Dit is ’n helder dag in Blêrfontein, en Leon se hartjie voel lig soos hy deur die strate stap. Sy gedagtes dwaal na die “wedloop” waarvan tannie Êna hom vertel het, en hy dink aan God se cool bril – die bril wat jou help om met wysheid en liefde die wêreld raak te sien. Leon glimlag. Hy probeer hard om net die regte ding te doen vir die Herder.
Soos wat hy stap, vang iets sy oog. Voor hom stap ’n deftige bul, breedgeskouerd en selfversekerd, met ’n stylvolle uitrusting en glinsterende skoene. Leon kyk beïndruk na die bul. “Wow, daardie ou lyk cool!” dink hy. Net so vinnig as wat Leon hom verkyk, verdwyn die bul om die draai.
Leon stap verder, maar toe stamp sy poot teen iets. Hy struikel amper, maar kry sy balans net betyds terug. Hy kyk af en sien tussen sy pote ’n beursie en ’n blink sonbril lê. Hy tel dit op en sy oë rek van verbasing – die beursie is vol geld! En die sonbril … dis beslis cool.
“Wie s’n kan dit wees?” wonder Leon hardop en kyk rond. Niemand is naby nie. “Dit moet daardie cool bul s’n wees,” besef hy. Leon draai dadelik om en begin stap in die rigting waarin die bul verdwyn het.
Maar toe, soos ’n fluister in sy gedagtes, begin nuwe idees by hom opkom.
“Daardie bril sal só cool lyk op my,” dink hy.
“En kyk net na al hierdie geld! Dink aan al die lekker dinge wat ek daarmee kan koop!” gaan Leon se gedagtes voort.
“Die bul sal dit nie eers mis nie, hy het mos baie meer,” probeer die gedagte hom oortuig.
Leon stop. Sy hart klop vinnig. Hy weet dit is nie reg nie, maar die versoeking voel aanloklik. “NEE!” roep hy skielik uit. “Dit is nie myne nie, en ek wil nie iets vat wat nie aan my behoort nie!” sê hy hardop, asof hy die gedagtes wil verjaag. Hy kyk na die bril en die beursie in pote. “God se bril is baie cooler as enige ander ding,” sê hy ferm.
Leon dink terug aan al die kere wat God se wysheid hom gehelp het om reg te kies, en sy moed groei. “SKOERT verkeerde gedagtes! SKOERT!” blêr hy en begin hardloop in die rigting waarin die bul gestap het. Hy wil hierdie saak regmaak, dadelik.
Daar voor sien hy uiteindelik die bul stap. “Oom! Oom! Blêr!” roep Leon en waai sy poot. Die bul kyk om en sien vir Leon na hom toe aanstorm. Toe hy die bril en beursie in Leon se pote sien, glimlag hy breed.
“Hahaha! Ai, jong lam, baie dankie!” sê die bul.
Leon oorhandig die bril en beursie. Die bul kyk in die beursie en merk dat alles nog daar is.
Hy knik waarderend vir Leon. “Jy is cool, lammetjie – baie cool!” sê hy en gee vir Leon vyf geldnote uit die beursie. “Gaan kry vir jouself iets net so cool soos jy!” sê die bul en stap verder.
Leon staan verstom. Hy het niks terug verwag nie, maar die bul se vriendelikheid vul sy hart met blydskap. Hy kyk op na die wolke en glimlag. “God se bril is beslis die coolste!” dink hy.
Daardie dag het Leon ’n waardevolle les geleer: om die regte ding te doen, al versoek verkeerde gedagtes jou, is altyd die moeite werd. God se pad is baie beter en cooler as enigiets wat die wêreld jou kan bied. Maar dit sien jy eers ná jy dit kies.
Leon stap verder met ’n glimlag – hy is dankbaar en meer oortuig as ooit om sy wedloop met integriteit te hardloop.
‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.
