Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Die verskil in die openbaring
As ons hier kyk na die verskil in openbaring van die God van die Bybel en Allah, dan kyk ons nie in die eerste plek na die openbarings in onderskeidelik die Bybel en die Koran nie, maar na die aard van die God/god wat daarin geopenbaar word. Buitebybelse godsdienste het almal een saak gemeen: ek moet self my saligheid verdien. My hele lewe wentel om die vraag: Hoe kan ek my god/gode tevrede stel? Hoe kan ek hulle beïndruk? Wat kan ek doen om in hulle goeie boekies te kom en daar te bly? Dit gaan om ‘n voortdurende poging om op te klim na god.
Hindoeïsme is ’n voorbeeld van ‘n buitebybelse godsdiens wat hierdie punt illustreer. Lochhaas[1] vat die godsdienstige uitkyk van die Hindoe in ‘n paar sinne saam as hy sê: “Reincarnation and Karma govern his life. The inevitable results of each individual’s actions are added up during his lifetime, and, after death, are visited upon him in the shape his next incarnation takes. Sooner or later everyone works himself, through successive incarnations, into the Brahmin caste, …”.
Hindoeïsme is onder andere ‘n godsdiens waar ek voortdurend die miljoene gode tevrede moet hou; ‘n godsdiens van selfpyniging. Dit illustreer die punt dat volgelinge van ander gelowe daarop ingestel is om self hulle heil uit te werk. Hulle lewens word oorheers deur die refrein: “Ek moet …, ek moet … !”. Dit gaan oor die mens wat poog om op te klim na god.
Wat die Boeddhisme betref, kan kortliks gesê word dat daar vir hulle ‘n “Agtvoudige Pad” is wat gevolg moet word om Nirvana te bereik[2]. Hierdie Agtvoudige Pad is in wese met drie dinge gemoeid, naamlik met moraliteit (regte spraak, regte aksie, regte beroep); met geestelike dissipline (regte inspanning, regte opmerksaamheid, regte kalmte); en met insig (regte kennis, regte houding).
Vir die Moslems is dit noodsaaklik om die vyf pilare van Islam getrou te onderhou. Die eerste pilaar is die pilaar van geloof wat in kort ook die uitspreek van hulle geloofsbelydenis behels. Daarin word bely dat Allah die enigste god en Mohammed sy enigste profeet is. Die tweede pilaar is dié van gebed wat onder andere met rituele wassinge gepaard gaan. Derdens is daar die pilaar van liefdadigheid. Dit bestaan uit aalmoese wat aan armes en siekes gegee word. Hulle sien dit selfs as ‘n lening aan god. Vierdens is daar die Ramadan, die maand per jaar wat hulle moet vas. Laastens moet elke manlike Moslem wat gesond is en wat finansieel daartoe in staat is, ten minste een maal in sy lewe ‘n pelgrimstog na Mekka onderneem.
As jy die ewige saligheid wil beërwe, moet jy meer goeie as slegte dinge in jou lewe doen. As jy voor Allah verskyn, sal al jou goeie en jou slegte dade op ‘n skaal geplaas word en die dade wat die swaarste weeg sal jou ewige lot bepaal. In die Koran, hoofstuk 7:8,9 staan daar: “The balance that day will be true (to a nicety): Those whose scale (of good) will be heavy, will prosper: Those whose scale will be light, will find their souls in perdition, for that they wrongfully treated Our Signs” (The holy Quran, 1946:342).
Dit is dus duidelik dat dit hier daaroor gaan dat ‘n mens uiteindelik self sy heil moet uitwerk. Die mens se eie pogings is deurslaggewend. Die kardinale saak waaroor dit in hierdie godsdiens gaan, is dat die mens deur sy eie pogings probeer om op te klim na god.
Die God van die Bybel is egter heeltemal anders as al die ander (af)gode. Die groot onderskeid tussen die Christelike godsdiens en die ander is dat die ander godsdienste in kern daarop neerkom dat die mens moet opklim na God, terwyl ons as Christene glo dat God Homself openbaar as die God wat na die mens neergebuig het.
Om op ‘n vanselfsprekende plek te begin, kan ons sê dat God na die mens neergebuig het toe Hy die mens geskep het. God het na die mens neergebuig toe Hy hom reeds voor die skepping uitverkies het (Efesiërs 1:4). God het na die mens neergebuig toe Hy met Abraham ‘n verbond gesluit het (Genesis 12, 17). In Genesis 3 vind ons hoe God na die mens neerbuig selfs ná die sondeval. Dit is nie die mens wat, nadat hy sy fout met die sondeval agtergekom het, na God vlug nie, inteendeel, hy vlug weg van God af. In Genesis 3:8 lees ons: “Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.” Dit is dan belangrik om te sien hoe God die inisiatief neem om die breuk reg te stel wat die mens se sonde tussen Hom en die mens gebring het. Dit is God wat na die mens neerbuig en na hom roep: “Waar is jy?” (Genesis 3:9).
Die duidelikste teken van hoe God na die mens neergebuig het, is toe Hy self mens geword het in Sy Seun Jesus Christus. Hoe Hy Homself verneder het tot die gestalte van ‘n slaaf (Filippense 2:5-8) en vir ons gesterf het aan die kruis.
In die Koran buig Allah nie neer nie. Hy openbaar slegs sy wil deur ’n engel (Jibril). Die Islamitiese openbaring is woord-gebaseer, nie persoon-gebaseer nie. Gevolglik is ’n groot verskil tussen die God van die Bybel en Allah dat die Here na ons neerbuig in genade terwyl Allah van die mens verwag om hom tevrede te stel. Die Christelike openbaring gaan oor God sélf, terwyl Allah se boodskap die Islamitiese openbaring is.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za
[1] Lochhaas, P. H. 1979. How to respond to the eastern religions. Concordia Publishing House: Missouri.
[2] Metz, W. 1989. Die verligte een: Boeddhisme. In: Godsdienste van die wêreld: Struik Christelike Boeke: Kaapstad.
’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die verskil tussen die God van die Bybel en Allah: Die verskil in die openbaring.

