
“Dankie Here vir die nuwe dag.” bid Leon die lammertjie, nadat hy opgestaan het. Die môresonnetjie skyn deur sy kamervenster. “U is die goeie Herder, U laat my veilig wei! Blêr!” Leon se ogies is styf toe terwyl hy bid en hy vra iets baie na aan sy hart vir sy Herder. “Here, wys my vandag hoe ek ander kan help. Ek sukkel daarmee.” vra Leon. Sy een ogie gaan oop en hy loer op na die dak – hy wil net seker maak dat hy gehoor word. “AMEN” bid hy klaar en nou is dit tyd om met die dag te begin.
Leon eet gou-gou klaar en groet sy Mamma by die deur. “Koebaai Maaamaaaa!” groet hy sy mamma met ‘n verspotte druk en hy is uit by die deur.
Buite staan Leon eers stil voordat hy begin stap. Hy sien die helder blou lug, die spierwit wolke en die mooi groen bome in Blêrfontein. Hy haal diep asem en blaas weer uit. Net toe Leon sy asem uitblaas, sien hy iets wat hy nog nooit gesien het nie. Kan jy nou meer!
“HY IS JOU HERDER! HY HET JOU LIEF EN HY SAL SORG!” – dit is Tannie Êna wat alweer iemand bedien met haar sang. Sy staan met ‘n sak oor haar skouer en sy sing vir ‘n bok, ‘n boemelaarbok, terwyl sy sy pootjie ferm vashou.

Leon se ogies kyk nou bietjie fyner. Onthou, Leon het gevra dat die Herder hom moet wys en nou kyk hy ekstra mooi na alles. Hy sien dadelik dat die boemelaarbok se pote vuil is en tannie Êna, met ‘n skoon poot, hou dit steeds vas terwyl sy sing. Die boemelaarbok lyk of hy swaarkry. Sy skoene is stukkend, sy klere is vuil en hy sit op koerante, maar steeds glimlag hy vir tannie Êna. Tannie Êna is nou klaar gesing. “EK HET VIR JOU IETS GEBRING.” Tannie Êna haal vir die bok ‘n paar splinternuwe skoene uit die sak, ‘n heerlike ete en ‘n paar ander benodigdhede wat hom ‘n rukkie sal hou. “ONTHOU DIE HERDER HET JOU LIEF EN HY SAL JOU HELP” sê tannie Êna vir die bok. Leon het alles dopgehou. Hy knik sy kop, glimlag breed en toe stap hy aan.
Leon staan verstom. Hy sien vir die eerste keer raak hoe die diere in Blêrfontein mekaar help. Hy is skoon opgewonde. Leon loer weer na bo. Hy dink aan sy gebed van daardie oggend en glimlag weer breed. Leon sukkel om te verstaan hoe die diere mekaar so help. Hulle kyk uit vir ander en stel ander voor hulleself. Leon wonder steeds hoe hy kan help.
Daar voor is oom Varkie. Onthou julle vir oom Varkie? Hy is mos baie lief vir tuinmaak. Oom Varkie sny gras soos altyd, maar hierdie keer is iets vreemd. Oom Varkie is besig om gras te sny, maar nie by sy eie huis nie – oom Varkie is besig om sy buurman se gras te sny. Hy sweet en swoeg, maar hy glimlag breed! Leon verstaan dit nie. Hy besluit om vir oom Varkie hieroor te gaan vra.

“Oom Varkie! Môre oom Varkie!” roep Leon soos wat hy nader stap. “Huh? Grmf snork…” skrik oom Varkie en kyk rond. Hy sit die grassnyer af en sien vir Leon. “Oom, hoekom sny jy jou buurman se gras?” vra Leon. Oom Varkie kyk af na Leon en besef hierdie is ‘n groter vraag. “Ag ou Leon, ek help maar waar ek kan. Grmf! My buurman is ‘n besige ou. Hy werk vroeg en kom laat huistoe. Ek dink nie hy kry tyd vir tuinwerk nie. My buurman sal sekerlik gelukkig voel as hy dit sien ná ‘n lang dag se werk.” antwoord oom Varkie en dink dit is genoeg, maar Leon wil nog weet. “Maar Oom, hoekom doen Oom dit? Hoekom wil Oom dit doen?” vra Leon nou meer drukkend.
“Ja jong lammertjie, ons diere help graag mekaar. Ons doen dit want die Herder help ons en dan help ons ander. Grmf” antwoord die oom. Leon se oë rek groter en hy luister aandagtig. “Dit is soos om plante te versorg. Ek hou baie van tuinmaak Leon! Elke keer wanneer jy iemand kan help, is dit so goed jy gee vir hulle water, soos wat jy vir ‘n plant sou water gee. Plante wat water kry, groei mooi.” antwoord oom Varkie heel trots op homself. “Party diere is wel soos doringplante wat nie hulp wil hê nie, maar daar is maniere om hulle steeds te help. Grmf” lag hy lekker. Leon kyk vir die oom en giggel saam.
“So lammertjie, as jy wil help, kyk net bietjie om jou. Daar is oral diere wat hulp nodig het en daar is altyd maniere om te help. Wees net bewus.” groet oom Varkie vir Leon. “Dankie Oom”, groet Leon en stap verder.
Ja maatjies, ons kan almal ‘n verskil maak. Klein en groot. Wanneer ons omgee vir ander, sal die Herder vir ons mooi wys hoe ons kan help. Onthou, ons help nie omdat ons iets kan terugkry nie, ons help omdat ons werklik omgee vir ander.
Leon het vandag baie gesien. Was dit die Herder wat vir hom gewys het, of het Leon net so bietjie anders gekyk? Hoe dit ook al sy, Leon is ná hierdie dag gereed om sy mede-Blêrfonteiners te help.
Tot volgende keer!


‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat
Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
www.ngkerkvrystaat.co.za
Produk van die NG Kerk Vrystaat © Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie stories mag op enige manier
gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming
van die kopiereghouers nie.
