
Dit is ‘n nuwe dag in Blêrfontein, en die strate gons behoorlik. Die tyd het aangebreek vir die grootste skaatsplanktoernooi in die land: Die Reuse Skaatsplank-toernooi. Dit is die eerste keer dat dit in Blêrfontein aangebied word. Die strate wemel van nuwe diere – meestal toeriste en joernaliste – wat die naweek vir die kompetisie besoek.
Tjoppie is natuurlik Blêrfontein se beste skaatsplankryer. Hy oefen baie en ry daardie skaatsplank amper asof dit deel van sy lyf is. Hy ís goed!
Leon stap in die straat af. Hy voel goed – hy het vanoggend sy Bybel gelees en gebid, soos wat tannie Êna hom aanbeveel het.
Terwyl hy aangestap kom, sien hy iets wat hy nie elke dag sien nie: daar het ‘n groot klomp diere saamgedrom. Dit is ‘n groot geraas en geskree. Hy sien toe een van die grootste skape wat hy al ooit gesien het – ‘n reuse Marino-skaap! Dit is Lambert le Roux. Hy is die beste skaatsplankryer in die land, en teenoor hom staan Leon se beste vriend, Tjoppie! Die twee is beslis nie vriendelik met mekaar nie. Leon stap nader om te hoor wat hulle sê.
“Ek sal jou vermorsel, ou klein Tjoppie!” roep Lambert arrogant uit. “Daar is niemand beter as ek nie! Wie sal nou glo dat ‘n ou skapie van hierdie klein dorpie enigsins Die Reuse Skaatsplank-toernooi kan wen? In jou drome! Gaan tel solank die skapies!”
Tjoppie staan vas. Hy frons behoorlik vir Lambert, maar terselfdertyd begin sy pote bewe. Tjoppie wys dit dalk nie op die oomblik nie, maar die groot skaap se woorde werk op sy senuwees!
Leon sien hoe Tjoppie nie ‘n woord kan uitkry nie.
“Hahaha, hierdie klein skapie het geen wol nie… Hahaha,” lag Lambert kliphard en stap weg met die skare wat hom volg.
“Sien jou by die kompetisie, klein blêr!”kry hy nog ‘n laaste steekwoord in.
Nadat hulle weg is, bly net Leon en Tjoppie agter. Tjoppie het nog nie besef Leon is daar nie. Hy staan net en staar na die grond – hy lyk bekommerd.
“Hey, my blêr!” groet Leon van agter. Tjoppie skrik, en toe sien hy vir Leon. Sy skouers hang.
“Hey, Leon,” groet hy droewig terug.
Leon draai sy koppie – hy probeer verstaan wat aangaan. Leon ken nie vir Tjoppie so nie. Tjoppie is gewoonlik vol energie en grappies.
Leon dink vir ‘n oomblik en tree dan nader.
“Hoe kan ek help, my blêr?” vra hy vol moed.
“Jy kan nie,” antwoord Tjoppie mismoedig, “ek sal nooit kan wen teen Lambert le Roux nie. Hy is die beste skaatsplank-skaap in die land. Ek was reeds gestres oor hierdie toernooi, en nou wil Lambert my ook nog vermorsel. Nee, my blêr… jy kan nie help nie.”
Leon staan vir ‘n oomblik terug en kry toe weer ‘n glinster in sy oog.

“Tjop! Luister na my!” sê hy ewe opgewonde. “Ek is die Modder Merino van Blêrfontein, onthou jy? So luister mooi!” spot Leon verder met selfvertroue.
Leon het daardie oggend sy Bybel gelees, en hy kry toe in hierdie oomblik ‘n geleentheid om dit toe te pas.
“1 Samuel 17 vertel ‘n storie baie soortgelyk aan wat ek nou voor my sien!” glimlag Leon ewe stout. “Ek sal weet, ek het dit net vanoggend gelees!” Tjoppie draai en kyk na Leon – hy ken ook nie hierdie kant van Leon nie, maar hy luister graag.
“Goliat die Filistyn het ook vir Dawid uitgejou en presies dieselfde woorde gebruik as wat Lambert le Roux vandag gebruik het!” Tjoppie se oë rek. “Hy gaan jou g’n vermorsel nie! Hy weet duidelik nie wat ek, Leon, die Modder Merino van Blêrfontein, weet nie…”
Tjoppie wou nog vra, maar Leon antwoord sommer dadelik. Hy praat amper soos ‘n afrigter met sy span voor ‘n wedstryd.
“Tjoppie, jy het duidelik alles wat nodig is om hierdie toernooi te wen! Net soos Dawid sy slingervel geken het omdat hy ure daarmee geoefen het, ken jy jou skaatsplank. My blêr, ek het jou gesien oefen – jy is die beste!” sê Leon vir Tjoppie, wat nou minder bewerig lyk.
Leon hou sy pootjie uit vir ‘n pootstoot en sê: “Jy moet dit net gaan wys, my blêr!”
En Tjoppie het.
Ja, Tjoppie het, net soos Dawid, opgestaan teen sy eie reus en skaatsplankkampioen van Blêrfontein geword. Ons moenie terug staan teen Boelies nie en nie dat hulle ons laat twyfel in ons waarde of vermoëns nie.
Ons moet in onsself glo en weet dat die Here altyd by ons is, wen of verloor.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.