
Dit is Sondag in Blêrfontein. Dit is vroegoggend, en al wat gehoor kan word, is die voëltjies wat tjirp en sing in die vars oggendlug.
Oral in die strate van Blêrfontein staan motors van al die besoekers wat die skaatsplanktoernooi bygewoon het en oornag het. Party het in gastehuise oorgebly; ander het gaan kamp by die dorp se kampterrein.
Daar onder in die straat kom Tjoppie aangerol op sy skaatsplank met sy trofee onder sy arm – Tjoppie is die nuwe skaatsplankkampioen van Blêrfontein. Daar vanuit die systraat kom Leon aangestap.
“Blêr!” groet hulle mekaar, en dan beweeg hulle saam verder in die straat af. Dit is amper tyd vir die erediens.
Leon en Tjoppie is eerste by die kerk. Hulle het afgespreek om mekaar so vroeg daar te ontmoet.
“Blêr! Skud jou wolle rond! Blêr! Skud jou wolle rond!” sing en dans hulle twee op die kerkpaadjie en op by die trappe. Die koster maak die deur oop.
“Môre, lammers!” groet hy hulle.
“Môre, Oompie!” groet Leon en Tjoppie terug terwyl hulle instap om hulle plek te gaan inneem.
Leon en Tjoppie sit in die kerkbanke en gesels oor al die groot oomblikke van die vorige dag. Soos wat hulle gesels, raak die kerkbanke vinnig voller.

Kyk wie kom daar – dit is dominee Armach Breytenblaf!
“Môre, môre!” groet hy terwyl hy na die preekstoel stap.
“Welkom, welkom hier by ons!” groet hy van die besoekers wat die diens kom bywoon het voordat hy by die preekstoel gaan staan. Leon en Tjoppie kyk na hom en raak opgewonde om vandag se boodskap te hoor. Maar toe hoor hulle ‘n bekende lag…
“Meh, eheheheh!” Dis Lambert!
Leon en Tjoppie kyk dadelik in sy rigting – die twee lyk sommer dadelik onrustig.
“Wat maak hy hier?” vra Leon effens ontsteld. Tjoppie frons.
“Dis óns kerk!” antwoord hy sonder om regtig te dink oor wat hy sê.
Hulle hou nie van Lambert nie – veral nie ná sy optrede en lelike opmerkings die vorige dag nie. Lambert is nie van Blêrfontein af nie. Sy ouers het hom gebring vir die skaatsplanktoernooi. Hulle het oornag en besluit om die kerkdiens by te woon voordat hulle vertrek. Lambert is ‘n groot skapie. Hy skuif in die ry banke voor Leon en Tjoppie in.
Lambert se wolle op sy kop is groot en wyd – Leon en Tjoppie kan nie eens verby sy kop sien nie.
“Ag nee, man!” brom Tjoppie.
“Kom ons skuif net!” stem Leon saam, ook duidelik geïrriteerd.
Hulle staan op uit die banke met oordrewe aksies – so bietjie aspris. Lambert wil omdraai om hulle te groet, maar die twee het reeds begin wegbeweeg.
“Dis ons kerk!” mompel Tjoppie terwyl hy sukkel om sy trofee uit die ry uit te dra, met Leon wat agteraan skuifel.
“En nou kan ons nie eens op ons plek sit nie!” sê Tjoppie
Dominee Armach sien alles soos wat dit gebeur.
Leon en Tjoppie het uiteindelik weer gaan sit aan die uithoeke van die kerkbanke. Hulle is ontevrede en duidelik onsteld. Leon probeer homself kalmeer, maar iets voel vir hom uit plek.
Terwyl hulle so sit, voel hulle twee pote om hul skouers.
“Jong lammers… my blêrs!” Dit is dominee Armach.
“Julle lyk bietjie onsteld,” sê hy vriendelik.
Leon en Tjoppie draai hul koppe skielik na hom – hulle is geskok om hom daar te sien en voel dadelik skuldig oor hul optrede.
“Ja, ons is!” antwoord hulle gelyk.
“Dit is ons kerk, en ons stem nie saam met hoe daardie ou opgetree het nie. Hy is ‘n skurk!” sê Tjoppie.
“Tjoppie,” sê Armach geduldig, “jy is die wenner van die kompetisie, reg?”
Tjoppie knik, en Leon knik saam.
“Hoekom gebruik jy nie hierdie geleentheid om soos ‘n wenner op te tree en hom ook welkom te laat voel nie?”

Tjoppie en Leon is verstom. Hulle bly stil en luister, want hulle weet dominee Armach weet waarvan hy praat.
“Julle praat van ‘ons’… óns kerk, óns plek. Hoekom maak julle nie daardie Lambert-outjie deel van die ‘ons’ nie? Ons almal behoort aan die Herder, en daarom is ons almal welkom by die kerk.”
Leon en Tjoppie knik stadig. Hulle besef nou hulle fout.
“Jesus het vir ons almal gesterf aan die kruis. Nie net vir dié wat Hom volg of wat dink hulle doen die regte ding nie. Almal! ONS almal. Selfs die van ons wat verkeerd optree – en ons almal doen soms!”
“Blêr! Dis reg! Dit ís ons kerk!” sê Tjoppie met oortuiging.
“Ja, dit is ONS kerk, en ons almal is welkom hier!” voeg Leon by.
Hulle stap na Lambert en sy gesin toe en verwelkom hulle.
“Welkom by ons kerk, blêr!” groet Tjoppie met ‘n pootstoot – hy tree op soos ‘n regte wenner!
“Julle gaan die erediens so geniet!” voeg Leon by.
Lambert en sy gesin voel dadelik welkom. Lambert het selfs opgestaan en om verskoning gevra vir sy optrede en die goed wat hy gesê het. Daardie dag het Leon en Tjoppie nóg ‘n blêr bygekry en sy naam is Lambert!
Ons almal behoort aan die Herder, en ons almal is welkom by Hom!

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.