Skip to content Skip to footer

Ons almal behoort aan die Here, ons Herder. Hoe wonderlik is dit nie wanneer ons tot hierdie besef kom nie! Dit is besonders! 

Leon die lammertjie het ook tot hierdie besef gekom en dit het hom met blydskap gevul. Maar hy wou nie verkeerd optree nie. Dit het hom onseker laat voel want hy wou nie ‘n gemors maak van hierdie wonderlike gevoel nie. 

Leon het vroeër daardie dag na die kerk toe gestap om daaroor te dink, en daar het hy vir tannie Êna raakgeloop, so amper asof sy gestuur was.

“Wat ‘n wonderlike geleentheid is dit nie?” vra tannie Êna. 

Leon draai sy koppie skuins en probeer verstaan hoekom tannie Êna dit sou sê.

“Die wonderlikste geleentheid wat daar is! LOOF HOM!” roep sy weer uit.

Leon skrik effens, maar spits toe weer sy oortjies.

“Leon, jong lammertjie, jy het die wonderlikste geleentheid ontvang. Dit is ‘n geleentheid om dit wat in gister se dae gebeur het, agter jou te sit,” antwoord sy.

Leon lig sy wenkbrou, probeer verstaan, maar terselfdertyd begin sy mondjie glimlag.

“Alles wat met jou gebeur het — die goeie en dit wat nie so goed was nie. Die Herder nooi jou uit om dit agter te laat en jou lewe op Sy manier te leef. Sy manier is die beste,” fluister tannie Êna agterna.

Sy bly ‘n rukkie stil, en Leon hou sy koppie steeds skuins terwyl hy na die bome kyk en luister hoe die  blare in die wind ritsel. Leon dink oor alles wat hy gehoor het.

Tannie Êna tik liggies op Leon se skouer om sy aandag terug te kry. Sy kyk diep in sy helderblou ogies en glimlag vir hom. Toe sê sy:

“Dit beteken ons moet verander hoe ons dink. Ons moet ons gesindheid verander teenoor mekaar en die wêreld. Jy moet dit jou eie maak—amper soos nuwe klere wat jy aantrek, of soos om deur ‘n ander bril na ons lewe te kyk: God se bril,” verduidelik tannie Êna verder.

Leon se ogies begin blink, asof hy presies verstaan wat tannie Êna vir hom vertel. Vir ‘n oomblik verbeel hy hom hoe dit sou wees om deur ‘n sonbril te kyk. Hy sien sommer die wêreld vol kleur en mooi. Leon verstaan nou presies!

“Dit beteken ons leef vir die Herder. Ons kies om te doen wat Hy sou doen—dit wat goed en reg is. Ons gee om vir mekaar en hanteer mekaar soos wat ons self graag hanteer wil word. En elke dag is ‘n geleentheid om goed te doen—elke oomblik, elkeen wat op jou pad kom, en elke tree wat jy gee. Kyk net deur God se bril. Sy cool bril!” vertel tannie Êna verder.

Leon is opgewonde, sy ogies blink van blydskap. En toe, skielik, gee hy ‘n frons.

“Tannie Êna, ek verstaan nie. Hoe kan ‘n mens elke dag net bly wees? Wat as ek hartseer voel of nie lus is nie?” vra Leon onseker.

“Elke dag sorg vir homself. As jy die Herder vra om jou te help, sal Hy! Dit is die beste deel van Sy liefde. Jy kan Hom vra om jou te help wanneer jy hartseer, bly, of onseker voel. Dinge voel vir my soms ook onmoontlik, maar dan herinner ek myself dat alles by God moontlik is. Dan sing ek sommer hardop,” antwoord tannie Êna.

Leon giggel, want hy weet hoe lekker tannie Êna kan sing.

“Leon, dit is soos ‘n wedloop. Jy moet oefen, jy moet geduldig wees en onthou dat jy partykeer moeg gaan word. Ons het die Herder elke dag nodig. Daarom moet jy bid en Hom vra om jou te help. Onthou, die Bybel wys vir ons al die antwoorde.”

Leon se glimlag is nou weer terug op sy gesig en sy stertjie skud rond. Tannie Êna sit haar poot op Leon se kop en vryf dit liggies.

“En jy, jong lammer, jy het jou eie wedloop om te hardloop.” sê tannie Êna.

Leon spring opgewonde in die lug en maak ‘n vuis. “Ek behooooooooort!” roep hy uit.

“Laat die wedloop begin!”

Tannie Êna wou nog vir hom sing en bid, maar Leon hardloop vol moed en inspirasie in die strate van Blêrfontein in. Sy lag te lekker vir hom.

Danksy tannie Êna se wyse woorde het Leon daardie dag ‘n nuwe uitkyk gekry—amper soos nuwe klere of ‘n cool bril.

Of Leon heeltemal verstaan het, sal ons nie nou kan sê nie, maar dit is iets wat ons binnekort gaan uitvind.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.