Skip to content Skip to footer
Doen aan ander soos wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Molly sit daar voor, haar ogies effens dof, haar lyfie bietjie krom. Sy lyk hartseer. Leon en Tjoppie  wat haar van ’n afstand dopgehou het, hardloop vinnig na haar toe.

“My Ouma is in die hospitaal opgeneem,” sê sy saggies.

Leon en Tjoppie se oortjies spits dadelik van skok. Dit is tannie Êna, haar geliefde ouma en iemand wat hulle almal ken en liefhet. Tjoppie gaan sit langs Molly, en Leon plaas sy poot op haar skouer.
“Wat nou?” vra Leon versigtig. Molly bly net stil en staar voor haar uit.

Leon krap sy kop. Hy wil help, maar weet nie hoe nie. Hy dink diep, sy koppie kantel skuins, toe roep hy skielik uit:
“Ek weet! Die Goue Reël!”

Tjoppie en Molly kyk onmiddellik na hom.
“Jou ouma, tannie Êna, laat ons altyd goed voel. Sy help ons om te sing, te bid en ons geloof te versterk. Al wat ons nou kan doen, is om vir haar dieselfde te doen!” sê Leon met opgewondenheid.

Molly glimlag weer, en haar ogies blink sommer weer.
“Dit is ’n blink plan, Leon!” sê sy.

“Nou moet ons net besluit hoe om dit te doen,” sê Leon energiek.

“Definitief sing … en bid!” voeg Tjoppie by.

“Ek sal vir haar koekies bak, soos wat sy vir my geleer het,” sê Molly, haar moed groei.

“En ek sal vir haar mooi rooi blomme pluk uit die kerk se tuin. Rooi is tog haar gunstelingkleur!” sê Leon.

Met hulle planne in plek, spat die drie vriende uitmekaar. Tjoppie begin nadink oor tannie Êna se gunstelinglied en hy skryf ’n gebed vir haar neer. Molly bak en brou met groot toewyding in die kombuis. Leon soek deur die kerk se tuin na die mooiste rooi blomme.

Later ontmoet hulle weer by die kerk en stap saam na die hospitaal. Op pad bedink hulle elkeen hoe om tannie Êna se dag ligter te maak. Toe hulle uiteindelik by haar kamer instap, stop hulle net binne die deur. Voor hulle lê tannie Êna in ’n groot wit bed, haar oë toe. Maar toe sy die voetstappe hoor, begin haar ooglede beweeg.

Haar oë maak stadig oop, en toe sy vir Leon, Tjoppie en Molly by haar bed sien staan,
glimlag sy – al is sy moeg.

“LOOF HOM! LOOF HOM! VIR DIE NUWE DAG!” sing Tjoppie skielik uit volle bors.
“HY IS GOED! HY IS GOED!” val Leon in, en Molly giggel eers, maar sing toe saam.
“LOOF DIE HERDER! LOOF HOM, HY IS GOED!” sing hulle almal saam.

Tannie Êna glimlag nou duidelik. “Julle is so oulik!” sê sy met ’n sagte stem. “Wat het julle daar?” vra sy toe sy sien die lammertjies het iets vir haar saamgebring.

Leon tree vorentoe.

“Hier is vir tannie vars rooi blomme, spesiaal uit die kerk se tuin. Dit is rooi, net soos tannie daarvan hou,” sê hy trots.

Tannie Êna steek haar hand uit en plaas dit op Leon se arm. “Dankie, my kind,” sê sy teer.
“Ouma …” sê Molly skaam. Sy hou nie daarvan om haar ouma so siek te sien nie. “Hier is vir Ouma koekies wat ek spesiaal gebak het. Hulle is dalk nie so lekker soos Ouma se koekies nie, maar ek hoop dit maak Ouma gou beter.”

“Dankie, my Molly kind!” sê tannie Êna met ’n breë glimlag.


“MAG DIE HERDER BY ONS TANNIE ÊNA WEES! MAG DIE HERDER ONS TANNIE ÊNA GENEES!” sing Tjoppie ewe skielik. Almal bars uit van die lag oor sy skielike entoesiasme.

Kort daarna het tannie Êna begin herstel. Toe sy uiteindelik uit die hospitaal ontslaan is, kon sy weer haar bekende stappies in Blêrfontein neem. Maar die kosbare gebaar van Leon, Molly en Tjoppie bly altyd in haar hart.

Die drie vriende leer ’n waardevolle les daardie dag: om ander met liefde en omgee te behandel, soos wat jy self behandel wil word, bring lig en genesing – aan beide kante.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.