlikheid op aarde is nie. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie (Hebreërs 13:5).

