Skip to content Skip to footer

Vandag hier gons dit in die strate van Blêrfontein,want die kerk hou basaar! Wanneer dit kerkbasaar is in Blêrfontein, kan jy sommer weet die opwinding is groot. Dit is ’n tyd vir feesvier en vir die dorp se diere is dit ’n tyd om lekker saam te kuier. Opgewonde stap al die diere in die rigting van die kerk.

Soos die diere by die kerk se hek instap, gaan hulle onderdeur ’n banier waarop die woord “WELKOM” groot geverf is. Oral waar jy kyk, is daar ballonne, vlaggies en stringe touliggies van verskillende kleure. Verder aan is daar stalletjies in tente. Daar is iets van alles: koffie, pannekoek, speelgoed, skopfietsry, musiek en ’n groot tombola-tafel. Dit lyk só mooi daar! Al die diere het gehelp. Dit is die een ding van Blêrfontein – almal werk saam, soos een groot familie.

En wanneer dit kerkbasaar is, het elkeen sy eie werkie of twee. Tjoppie en tannie Êna het gesorg vir die musiek. Tjoppie het die klanksisteem opgestel en speel op sy bokskitaar, terwyl tannie Êna sing en die klawerbord bespeel. Juffrou Katryn Kat en Molly het gesorg vir die   banier en die versierings. Dié  twee werk ook  tydens die basaar by die tombolatafel.Die     Plaashond- oom was daar om waatlemoen en spanspek te verkoop. Oom Varkie sorg dat die vure brand en dat daar genoeg stoele uitgepak is vir almal wat wil sit.

Dominee Armach Breytenblaf het vir homself ’n kostuum gekry om die kinders te vermaak. Hy dans en speel te lekker. (Maar sjuut! Niemand weet dit is hy nie.) En waar is Leon die lammertjie dan?

Leon werk by die pannekoek-stalletjie. Dit is altyd baie besig daar. Die diere staan in lang rye om net ’n lekker pannekoek te kry. Dit gaan bedrywig agter dié stalletjie se toonbank. Daar is tannies wat bestellings neem en dit gee vir die span wat pannekoek bak. Leon is deel van die bakspan. Rondom hom is baie panne en hope pannekoeke. Net so vinnig soos wat die pannekoeke begin ophoop, net so vinnig word hulle weer uitgedeel aan die diere wat bestel het. Leon bak vier pannekoeke op een slag! Hy werk fluks en het behoorlik werk vir sy pootjies.

Terwyl Leon besig is en die kerkbasaar nou goed aan die gang is, begin sy gedagtes weer dwaal. Hy kyk op en sien die feesvieringe. Die sonnetjie is op pad om te sak in die verte en gee ’n goue skynsel aan alles. Die touliggies skitter en hy sien hoe die diere gesellig kuier. Leon voel so bly in sy hart. Sy kop draai skuins en sy mond glimlag. Hy is gelukkig.

Vir die eerste keer voel Leon dat hy verstaan. Elke dier in Blêrfontein is soos familie. Hulle deel elke dag met mekaar, die goeie en die slegte. Alles het sy tyd en plek.

Hy sien al die diere wat hom verwelkom en deel van dié familie laat voel het. Hy sien vir Tjoppie en onthou sy val in die modder. Hy sien en hoor vir tannie Êna wat vir hulle gesing en gebid het, oom Varkie en sy tuin, die Boemelaar-bok, Molly en natuurlik, sy held, Armach Breytenblaf. Leon is dankbaar vir elkeen en sy hart voel warm. Hy kyk weer na die son wat sak, wat so mooi goud, geel, oranje, pienk en pers skyn.

Leon glimlag breed. Sy hart is vol. Ewe skielik besef  hy dat hy nog besig is met pannekoek. Gelukkig draai hy net betyds die pannekoeke om. Leon is bly hy kan met sy pootjies ook bydra vir iets groter as wat hy is en dat hy iets vir ander kan beteken.

Daardie aand het Leon besef dat Blêrfontein ’n baie spesiale plek is. Wat hy nie besef het nie, is dat hy lank nie meer ’n verlore skapie is nie. En dat elke dier wat op sy pad gekom het, gestuur was deur die Herder om dié verlore skapie te vind. Elkeen op sy eie tyd, met sy eie werkie.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN