
“Die krag … van lewe en dood … hmmm … lê in jou tong,” lees Leon hardop uit die Bybel terwyl hy oor die woorde nadink. Hy steek sy tong uit en kyk nuuskierig daarna.
“Bleh-ah-lee-leh-laaa!” speel hy, en begin lag.
Kort daarna is hy uit by die deur – Leon is op pad na die kerk om te help met die tuin. Hy en Tjoppie gaan vandag vir Oom Varkie bystaan met die instandhouding van die kerkgronde. Oom Varkie staan in vir Jasper, wat met verlof is.
“Lah! Leh! Looooh!” maak Leon geluide met sy tong toe Tjoppie van die anderkant af nader kom.
“Hahaha! Hoezit, my blêr!” groet Tjoppie. “Jy lyk soos ’n verkleurmannetjie!” grap hy.
Leon frons eers, maar besluit dan om self ’n ligte grappie terug te maak.
“Jy lyk soos ’n Lemoen … nee, ’n Lemoen-Pampoen!” sê Leon en lag.
Tjoppie trek sy koppie effens skeef.
“O, né. Nou het jy ook grappies!” sê hy ongemaklik.
By die tuin groet Oom Varkie hulle vrolik. “Môre, lammers!” sê hy.
“Môre, Oompie!” antwoord hulle in ‘n koor.
“Ek hoop julle is reg vir harde werk!”
“Yes, Sir, mister Piggy!” antwoord hulle verspot.
Oom Varkie lig ’n wenkbrou en gee ’n snork.
“Goed, kom ons begin!” sê hy met ’n glimlag.
“Ek gaan die struike snoei, en julle twee kan die takke en blare nader hark en in sakke sit.”
“Yes, Sir, mister” begin Leon en Tjoppie weer.
“Varkie-Oom-Sir!” antwoord hulle deurmekaar van die skrik toe Oom Varkie streng kyk. Almal lag lekker saam.
Die oggend verloop in ’n lekker gees, met grappies en gelag terwyl hulle werk. Maar dinge neem ‘n ander wending.
“Wikkel jou wolle! Kom, kom!” roep Leon vir Tjoppie.
Tjoppie kyk om en roep terug: “Oh né! Jy met jou takke daar – klap jou vlerke, Supergans!”
Leon staar hom verbaas aan, maar lag dan ongemaklik.

“Wel, ek klap vlerke beter as wat jy skaatsplank ry!” sê Leon, half in skok oor sy eie woorde.
Tjoppie se oë trek skrefies.
“Ten minste lyk ek nie soos ’n modder-roomys as ek val nie,” sê hy.
Leon se mond hang oop.
“Simpel!” roep hy uit.
“Simpel?! Soos jy wat dink die weerhaan is regtig?” skerts Tjoppie terug.
“Ag, Tjoppie!” roep Leon. “Ten minste kan ek lees én skaatsplank ry!”
“Lees? Hmf! Stout skaap!” roep Tjoppie.
Die grappies raak kort-kort skerper. Uiteindelik draai hulle altwee kwaad weg van mekaar. Leon staan met sy arms gevou aan die een kant, terwyl Tjoppie hard hark met sy rug na Leon toe.
“Kan jy nie ’n grappie vat nie?” vra Tjoppie kortaf.
“’n Grappie? Dit was nie ’n grappie nie!” antwoord Leon.
“LAMME!” roep Oom Varkie hard. Hy stap nader en staan nou tussen hulle.
“Julle sal mooier moet praat as julle hierdie saak wil regmaak,” sê hy ferm. “Grappies is daar om saam te lag en mekaar goed te laat voel. As almal nie saam kan lag nie, dan is dit nie ‘n grappie nie.”
Leon onthou skielik die vers wat hy gelees het.
“Die krag van lewe en dood lê in ons tonge!” roep hy uit.
Oom Varkie knik. “Grmf! Dit is reg, Lamme. Ons moet dink voor ons praat of grappies maak. Net soos plante in die tuin water nodig het, het ons woorde die krag om te bou of af te breek. Ons moet kies om lewe te spreek oor mekaar.”
Leon kyk skaam na Tjoppie.

“Ek is jammer, my blêr,” sê hy. “Ek het nie bedoel om jou te seer te maak nie. Ek wou net cool wees.”
“Ek ook,” antwoord Tjoppie. “Jammer, Leon.”
Met ’n pootstoot herstel hulle vrede, en die twee vriende lag weer saam.
“Kom, laat ons aan die werk spring!” sê Oom Varkie.
“Yes, Sir, Oom Varkie Sir!” antwoord die lammers in koor, en almal lag weer lekker.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.