Skip to content Skip to footer

“Leon!” Leon!” roep Tjoppie se stem bekommerd. Hy is opsoek na Leon in Blêrfontein. “Leon, my blêr! Waar is jy?” roep hy weer.

Leon het spoorloos verdwyn ná die kerkbasaar en die hele Blêrfontein is bekommerd oor waar hy is. Die son sak en Leon die lammertjie is weg!

“Leon! Leon!” roep tannie Êna ook.

Al die diere span saam en hulle begin ’n groot soektog om die verlore lammertjie te vind. Dominee Armach Breytenblaf het vinnig al die diere in die dorp laat weet dat Leon weg is en soos een man het die diere van Blêrfontein ingespring om te help soek. Oom Varkie en sy span het deur die strate van die buurt gesoek. Die boerbok en die plaashond- oom het agter die winkelsentrum gesnuffel. Juffrou Katryn-kat en Molly het gesorg dat almal water en peuselhappies het.

Armach Breytenblaf was aan die stuur van die soektog en as enigeen iets hoor moet hulle hom laat weet. Tannie Êna en Tjoppie het in die veld by die treinspoor gaan soek, daar waar Leon eens ’n ontmoeting met Jan Jakkals gehad het. Tannie Êna soek op die pad en Tjoppie hardloop teen elke heuwel op om te kyk of Leon daar is.

Dit is ook net daar waar Tjoppie iemand gewaar … DIT IS LEON!

Leon sit op die verste heuwel van Blêrfontein. Hy sit bo-op ’n miershoop en staar na die son wat sak in die laagte voor hom. Tjoppie hardloop dadelik nader deur die lang grasse.

“Blêr! My blêr!” roep Tjoppie uit toe hy vir Leon sien, maar Leon beweeg nie. Hy sit tjoepstil. Tjoppie sien dit en stop in sy spore. Toe sien hy dat Leon besig is om te huil. Die trane rol oor sy wollerige wangetjies. Tjoppie beweeg stadig nader.

“My blêr, is alles oraait hier?” vra Tjoppie saggies.

Leon kyk reguit na waar die son sak.

Hy is eers ’n oomblik stil en toe sê hy: “Alles is so mooi hier. Die son wat sak, die natuur en die blomme. Die Herder het alles so mooi gemaak!” antwoord Leon huilend. Tjoppie luister mooi na elke woord. “… En Blêrfontein is só ’n spesiale dorp. En almal daar … elkeen behoort, elkeen doen dinge vir die Herder, elkeen het ’n plek … behalwe … behalwe ek!”

Tjoppie luister mooi na Leon, onseker oor wat hy moet antwoord. Hy kyk saam met Leon na die son wat sak en skielik besef hy wat hy moet sê.

“Leon …” sê hy, “… voel bietjie aan jou oor.” Leon lig sy pootjie na sy oor en hy voel die kepie. Sy oë rek groot toe hy dit voel.

“Het jy gesien dat die meeste van die diere hier dit het?” vra Tjoppie. Leon draai sy koppie sodat hy vir Tjoppie kan sien, en knik sy koppie.

“Dit is die merk van ons Herder. Elke een van ons is met geboorte gemerk vir Hom!” antwoord Tjoppie. Toe, so asof hy ‘n geheim deel, sê Tjoppie: “My blêr, my naam is nie regtig Tjoppie nie, my regte naam is Charles.

Toe my mamma en pappa my naam vir my gegee het, het hulle my kerk toe gevat en my daar laat merk. Elkeen van ons het dit, want elkeen van ons behoort aan die Herder. Maak nie saak watter draaie die lewe met jou loop nie, solank jy net onthou dat jy aan die Herder behoort. Daardie merkie herinner ons daaraan.”

Terwyl Tjoppie praat, voel Leon weer aan sy merkie. “Jy het ook een, my blêr. Jy behoort!”

Net daar besef Leon die grootste ding in sy lewe! Hy staan op en begin hardop lag van blydskap!

Leon het gevoel hy hoort nie regtig in Blêrfontein nie. Hy het altyd van die    Herder    gehoor, maar nooit gevoel of hy regtig inpas of iets vir die Herder kan beteken nie. Gelukkig maak dit nie saak vir die Herder nie. Daardie kepie in Leon se oor sê dat die Herder hom liefgehad het nog voordat hy enigiets kon doen of beteken. Die Herder het ons eerste liefgehad. Daarom is Leon nie ‘n verlore skapie nie – al het hy so gevoel. Al wat Leon hoef te doen is om die Herder  te volg. En hy kandit doen saam met al die ander diere  wat ook aan die Herder behoort.

“EK BEHOORT! EK BEHOORT AAN JESUS!” roep hy uit met sy pootjies in die lug.

Tjoppie glimlag breed. Hy roep vir tannie Êna sodat sy die ander kan laat weet. Leon hardloop na haar en gee haar ’n stywe druk. “Tannie Êna, ek was ’n verlore skapie, maar die Herder het my gevind!” sê hy vir haar met blydskap.

Tannie Êna jubel en sing sommer dadelik van blydskap. “LOOF HOM, LOOF DIE HERDER!” Onder by die kerk staan al die diere. Leon se mamma en pappa was ook daar. Toe Leon daar aankom, hardloop hy reguit na hulle toe. Hulle omhels dadelik vir Leon. “Dankie, Mamma en Pappa!” sê Leon baie bly vir hulle.

Almal in Blêrfontein is bly en hulle jubel en juig soos een! Die verlore skapie is gevind.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
die Kerkmuise), NG Kerk Vrystaat

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN