Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gehoorsaamheid maak saak…

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het…  En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.”

(Matteus 7:24, 26)

In sy bergrede leer Jesus ons hoe om ‘n etiese lewe – ‘n lewe waardig van God se koninkryk – te lei.  Só leer Hy ons om: Die ander wang te draai, ons vyande lief te hê, met nederigheid armes te help, in opregtheid God te aanbid en om die dag van môre nie te vrees nie.  Dít is om enkele voorbeelde te noem.

Aan die einde van die bergrede vertel Jesus hoe twee mense elkeen ‘n huis gebou het.  Die een huis is op rots gebou en die ander een op sand.  Wind, reën en vloedwaters het gekom en die bouwerk getoets.  Die huis op die rots het stewig bly staan, maar die huis gebou op sand is in puin gelê.

Uit die gelykenis is dit duidelik dat dit nie ons woorde, oortuigings of kennis is nie, maar ons optrede wat die hardste getuig van ons verhouding met die Here.  Die huis op die sand was dalk ‘n mooi en gemaklike woning, maar dit was nie op die fondament van gehoorsaamheid gebou nie.  Daarom kon dit nie standhou nie.

Hierdie gelykenis dwing ons om onsself die vraag te vra: Waarop is my huis gebou – op rots of op sand?  Waarop rus die fondasie van my lewe – op gehoorsame onderwerping aan God se Woord of ongehoorsaamheid en kompromie?  Moenie ‘n fout maak nie, ons bouwerk sal getoets word (1 Korintiërs 3:9-15). 

Mag die Heilige Gees ons tot selfondersoek en – as dit moet – tot verootmoediging help.

Foto verskaf:  Ds Gerber Roux, leraar van NG Gemeente Hospitaalpark.
116 | Maatskaplike NOODLYN