
Vandag is Leon se eerste keer by die kerk se pret-avontuurdag. Die NG Kerk Blêrfontein hou elke jaar ‘n lekker speletjiesdag vir die jong diere met allerlei aktiwiteite en speletjies. Dit is die hoogtepunt op almal se kalender.
By die kerk se hekke staan al die dierekinders gereed om in te gaan. Leon en Tjoppie staan in afwagting heel voor – hulle was eerste daar. Molly en twee van haar skoolmaats het ook later opgedaag.
Uiteindelik gaan die hek oop.
“Welkom, maats!” groet dominee Armach Breytenblaf die jong diere terwyl hulle instap. Leon en Tjoppie stap eerste in – of so dink hulle. Skielik voel Leon ‘n stoot. Dit is Molly!
“Excuse Mê!” sê sy terwyl sy Leon wegdruk. Hy val effens kant toe en struikel toe oor Tjoppie.
“Blêr!” roep hulle albei uit terwyl hulle probeer balanseer.
Woeps! Molly glip deur die gaping en draf eerste by die hek in, vasbeslote om heel voor te wees. Leon en Tjoppie kyk haar agterna en skud hul koppe.
Toe Leon en Tjoppie uiteindelik ingaan, is Leon se oë groot van opgewondenheid. Die kerkgronde lyk anders as gewoonlik – daar is kleurvolle vlaggies, kegels en borde wat verskillende aktiwiteite nommer van een tot tien. Voor op die grasperk staan dominee Armach Breytenblaf in sportdrag met ‘n fluitjie om sy nek.
“Welkom by die pret-avontuurdag!” groet hy almal vrolik. “Vandag gaan ons pret hê en ‘n bietjie kompeteer. Maar onthou, die belangrikste is om dit saam te geniet!”
Al die diertjies luister opgewonde, met hul oortjies gespits.
“Kom haal vir jou ‘n hoedjie, en dan deel ons die spanne in!” sê dominee Armach.
En toe gebeur dit weer.
“Excuse Mê!” sê Molly en druk verby almal om eerste haar hoedjie te kry. Leon en Tjoppie kyk mekaar moedeloos aan.
Die spanne word uiteindelik ingedeel – daar is sestien spanne in totaal. Molly en haar twee maats word saam met Tjoppie en Leon geplaas.
“Ons is die Wollie-span!” verklaar Molly voordat iemand anders iets kan sê. “My naam is Molly, en ons het wolle!” voeg sy trots by.
Soos die dag verloop, neem elke span aan verskillende aktiwiteite deel. Elke vyftien minute blaas dominee Armach sy fluitjie, en die spanne roteer totdat almal elke aktiwiteit probeer het. Die span met die meeste punte aan die einde wen.
Die Wollie-span vaar goed. Tjoppie is uitstekend en kry die meeste punte vir hul span. Molly probeer steeds by elke aktiwiteit eerste wees, en hoewel sy self nie veel punte verdien nie, is sy bly dat haar span goed doen. Intussen verduidelik sy alles vir Leon – amper asof hy niks verstaan nie, wat Leon effens irriteer.
Toe al die spanne klaar is en elkeen al die aktiwiteite voltooi het, is dit tyd vir broodjies en die groot aankondiging. Almal sit op die grasperk in hul spanne en eet.
Dominee Armach stap nader met die resultate.
“Na ‘n prettige dag van kompetisie het ons uiteindelik ‘n wenspan!” roep hy.
“Woohooo! Blêr! Woohooo!” juig al die maats.
“Daar is net een punt verskil tussen nommer 1 en 2 … dit was baie naby!”
Molly se ogies blink. Sy is seker hulle span het gewen en staan reg om op te spring.
“EN DIE WENNERS IS …” sê dominee Armach dramaties.
“Dit gaan ons wees!” fluister Molly met oortuiging aan haar span. Leon en Tjoppie kyk bekommerd na haar.
“DIE WENNER IS … DIE WOLWATERS!” roep dominee Armach uit.
Molly hoor nie behoorlik nie. Sy het so gehoop om hul span se naam te hoor dat sy skielik uitroep:
“DIE MOLLY-SPAN! KOM JULLE!”
Voor iemand haar kan keer, spring sy op en hardloop na die podium. Sy spring op die eerste plek en begin uitroep:
“Woooohooo! Molly-span! Molly-span! Molly-span!”

Die ander diere is geskok. Leon en Tjoppie kyk vir mekaar.
“Wat nou?” fluister Leon.
Ewe skielik besef Molly wat aangaan. Haar gesig trek bleek, en sy voel hoe skaamte oor haar spoel. Leon kry ‘n idee. Hy spring op en begin klap.
“Woohooo! Blêr!” roep hy, en Tjoppie volg dadelik. Hulle nooi die regte wenners, die Wolwaters, na die podium.
Molly sien wat hulle doen en maak vinnig plek. Sy klap hande saam en roep uit: “Woohooo! Welgedaan, Wolwaters!”

Later stap Leon na Molly toe, steek sy pootjie uit vir ‘n pootstoot en sê:
“Blêr! Jy’t goed gedoen, Molly, maar onthou – saamwerk maak enige dag beter.”
Molly glimlag skaam, maar opreg, en sê: “Dankie, Leon. Ek het vandag geleer dat wen nie alles is nie – vriende maak dit soveel beter.”
Die dierekinders lag en speel nog ‘n rukkie saam voordat hulle huis toe gaan, en Molly weet: van nou af sal sy dinge anders doen. Pret-avontuurdag gaan oor saam wees, nie net oor eerste wees nie.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.