Deur ds Michael Rautenbach, emeritusleraar | Retreats Netwerk
Waarskynlik byna elke dominee, VDM, wat poog om die wil van die Here in die gemeente na te volg, beleef hoe ander leraars hulle teen die wêreld vasloop, en wonder: Wanneer is dit my beurt? En toe gebeur dit skielik, onverwags, en dit voel asof ’n bom binne jou wêreld ontplof het en net ’n leegte het oorgebly. Voorgee soos jy wil, maar uiteindelik moet jy maar erken, ek én my vrou was ten gronde.
Gelukkig kom daar ’n aanbod om vir ’n paar dae in die natuur net buite Ficksburg op Mooiplaas te gaan asem skep. En die bonus dat dit saam met ’n ou klasmaat, Waldemar Stumpfe is. Bloot die natuur en stilte was reeds genoegsaam om ’n mens rustigheid te gee. Die geleentheid was daar om aan God se voete te kan sit en jou te verlustig in Sy teenwoordigheid. Daarbenewens was die tyd en sessies saam met Waldemar lerend en helend. Dit het my en my vrou verfris, nuwe hoop by ons laat opvlam en ons opnuut perspektief gegee op ons eie menswees en roeping.
Ek en Melinda het Sondagmiddag op die plaas arriveer, rustig afgepak en mekaar weer leer ken, en gehoor van die proses wat vir ons voorlê.
Elke oggend begin om 06:00 met stiltetyd en meditasie op die stoep wat uitkyk oor die plaas. Ons het ook elke aand met so ’n sessie afgesluit. Hierdie sessies het met ’n proses van groei verloop; daar was temas van liefde, swaarkry, rus en dankbaarheid. Dit was onbeskryflik sinvol. Ons het opnuut besef die plek waar ’n mens jou genesing moet begin, is by God. Die wyse waarop Waldemar die stiltetyd-sessies hanteer het, was vir my werklik besonders.
Waldemar het afsonderlik en gesamentlik met ons sessies gehad waarin die seer in ons lewe hanteer is. Vir my persoonlik was dit baie goed, omdat ek die werklikheid van my seer kon hanteer en uiteindelik opnuut kon ontdek wie ek voor God is en wat my spesifieke roeping op die pad vorentoe is. Dit het my laat besef dat God met geen krisis in ’n mens se lewe onnkant gevang word nie, Hy is altyd ’n stappie voor.
Die proses waarin Waldemar, die enigste “Gereformeerde Gipsy”, sy kaarte gebruik het, was vir beide van ons verstommend. Ons het werklik opnuut ons roeping ontdek en geweet dat God reeds besig is om ons pad vorentoe soos ’n legkaart in plek te laat val.
Die een dag van rus op jou eie met God, die hele dag, het ek self as onvergeetlik ervaar. Om onbevange, sonder enige druk van buite, jouself oor te gee aan die liefde van God en toe te laat dat Hy jou versorg.
Soos met enige versorging- of helingsproses, kan hierdie ervaring alleen van langtermyn-waarde wees indien die “dokter” se nasorg gevolg word.
Omdat ek en my vrou dierevriende is, was die teenwoordigheid van Wollie, die mooiste hond in die wêreld, die swart kat en die hoenders wat ’n draai maak in die kombuis, deel van die helingsproses. Ons het almal saam ’n hegte familie gevorm vir die tydjie saam.
Die akkommodasie was uit die boonste rakke.
Aangesien hierdie retraite ’n eensmansprojek is en Waldemar homself voluit daarvoor gee, kan ek nie sien hoe hy dit vir meer as een paartjie op ’n slag kan aanbied nie.
Ek glo dat dit wat ek en my vrou op Ficksburg saam met Waldemar ervaar het, tot iets besonders in die Vrystaat kan ontwikkel. Ons sal dit aanbeveel vir enige mens wat hulle vasgeloop het in die seer van die wêreld. Dit was kosbaar en sal vir altyd gekoester word.
Navrae
Vir enige navrae of meer inligting, kontak gerus vir ds Waldemar Stumpfe, sameroeper van die Retreats Netwerk, by 0201WGS@gmail.com
| verskaf deur: ds Michael Rautenbach, emeritusleraar