Skip to content Skip to footer

Dit was ’n sonnige dag in Blêrfontein, en Leon het besluit om vir Tjoppie te gaan soek. Hy stap vrolik deur die strate totdat hy Tjoppie hoor sing:
“Blêr! Skud jou wolle rond!” Maar Tjoppie klink geïrriteerd.

Toe Leon nader kom, sien hy iets snaaks: Tjoppie sit op die grond met een poot agter sy rug. Sy ander poot hou breipenne vas, en hy is vasgemaak in baie wol. Leon stop, draai sy koppie skuins en vra:
“Tjoppie, wat doen jy? Dit lyk of jy in ’n wolgeveg was!”

Tjoppie sug. “Ag, Leon, ek kan nie sê nie! Dis ’n geheim.”
“’n Geheim? Lyk vir my jou geheim het jou gevang!” lag Leon.
“Man! Blêr! Help my net!” roep Tjoppie ongeduldig.

Leon spring in en help Tjoppie om al die wol van hom af te haal. “Reg, nou kan jy sê. Waarmee was jy besig?” vra Leon nuuskierig.

Tjoppie kyk skaam na Leon. “Ek wou truie brei vir diere wat nie sulke lekker wolle soos ons het nie, sodat hulle ook warm kan bly in die winter.”
“Dis ’n wonderlike idee! Maar hoekom wou jy dit ’n geheim hou?” vra Leon
Tjoppie antwoord ernstig: “In Matteus 6 staan daar dat ons nie moet spog met ons goeie dade nie. Dit moet tussen ons en die Herder bly.”
Leon knik, maar hy verstaan nog nie heeltemal nie. “Goed, maar hoekom het jy dit met een poot probeer brei, my blêr? Dit lyk of jy sushi eet!” grap hy.

Tjoppie vervies homself. “In Matteus 6 staan ook dat jou regterhand nie moet weet wat jou linkerhand doen nie. Daarom het ek my een poot agter my rug gehou!” sê Tjoppie trots.

Leon begin lag, en lag so hard dat hy amper nie kan ophou nie. “Ek is jammer, Tjoppie,” sê Leon tussen sy lagbuie deur, “maar jy verstaan daardie vers verkeerd. Dit beteken nie jy moet met een poot brei nie! Dit beteken net dat jy nie goeie dade moet doen om ander se aandag te trek nie. Ons moet dit vir die Herder doen.”

Tjoppie bly stil, dink ’n oomblik, en toe begin hy lag. “Ooo, nou verstaan ek! Ek het alweer bietjie te letterlik gedink!”

Leon glimlag. “Kom ons gaan vra vir Juffrou Katryn Kat om ons altwee behoorlik te leer brei. Sy is mos die beste.”

Leon het aangebied om deel te wees van Tjoppie se plan en hulle twee gaan klop toe aan by Juffrou Katryn Kat, en sy lag lekker toe sy hoor van Tjoppie se “een-poot-tegniek.” Sy wys hulle hoe om reg te brei, en daardie winter het Leon en Tjoppie elkeen ’n hele paar truie gebrei vir diere in nood.

Hulle het die truie in stilte gaan aflewer, en niemand het ooit geweet wie dit gebrei het nie. Maar Leon en Tjoppie het geweet: hulle het dit vir die Herder gedoen.

Al was Tjoppie se bedoeling opreg en het hy ’n baie kreatiewe oplossing gehad vir Matteus 6 se intstruksies, het hy geleer dat ’n liefdesdaad baie eenvoudig kan wees. Solank ons dit nie doen om ander se aandag te trek nie. Dit is beter om dit vir God te doen. Hy sien dit en Hy sal ons beloon.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
die Kerkmuise), NG Kerk Vrystaat

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.