Leon het baie by die kerk geleer. Hy is ook opgewonde om na sy eerste Sondagskoolklas by te woon. By die Sondagskoolklas gee Leon en Tjoppie vir mekaar ’n poot-stoot en sê lekker hard “Blêr!” Net buite die klassie ontmoet Leon ’n nuwe skapie.
“Dit is Molly,” vertel Tjoppie vir Leon terwyl hulle nader stap. “Hallo julle!” groet ’n meisiekind-skapie met ’n vriendelike glimlag. Sy is netjies aangetrek met ’n fraai groen rokkie en ’n groot pienk strik in haar wolle.
Toe hulle by haar kom, stel Leon homself voor. “My naam is Leon.” “Hallo Leon!” groet sy vriendelik terug. “Ek is Molly. Aangename kennis.” Hierna draai sy na Tjoppie en groet hom ook: “En hallo vir jou ook, Tjoppie!”
Sy wys vir hulle watter klassie hulle s’n is. Dit is duidelik dat sy graag help en leiding neem. Molly hou van reëls en orde en dit lyk of sy die klaskaptein is.
In die klas is juffrou Katryn – sy is ’n kat. Sy gee al vir jare lank kategese – of dan Sondagskool – en geniet dit om die jong diere van die Here te leer en hulle geloof te vorm. Nadat juffrou Katryn die klassie gegroet het, begin sy met haar les. Vandag se les gaan oor sonde en vergifnis.
Die twee blêrs, Leon en Tjoppie, sit en luister aandagtig. Hulle is gretig om meer te leer en beter te verstaan. Voor hulle sit Molly en ’n paar ander maatjies.
Juffrou Katryn teken ’n paar prentjies op die witbord en vra: “Wie weet wat staan in Johannes 3 vers 16?”
Molly steek dadelik haar pootjie in die lug. Tjoppie, wat reg agter haar sit, steek ook sy poot in die lug. Hulle altwee wil die vraag beantwoord. Juffrou Katryn wys eerste na Molly.
“Die Here is my Herder …” antwoord Molly. “Nee Molly, dit is Psalm 23,” sê juffrou Katryn. Sy wys toe na Tjoppie en vra: “Tjoppie, wat sê jy?”
“Juffrou, dit is: ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’,” antwoord Tjoppie baie trots.
“Dis korrek, ja. Dankie, Tjoppie,” sê juffrou Katryn. Tjoppie is in sy noppies.
Maar Molly frons vreeslik. Sý wou die regte antwoord gee. “Hmf!” sug sy hardop. Die les gaan voort en juffrou Katryn verduidelik wat sonde en vergifnis is. Terwyl juffrou Katryn wegkyk, vat Molly ’n opgefrommelde papier en gooi dit vir juffrou Katryn agter teen haar kop. Molly skrik, tel vinnig haar potlood op, en maak toe of sy skryf. Dit alles gebeur terwyl Tjoppie sy pootjie in die lug steek om ’n vraag te vra.
Juffrou Katryn skrik toe die papier haar tref. Sy swaai om en vra woedend: “Wie was dit?” Omdat Tjoppie se hand in die lug was het dit gelyk of hy skuldig is. Molly kyk om, wys na Tjoppie, en sê: “Dit was hy, Juffrou!”
Leon is geskok, want hy het gesien wat gebeur het. Hy weet dit was nie Tjoppie wat die papier gegooi het nie – dit was Molly!
“TJOPPIE! UIT!” blaas juffrou Katryn Kat. “Ons gaan onmiddellik na dominee Armach toe. Hierdie optrede sal nie geduld word nie!”
Voor Tjoppie iets terug kon sê trek juffrou Katryn hom aan sy oortjie uit die klas uit terwyl al die ander diere in die klas in stilte bly sit.
‘n Paar oomblikke later sê Molly: “Wat het ek gedink? Wat het ek gedoen?”
Leon kyk vir Molly, draai sy koppie skuins en antwoord haar versigtig: “Molly, jy kan dit reg maak. Jy moet!” Molly draai na Leon. Verskrik en skaam antwoord sy hom: “Jy is reg, Leon. Ek sal.” “Ek sal saam kom. Kom ons gaan!” sê Leon terwyl hulle opstaan. Leon en Molly sit juffrou Katryn en Tjoppie agterna en roep: “Juffrou! Juffrou Katryn!”
Die juffrou stop en draai, terwyl sy nog vir arme Tjoppie aan die oor beet het . “Dit was ék wat die papier gegooi het, Juffrou. Dit was nie Tjoppie nie,” sê Molly. Juffrou Katryn verstaan nie mooi wat nou aangaan nie. Sy het nog altyd gedink Tjoppie is ’n moeilikheidmaker. Molly help haar dan altyd so mooi in haar klas.
Tjoppie ruk sy oortjie los en terwyl hy dit vryf, sê hy: “Ek sê mos dit was nie ek nie, Juffrou!” Juffrou Katryn vra toe: “Molly, wat het gebeur?”
“Ek is jammer, Juffrou. Ek wou die een wees wat die regte antwoord gee. Ek was verkeerd en toe is ek so jaloers dat ek vir Tjoppie in die moeilikheid wou kry,” verduidelik Molly. Leon sien dat sy skaam is, en hy sit sy pootjie op haar skouer om haar te troos.
Sy kyk op na Tjoppie en sê met ‘n bewerige stemmetjie: “Ek is jammer, Tjoppie. Jy het dit nie verdien nie.”
Tjoppie wou eers lelik terugpraat, maar toe onthou hy dat hulle in die Sondagskool les geleer het dat ons mekaar moet vergewe. Hy kon ook sien dat Molly spyt is, en daarom sê hy: “Ek vergewe jou, Molly. Ons almal maak foute.”
Juffrou Katryn sê toe vir die lammers: “Skapies, julle moet hierdie dag onthou. Vandag het julle gesien dat sonde ander mense seermaak. Maar nog belangriker: julle het gewys hoe om jammer te sê en hoe om te vergewe.” Dit was nog ‘n belangrike les vir Leon. Hy het gesien hoe vergifnis lyk en waarom dit belangrik is om die waarheid te praat. Van daardie dag af het Molly ook hulle blêr geword, en sy het gereeld saam met Leon en Tjoppie gekuier.
‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.