Tydens Sondag se erediens sit al die diere van Blêrfontein in die kerk se banke. Almal is gereed vir die diens om te begin en Leon en Tjoppie sit heel voor. Die twee is vreeslik opgewonde oor vandag se diens. Voor die preek het hulle liedere gesing terwyl tannie Êna op die orrel speel. Nadat hulle gesing het, gaan sit almal. Leon is toe baie verras toe hy sien wie die prediker is – dis niemand anders as Armach Breytenblaf!
Wie sou dit kon raai? Eers sien Leon vir tannie Êna wat die orrel speel, en nou sien hy dat sy held, die een wat hom uit die kloue van die nare Jan Jakkals gered het, die dominee is van NG Kerk Blêrfontein! En nog beter, hierdie held gaan vandag vir hulle leer oor die wapenrusting van God. Leon glimlag breed en spits sy oortjies.
“Goeiemôre Blêrfontein,” groet dominee Armach die gemeente vanaf die preekstoel. Hy sien vir Leon en groet hom met ’n knipoog voordat hy aangaan. “Van- dag praat ons oor ’n baie belangrike tema. Dit is iets wat julle ter harte moet neem en toepas,” gaan dominee Armach voort.
Dominee Armach lees eers uit die Bybel, uit Efesiërs 6, en begin toe praat oor die wapenrusting van God. Almal sit tjoepstil en luister na dominee Armach.
Leon luister ook, maar soos die dominee praat, hardloop sy verbeelding met hom weg. In sy verbeelding sien Leon homself as ’n magtige krygsman – ’n soldaat vir die Herder! Soos dominee Armach vertel van die wapenrusting, sien Leon homself die wapenrusting stuk vir stuk aantrek: Op sy kop is die helm van verlossing, aan sy bors dra hy die borsplaat van geregtigheid. Dan, om Leon se middel, is die gordel van waarheid en aan sy voete is die skoene van bereidwilligheid! Natuurlik
benodig elke krygsman ’n wapen en beskerming. Daarvoor het hy die skild van geloof en in sy ander poot, die swaard van die Woord! Leon sien homself nou ten volle geklee – hy is ’n soldaat op die slagveld! “Dié soldaatjie is gereed vir oorlog!” dink Leon terwyl hy dagdroom.
Vir ’n oomblik het hy vergeet hy is in die kerk. Skielik wip Leon uit sy fantasie! Hy kyk skaam rondom hom. Almal is gelukkig nog daar. Dominee Armach glimlag vir hom – hy het gesien dat Leon so bietjie gedroom het en daarna gaan hy voort om af te sluit. Leon luister aandagtig verder, met die wete dat dominee Armach hom raaksien.
Ná die preek, toe die diens klaar was, het almal uit die kerk gestap. Van die diere is dadelik huis toe; ander staan nog en gesels. Leon en Tjoppie is op die kerk se grasperk, besig om stokke te swaai en te veg. Hulle speel hulle is soldat. “Vat so! Ek veg vir die Herder!” roep Tjoppie hardop. “Net as jy verby my skild en my swaard kan kom!” antwoord Leon terug. Terwyl hulle besig is met hul swaardgeveg, stap dominee Armach daar verby.
Hy kyk vir Leon en groet vriendelik: “Dag boeta!” Hy draai ook na Tjoppie en sê: “Hoe lyk dit, ou Tjop?” Leon en Tjoppie sit hul stokke neer en groet terug. “Waarmee is julle besig?” vra dominee Armach. “Ons is krygsmanne, geklee in die wapenrusting!” roep Tjoppie entoesiasties uit. Leon knik net sy koppie en stem saam. Dominee Armach kyk die twee fyn uit, en toe het hy ’n plan: hy begin met hulle gesels so asof hy ’n geheim met hulle deel.
“Soldate, staan nader en luister mooi!” beveel Armach aan die twee skapies. “Die wapenrusting is nie net ’n storie nie. Dit is jou geheime wapen in hierdie wêreld.”
Leon en Tjoppie staan nader om te hoor wat dominee Armach sê. “Die Bybel leer ons van die wapenrusting en dat ons dit elke dag moet aantrek. Soos wat jy elke oggend jou klere aantrek, so moet jy ook elke dag jouself herinner dat jy die Herder s’n is. Omdat die Herder lief is vir ons, wil Hy ons beskerm teen al die lelike dinge in die wêreld wat ons seermaak.”
Leon en Tjoppie luister aandagtig – hulle weet dat hierdie inligting belangrik is. “Ja boetas, ons is die Herder se skapies op aarde. Soos wat jy jou sal beskerm teen ’n vyand, moet ons ook versigtig wees en onsself beskerm teen alles wat ons geloof wil steel en ons ver van God wil wegneem. Ons moet elke dag onthou dat ons God s’n is, vashou aan sy Woord, bid, die waarheid praat, en glo dat Hy by ons is. Dit is wat dit beteken om die wapenrusting van God te dra. Dit is soos iets wat ons elke dag kan aantrek om ons te herinner dat Hy in beheer is.”
Die twee skapies luister aandagtig terwyl dominee Armach met hulle gesels. “Partykeer beland jy in situasies waar iemand met jou lelik is. Dan moet jy glo dat jy steeds waardevol is – daarom die skild van geloof. Daar is baie lelike dinge op die TV, internet en buite in die wêreld. Daarom is die helm van verlossing belangrik – ons moet ons gedagtes beskerm! Soms beland jy in omstandighede waar dit moeilik is om die waarheid te praat. Soldate van Jesus praat altyd die waarheid, al is dit moeilik – dan maak ons staat op die gordel van waarheid. Oral waar jy gaan moet jy in die spore van ons Herder volg, so trek aan jou skoene van bereidwilligheid! Onthou, die Woord – of jou swaard – sal jou alles leer wat jy moet weet. Dit is jou Bybel – lees dit gereeld en jou swaard sal skerp bly.”
Leon en Tjoppie kyk na mekaar, glimlag, en sê gelyktydig: “Blêr!” Hulle verstaan nou beter wat die wapenrusting van God is. Dominee Armach sê toe vir die twee lammertjies: “Julle twee soldate moenie te lank hier buite speel en vergeet van Sondagskool nie.” Daarna gaan groet hy ander diere wat buite kuier. Leon en Tjoppie, opgewonde om nog meer te leer, gaan toe Sondagskool toe.
‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.