Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Maandag 10 Februarie

Vanoggend se nuus laat my deeglik besef hoe tydelik hierdie lewe is, want die dood was ’n realiteit binne-in ons gemeente hierdie laaste twee weke. Ds Gerrie Cwi staan ’n kleindogter af aan die dood – ons broer ds Gerrie Cwi en sy familie is die afgelope twee weke deur baie diep waters nadat hulle seun se babadogtertjie skielik oorlede is een nag op De/nui waar hulle woonagtig is. Bid asseblief vir Gerrie, Tiqua en hulle familie.

Geliefde dienares van die Here sterf

U sal onthou dat ons in verlede jaar gevra het dat u vir ouma Bertina sal bid, ouma Bertina wat vir my so ’n mooi voorbeeld was van iemand wat die wedloop voluit hardloop tot op die einde. Sy was een van die eerste kerkraadslede van Luhebu-Noord wat ek vyf jaar terug ontmoet het. Sy het baie moeilik geloop, maar het elke erediens, elke vergadering, elke biduur bygewoon. Sy het ver gestap om daar te wees, maar in die samekoms van die gelowiges het sy haar tuiste gevind.

 | verskaf: Ouma Bertina Chimwonga van Mangeti Duin, getroue dienares van die Here, gaan na haar Vaderhuis

Selfs toe die kanker haar liggaam sleg begin affekteer het en haar regterarm laat opswel het, het dit haar nie gekeer om ’n Nuusdraer en ’n Getuie te wees na haar mense in Boesmanland nie. As die bakkie se wiele draai om ’n habitat te gaan besoek, dan was ouma Bertina die eerste een om saam te ry, sodat sy kan gaan getuig van haar Here. Ouma Bertina is woonagtig in die suid-ooste van Angola. Ná die Angolese vryheidsoorlog het sy en haar man saam met die ander Vasikela-mense gevlug en hulle dienste gaan aanbied aan die SAW op Omega in die Caprivi-strook.

Haar man is jare terug oorlede en sy het alleen verder die pad gestap. Ds Amon Petrus het Saterdag die begrafnis van ouma Bertina behartig, maar met haar, net soos met soveel ander geliefde broers en susters, is dit nie totsiens nie, maar – tot ons weer sien. Die gemeente is in rou ná ouma Bertina se afsterwe – bid asseblief dat die Here haar nalatenskap sal gebruik tot eer van Sy naam en tot uitbreiding van sy Koninkryk hier op aarde.

Beheerraad-vergadering

Die Beheerraad van DEGNOS het Maandagaand 3 Februarie oor die lugweë ontmoet en tydens die vergadering is die begroting vir die 2025/2026-boekjaar goedgekeur. Soos elke jaar vantevore sit ons op die begroting die uitgawes vir die aktiwiteite wat ons glo moet plaasvind, en dan vertrou ons vir die inkomste op ons Here. En nog nooit het die Here nié voorsien in ons behoeftes nie. Elke keer het Hy dit nog gedoen deur die hande en harte van getroue ondersteuners van DEGNOS. Vir elke ondersteuner se getrouheid is ons dankbaar. Ons loof en prys ons Here en ons God vir sy getroue versorging van hierdie bediening.

Ds Regina Nauses bring troos aan ‘n familie waar ‘n jaar-oue tweeling sterf

Ds Regina was die vorige naweek uit in die omgewing rondom Henta, waar sy plaasbesoekke gedoen het. Sy vertel hulle was ook op Muraranie waar sy ’n bedroefde familie besoek het wat ’n jaar-oue tweeling aan die dood afgestaan het. Die omstandighede is anders as in ’n dorpsgemeente, maar die emosionele en geestelike eise op ons predikante is ’n swaar las. Bid asseblief vir elkeen van die predikante in hierdie bediening, bid sommer ook vir u eie predikant wat ook daagliks gekonfronteer word met die realiteite van die lewe en die dood.

Die dood het sy angel verloor. Dankie, Here Jesus.

Steeds Maandag 10 Februarie 2025

Vandag was een van die moeilikste dae wat ons nog in hierdie bediening beleef het. Ons bakkie wat op Mangetti Duin gestasioneer is, was in ’n groot ongeluk waar die voertuig 25 km buite Tsumkwe die pad verlaat en gerol het. ‘n Seun (14) en ‘n kleindogter (16) van ds Isak Chameia is oorlede tydens die ongeluk en die res van die beseerdes, insluitend ds Isak en Jesaja, die drywer, is per ambulans vervoer na Grootfontein-hospitaal (260 km weg).

Om sake te vererger, het die een ambulans wat uit Grootfontein gestuur is, op pad na die ongelukstoneel ook die pad verlaat en omgeslaan, maar geeneen van die mediese personeel is ernstig beseer nie. Bid asseblief vir die families en naasbestaandes van die kinders wat gesterf het en diegene wat beseer is in die ongeluk.

Dinsdag 11 Februarie 2025

Gister was vir ons moeilik en vandag sal ook moeilik wees. Ons het ’n geskeduleerde kerkraadsvergadering wat vandag moet plaasvind vir die Luhebu-Noord-gemeente, wat ek ná gister se ramp wou afstel, maar die kerkraad van die gemeente het gevra ons moet voortgaan.

In tye van nood soek ons mekaar op as gelowiges!

Prediker 3 sê daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te lag, maar dan is daar ook ’n tyd om te treur en te huil. Vandag is dit ‘tyd om saam te treur’, te treur oor die afsterwe van ons geliefde ouma Bertina, oor die afsterwe van ons gemeentekinders, te treur saam met ons broer en sy vrou en hulle verlies. 

Vandag moet ons ook mense aanry van regoor die Na#jaqna-bewaringsgebied se 10 000 vierkante kilometer. Ons ry hulle aan sodat ons saam kan vergader, saam kan huil en saam besluite kan neem vir die gemeente. Alex (my seun) sal vanoggend van Grootfontein af vertrek om kerkraadslede van Omatako, Ruskamp en Kanovlei aan te ry en ek sal van Luhebu, Mkata en omliggende habitatte af verteenwoordigers aanry na Mangeti Duin.

Om die situasie nog verder te bemoeilik, reën dit hier by ons van rondom 02:00 vanoggend af aaneen. Dit beteken die grondpaaie gaan nat en glad wees. Bid asseblief vir ons byeenkoms, vir die veilige vervoer van mense en bid asseblief dat ons in ons samesyn vandag mekaar ook sal bemoedig en ondersteun. Bid ook vir ds Isak en sy vrou, Teresia, en die hele Chameia-gesin. 

DEGNOS-groete uit ’n nat Mangeti Duin

 | verskaf deur: Andries Gous, DEGNOS.