Soos die son opkom in Blêrfontein, is al die diere besig met hulle werkies vir die dag. Leon die lammertjie stap sy normale draaie en kyk wat al die diere doen. Op sy roete kry hy vir tannie Êna, juffrou Katryn Kat, oom Varkie, en sommer ’n hele paar ander diere. Terwyl hy stap, sien hy sy beste vriend, Tjoppie, wat op sy skaatsplank van ver af aanrol.
Maar iets is vreemd – Leon sien dat Tjoppie op sy skaatsplank ry … terwyl hy lees! Tjoppie staan regop bo-op sy skaatsplank wat beweeg, en hy lees ’n dik boek met goue bladsye.
Terwyl hy ry, lees hy hardop: “U woord is ’n lamp vir my voete … en ’n lig vir my pad!” Kan dit wees? Dit lyk asof Tjoppie besig is om uit die Bybel te lees! Soos wat hy nader kom, besef Leon dat Tjoppie hom nie eers sien nie. “Tjoppie!” roep Leon benoud. Tjoppie kyk op en roep: “Huh … Blêr? Leon?!”
“PASOP, TJOPPIE!” roep Leon uit, maar dit was te laat.
KARDOEF!
Daar ry Tjoppie vir Leon van sy pote af! Leon en Tjoppie tuimel soos een groot bol wol. Tjoppie se skaatsplank trek deur die lug, maar hy hou sy Bybel styf vas. Toe die twee uiteindelik ophou rol, skud Leon homself reg en raas met Tjoppie: “Nee man, Tjoppie!”
Huh …” kyk Tjoppie verbaas. “Dit is nogal snaaks om jou kwaad te sien,” sê hy vir Leon. “Ek is nie kwaad nie, man! HOEKOM kyk jy nie waar jy ry nie?!” raas Leon. Leon is kwaad, maar hy probeer om homself rustig te hou.
“Ek het Bybel gelees!” antwoord Tjoppie kortaf. “Terwyl jy skaatsplank ry?!” roep Leon ontsteld. “Dis gevaarlik!”
Terwyl hulle met mekaar raas, het dominee Armach by hulle aangekom. Hy was besig om te draf en het gesien hoe alles gebeur het. Hy hoor hoe Tjoppie heel onskuldig probeer verduidelik: “Daar staan dan dat die Woord ’n lamp is vir my voete en ’n lig vir my pad! Ek wou dit net beproef, blêr!”
Leon draai sy koppie skuins, maar voordat hy iets terug kon sê, onderbreek dominee Armach hulle.“Dagsê, boetas!” groet dominee Armach. “Dit lyk vir my asof julle so bietjie vassit, of hoe, ou Tjop?” Die twee lammers verduidelik wat sopas gebeur het. Elkeen dink die ander een is verkeerd.
“Goed, lamme, kom sit dan hier en dan praat ons daaroor.” Hulle gaan sit toe sommer daar op die sypaadjie, en dominee Armach begin verduidelik. “Ja, Tjoppie, jy is reg, dit staan so in die Bybel dat die Woord ’n lig vir ons is, maar dit beteken nie dat dit jou skaatsplank gaan bestuur nie!” verduidelik hy. “Die Bybel is veel meer as dit.”
Leon luister aandagtig en knik sy koppie saam, maar eintlik is hy self ook nuuskierig om uit te vind.
“Die Bybel is God se Woord. Ja, julle hoor reg, die Herder wat vir julle sorg en julle veilig laat wei, is die een wat die Bybel oor die eeue geskryf het deur Sy mense,” vertel Armach aan die twee blêrs wat nou altwee sit en luister. “Ek sien die Bybel soos ’n padkaart in my lewe. Dit wys my waarheen ek moet gaan en hoe ek moet leef. Die Herder gee om vir ons elkeen, en Hy het met ons elkeen ’n plan. Maar sonder hierdie padkaart sal ons nooit uitvind wat daardie plan is nie. Daarom, soos wat jy gelees het, Tjoppie, is dit soos ’n lig. Dit maak hierdie lewe duideliker, en as ons gereeld lees en bid, begin alles vir ons sin maak.”
Leon en Tjoppie het iets nuuts geleer oor die Bybel. Dit is nie net ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig vir ons padnie, maar ook soos ‘n padkaart wat ons wys waar ons moet gaan. Tjoppie besef dat sy skaatsplank nie die beste plek is om sy Bybel te lees nie. Leon was ontsteld omdat hulle seergemaak kon wees. Die twee blêrs gee mekaar ’n poot-stoot om vrede te maak.
“Blêr!” skreeu hulle sommer kliphard, en Armach Breytenblaf lag lekker saam.
Leon leer elke dag meer oor die Herder en begin al hoe meer wonder of die Herder ‘n plan met sy lewe het.
‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.