Skip to content Skip to footer

Dit is nuwe seisoen, ja, die winter is verby en dit is heerlike lente in dié pragtige klein dorpie. In die strate is daar bome met klein fyn nuwe blaartjies wat begin groei. Hier en daar is vrugtebome waarvan die bloeisels al mooi uitgekom het. Dit is sekerlik die lekkerste tyd van die jaar vir die diere wat in Blêrfontein woon. Maar, waar is al die diere dan?

Hulle ís daar! Ja, Blêrfontein is altyd besig en aan die gang. Hier kom die plaashond-oom verby gery met sy bakkie – hy is oppad plaas toe. Oom Varkie is opgewonde oor sy tuin, hy sien hoe al die saadjies wat hy geplant het begin ontkiem. Molly het by juffrou Katryn Kat gaan kuier – Molly wou by haar leer hoe om te brei. Armach Breyntenblaf en Jasper was na oom Basie toe – die kerk sy grassnyer het gebreek en hulle was daar besig in die waenhuis om te kyk of hulle die grassnyer kan herstel.

En daar is Tjoppie! Hy en van die ander skaatplankskape is besig om die skaatsplankpark se bane te verf. ‘n Nuwe seisoen roep vir ‘n nuwe kleur, of hoe? Dit is buitendien amper tyd vir die groot skaatsplank-toernooi – alles moet in plek wees.

Baie het verander in Blêrfontein, maar tog is daar soveel wat nog dieselfde is …

Daar onder by die kerk sit iemand op die tuinbankie. Wie kan dit dan wees?

Dit is Leon!

Ons ou lammertjie sit alweer en dagdroom. Hy verkyk hom aan die kerk se pragtige tuin – dit lyk vir hom so netjies. Ja, NG Kerk Blêrfontein se kerkgebou is pragtig soos altyd. Die tuin lyk vars en die voëltjies sing vrolik. Dit gee sommer die gevoel van nuwe lewe.

Leon sien die weerhaan wat draai hoog bo in die wind, bo-op die kerktoring – hy sal nie weer vir sy truuks val nie. Daar het baie gebeur in Leon se lewe en hy sit en dink daaroor na.
Die grootste vir hom was dat hy besef het: hy behoort aan die Herder. Dit het vir hom gevoel soos ‘n geskenk wat hy ontvang het – die beste geskenk ooit: Hy behoort.

Die oomblik toe Leon besef het dat hy aan die Herder behoort was vir hom die grootste gebeurtenis in sy lewe. Terselfdertyd het hy ook gewonder wat volgende op hom wag.  

“Ek behoort, maar wat nou?” wonder hy. Toe hoor hy ‘n bekende stem.

“DIE HERDER LEI MY, WAAR EK MOET WEES! LOOF HOM! LOOF HOM!
EK GAAN WAAR HY ROEP, SONDER VREES! LOOF HOM, LOOF SY NAAM!”

Dit is tannie Êna! Sy loop in die kerk se tuin om te kom kyk of die blommetjies wat sy geplant het mooi groei – sy sien nie dadelik vir Leon nie. Tannie Êna buk af na die blommetjies en sy sien hoe mooi hulle groei. Toe sien sy vir Leon. Sy kyk net vir ‘n oomblik na hom en toe glimlag hulle breed vir mekaar.

“Dagsê, jong lammer!” groet sy vir Leon. Leon lig sy pootjie en groet haar terug. “Hello tannie Êna.”
“Sê bietjie vir Tannie, hoekom sit jy so op jou eie?” vra sy vir hom.
Leon wil nie eintlik antwoord nie. 

Ek wonder sommer net, Tannie, antwoord hy haar. 

Tannie Êna weet sommer wat aangaan. Sy ken mos nou vir Leon teen die tyd – hy wil nie uit plek uit wees nie. 

“Kom Tannie sing vir jou en dan kan ons bid.”

 Tannie Êna vat Leon se pootjie en sy trek los soos altyd.

“DIE HERDER SAL JOU LEER,
HY IS IN BEHEER.
SY LIEFDE HET GEEN KEER,
VERLORE IS ONS NIE MEER!
LOOF HOM! LOOF SY NAAM!” sing tannie Êna kliphard in die kerk se tuin.

Nadat sy gesing het dink Leon om haar iets te vra. Hy wou nie eintlik vra nie, maar hy wou ook so graag die antwoord weet. 

“Tannie Êna …” sê hy huiwerig. “ek behoort aan die Herder … maar, ek weet nie lekker wat om nou te doen nie.”

Tannie Êna kyk vir Leon en sy glimlag. Sy is gereed met ‘n antwoord.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.