Skip to content Skip to footer

Dit is Sondag en daar is groot opwinding in Blêrfontein! Al die diere maak reg om kerk toe te  gaan.

Leon   die    lammertjie  gaan ook vandag kerk toe. Sy beste blêr, Tjoppie,  het  hom  saamgenooi.  Leon is baie nuuskierig oor die kerk. Hy wil meer leer oor die Herder en die kerk is verseker die beste plek om dit te doen! Dit is die eerste keer wat Leon ‘n diens by Blêrfontein se kerk gaan bywoon. Hy was al in ‘n kerk toe hy kleiner was, maar hy kan nie alles onthou nie.

Toe Leon by die kerk aankom gaan staan hy vir ’n oomblik stil en kyk  na die mooi gebou. Laas keer toe hy so na die toring gekyk het, het hy in ‘n modderplas geval. Hy lag saggies en skud net sy kop. Leon kyk weer na die bo-punt van die kerktoring, sien die hoenderhaan, en sê: “Hmmm … daardie hoender sit nog steeds daar …”

Terwyl Leon in gedagte is, hoor hy ‘n bekende stem wat sê: “Hoezit, my blêr?”

Dit is Tjoppie. Hy stap haastig in die kerk se rigting en trek Leon saam. “Kom, my blêrtjie! Ons wil nie laat wees nie!” Leon se vrae oor die hoender op die kerk se dak gaan vir eers moet wag.

Toe die lammers by die ingang kom, was daar ’n vriendelike oom wat hulle groet. “Dit is die koster van die kerk,” fluister Tjoppie vir Leon. “Môre, Oompie!” groet Tjoppie die oom in die verbygaan. Leon lig net sy pootjie en glimlag.

 

Soos hulle deur die voorportaal stap, groet hulle nog ’n paar diere totdat hulle in die kerkgebou kom. Toe hulle by die kerk instap, stop Leon in sy spore en sy mond hang oop. Dit is besonders! Tjoppie besef hy moet vir Leon vir ’n oomblik alleen los, en hy sê: “Ek kry solank ’n sitplek, blêr!”

Leon hoor dit egter nie, want hy wil alles wat hy sien inneem. Hy staan in verwondering en kyk na die binnekant van die kerkgebou waar hy al soveel keer verbygestap het.

Leon se oë dwaal oor die helder kleure van die loodglas vensters, die groot hout preekstoel en die lig wat deur die geel vensters skyn. Leon kyk op en hy sien die hoogste dak wat hy al ooit gesien het! Sy oë dwaal verder en hy sien groot vensters waardeur die son se strale helder skyn – dit lyk of hulle dans. Toe sien hy sulke groot pype wat amper aan die plafon raak. Hy besef toe dat dit orrelpype is, want by die voet van die orrelpype sit iemand wat die orrel speel. Leon herken onmiddellik die NG Kerk Blêrfontein se orrelis: dit is tannie Êna! Sy is besig om haar gesangeboek reg te sit. Leon is bly om vir tannie Êna daar te sien.

Toe sien hy die kansel. Daar is ’n groot hout preekstoel en daar hang ’n mooi geweefde lap met ’n kruis daarop. Leon dink dit is besonder mooi. Leon verkyk hom aan alles.

 

Terwyl Leon daar staan, raak die kerkbanke al hoe voller. Die hele gemeenskap kom bymekaar, maar hy wonder steeds hoekom dit gebeur. Hy kyk weer vir ’n laaste oomblik na alles en besluit om vir Tjoppie te gaan soek.

Tjoppie sit redelik voor en wag vir die diens om te begin. Leon gaan sit langs Tjoppie. Hy wil sy vrae vra, maar hy wil nie dom klink nie. Terwyl Leon daar sit, hardloop daar twee muise onder die preekstoel verby. Hulle is so vinnig dat niemand anders hulle gesien het nie. Leon glimlag en dink: “Die hele kerk voel so indrukwekkend en belangrik, maar selfs hier is daar plek vir klein muisies.”

Hy voel sommer bietjie meer op sy gemak en besluit om Tjoppie se voorbeeld te volg en rustig vir die diens te wag. Leon sien toe ’n kitaar wat onder die preekstoel staan. “Dit is cool!” dink hy.

“Welkom by die kerk, my blêr!” sê Tjoppie van die kant  af, terwyl hy vir Leon met sy elmboog liggies stoot. “Dankie dat jy my genooi het, Tjoppie,” fluister Leon. Leon wou egter graag weet hoekom die diere kerk hou! “Uhm, my … my blêr?” begin Leon. Tjoppie draai sy kop en kyk vir Leon. Baie huiwerig vra Leon: “Ek wil graag weet: hoekom hou ons kerk?”

Tjoppie glimlag breed want hy het ook eens hieroor gewonder. “My blêr,” antwoord Tjoppie, “die kerk is God se plek. Dit is die plek waar almal wat in Hom glo bymekaar kan kom. Dit is die beste plek waar ons leer oor die Herder. Ek is só opgewonde om vandag se Woord te hoor! Blêr!” antwoord Tjoppie.

Leon sit vir ’n oomblik terug en dink. Toe het hy nog vrae. “Jy … jy het gesê dit is God se plek. Bly Hy dan hier?” vra Leon weer.

Tjoppie giggel en sê: “Nee my blêr, God bly nie hier nie. Ons kom hier saam om Hom te ontmoet en oor Hom te leer, maar God woon elders.” Leon is nie heeltemal seker wat dit beteken nie. “Maar waar bly die Herder dan, my blêr?”

Tjoppie sê toe iets wat Leon verras: “God woon in ons, my blêr. Almal wat glo is God se kerk. Ek en jy en al die Herder se kinders – óns is die kerk. Daar waar ons bymekaar kom, is Sy plek.”

“Óns is die kerk?” vra Leon met groot oë. “Ja, my blêr,” sê Tjoppie. “Hierdie gebou is net ’n plek waar ons bymekaar kom om oor God te leer en om saam te wees. Die Herder se ware huis is in ons harte. Waar ons ook al gaan, daar is Hy by ons.”

Daarna het die orrel begin speel en die diens het begin. Leon het teruggesit en gekyk na die sonstrale wat so mooi deur die vensters skyn. Hy het vandag iets nuut ontdek. Die kerk is ’n spesiale plek, dit is waar God se kinders bymekaar kom en almal is welkom by Hom.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.