Deur ds Stefan Malan, leraar van NG Gemeente Heuwelkruin
Die woord “moegheid” verdien na my mening ’n plek op die podium by die prysuitdeling vir woord-van-die-jaar. Ons ken dit maar al te goed en gebruik dit daagliks om ’n verskeidenheid ervarings te beskryf wat wissel van dit wat ons in vlees en gees beleef.
Een so ’n soort moegheid, is wat kenners as medelye-uitputting (compassion fatigue) beskryf. Dit volg tipies op ’n gevoel van oorweldiging wanneer die nood, probleme, uitdagings, seer en krisisse van die wêreld ons oorrompel. As gelowiges wil ons natuurlik ’n verskil maak op hierdie plekke. Sulke situasies en hul gevolge daadwerklik aanspreek. ’n Bydrae lewer. In ’n poging om ’n bietjie hoop in te dra op plekke wat donker lyk en voel en diegene wat hulself daarbinne bevind, word so maklik van hul hoop beroof.
Daar is natuurlik legio voorbeelde van organisasies, kerkgroepe, gemeentes en individuele gelowiges wat daadwerklike duike maak in die duisternis óm hulle. Tog ken ons ook verhale oor hoe die stortvloed van nood eerder die teenoorgestelde uitwerking op mense het. Hulle lamlê en tot die slotsom laat kom dat hul bydrae tot die verligting daarvan te gering is. Weglaatbaar klein en in elk geval geen noemenswaardige bydrae kan lewer in die opvul van die swart gat met die naam Nood nie.
In sulke tye word die bed en die maatemmer wesenlike versoekings waaronder ons lig weggesteek kan word. En dan is dit goed – met ons barmhartigheid in sulke vaarwaters – om van ’n man met die naam Epafroditos te hoor.
Al lees ons net in ’n paar verse in Paulus se brief aan die Filippense van hom, spreek sy voorbeeld boekdele. Paulus was onder huisarres in Rome toe die gemeente in Filippi vir Epafroditos met ’n tweedelige omgee-pakkie na hom toe stuur. ’n Finansiële bydrae waarmee hy in sy behoeftes kon voorsien, en Epafroditos self, as verteenwoordiger van die gemeente, om vir Paulus ’n “broer, mede-werker en mede-stryder” te wees. Epafroditos sou nie net die geskenk van die gemeente vir Paulus neem nie, maar self ’n geskenk wees deur hom in sy bediening van die Evangelie in die hoofstad van die Romeinse Ryk by te staan.
In Filippense 2:25-30, anderkant Paulus se ontvangs van Epafroditos, vind ons een van die mooiste getuigskrifte, wat oorloop van Paulus se waardering van hom. Hy het hom as seën uit die Here se hand beleef, omdat Epafroditos gewoon die gaping tussen gawe en nood met homself gevul het. Met sy gewilligheid en diensbaarheid. En weer wanneer hy terugreis na Filippi, waarskynlik as draer van Paulus se brief aan die gemeente, maar ook as troos vir hulle wat bekommerd was oor hul vriend, wat by die dood omgedraai het, en as verteenwoordiger van die apostel.
Epafroditos sou nie immuun wees teen twyfel en onsekerheid oor die waarde van sy bydrae tot Paulus se lewe en God se Koninkryk nie. Op sy twee tot drie maande lange reis langs die Via Egnatia – een van die Romeinse Ryk se hoof handelsroetes, was daar sekerlik genoeg tyd om hieroor te wonder. As hy het, het dit hom genadiglik nie daarvan weerhou om een voet voor die ander te sit nie. Ook nie om van sy roeping – om homself in die gaping tussen gawe en nood te posisioneer – af te wyk nie.
Daarom dien die enkele verse wat die Bybel aan hom wy tot vandag toe as inspirasie en bemoediging vir elkeen wat mag wonder oor die waarde van hul diensbaarheid en barmhartigheid op plekke van nood.
Die kort getuienis oor ’n andersins onbekende Bybelkarakter, wat nie gevier word as indrukwekkende leier, prediker of invloedryke persoon nie, maar as onselfsugtige dienaar, herinner ons aan die basiese beginsel van ons dienswerk in die Koninkryk. Dat ons onsself moet gee en daarmee saam dit wat ons het – as gawe, as geskenk – om ’n bepaalde nood aan te spreek. Of dit nou kos, klere, gebed, geld, tyd, energie, raad, hulp of ’n vriendelike woord of glimlag is.
Deur dit te doen, word ons ’n Epafroditos vir iemand anders. ’n Seën. Omdat ons die Here se liefde konkreet beliggaam.
Kom ons bid daarom vir groter sensitiwiteit. Nie alleen vir die nood om ons nie, maar óók vir die maniere waarop ons die gawes wat ons het om te deel, met moed en ywer kan deel. Daar waar die gapings is. En, terwyl ons sodoende reageer op die nood in ons wêreld, mag ons onthou: die Here gebruik gewillige dienaars om Koninkryksverskille te maak. Dit sluit jou en my in.
Anders as die welbekende kennisgewings op die peronne van die Londense Underground, mag ons lewens die boodskap uitbasuin : “Don’t mind the gap. Step into it.”

