Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Dit is algemeen bekend dat Islam deur Dawah (hulle weergawe van sendingwerk) die hele wêreld wil onderwerp aan Allah en daarmee saam aan die Islamitiese leefwyse. Die afgelope tyd het daar weer video’s die rondte gedoen oor Islam op sosiale media. En soos met alles op sosiale media is dit nodig om te verifieer wat is eg en wat nie. Van die video’s het gewys op Islam se agenda om van Suid-Afrika ’n Moslemland te maak. Wat meer ontstellend was, is hoe sekere dorpe en stede as prioriteite uitgewys word in hierdie proses van Islamisering. Heelwat van die besorgde mense wat dit gesien het, het met my gesprekke gevoer daaroor. Strykdeur was my antwoord daarop dat ons vashou aan die Here se genade. Ons moet, na aanleiding van Sy opdrag om dissipels van die nasies te maak, lidmate toerus, nou meer as ooit, om met Moslems in gesprek te tree en die Evangelie met hulle te deel.
In die laaste kwartaal van 2025 is daar dan ook twee kursusse in Bloemfontein aangebied om lidmate toe te rus vir hierdie enorme, dog wonderlike, uitdaging. In Pellissiergemeente het Anton Pelser ’n inleidende kursus oor Islam aangebied, wat oor ses sessies gestrek het. Hierdie inleidende kursus het sake ingesluit soos die historiese ontstaan van Islam in die sewende eeu, die vyf pilare van Islam en die rol van Mohammed as profeet. Daar is ook inleidend gekyk na die ontstaan van die Koran. Ander geskrifte in Islam, byvoorbeeld die Hadith en Sunnah het ook onder die loep gekom.
Die vergelyking met die Christelike Geloof is ook behandel, byvoorbeeld dat Jesus in Islam nie as Goddelik geag word nie, asook hulle konsep van sonde, verlossing en genade. Die kwessie van die Drie-eenheid teenoor die Tawhid (eenheid van God), is ook inleidend bespreek. Ongeveer dertig lidmate het hierdie kursus bygewoon, wat ’n beduidende getal is.
Ek was ook bevoorreg om ’n gevorderde kursus oor gesprekke met Moslems by Fichardtpark-gemeente vir Bloemfonteiners aan te bied. Die kursus is daarop gemik om Christene toe te rus om oor meer gekompliseerde sake met Moslems in gesprek te tree. Ons het in diepte gekyk na vrae wat Moslems vra. Hulle ontken die godheid van Jesus, en een van die eerste vrae wat hulle vra, handel oor Jesus wat self gesê het: “Ek is God. Aanbid my.” Hulle beweer ook dat die Bybel gekorrupteer is. Die skuldiges, volgens hulle, wissel van Paulus tot Konstantyn. Dit is natuurlik belangrik om hulle sinvol daarop te kan antwoord.
Die lys van sake wat indringend bespreek is, is bykans te lank om te noem, maar nog ’n belangrike kwessie is dat hulle daarop aanspraak maak dat die Koran van die eerste dag tot nou toe nog nooit verander het nie. Dit is nie waar nie. Die vraag wat bespreek is, is egter hoe kan jy die teendeel daarvan bewys en dit in ’n gesprek met Moslems gebruik om die Evangelie met hom te deel.
Albei bogenoemde groepe het saam by een geleentheid sertifikate ontvang wat deur Vennote in Getuienis onderskryf word.
Tydens die eerste kwartaal van 2026 is daar weer opleidingsgeleenthede. Op 31 Januarie bied die NG Gemeente Jacobsdal so ’n kursus aan. Didasko, die liggaam wat voortgesette teologiese opleiding in die Vrystaat fasiliteer, bied in Februarie op drie opeenvolgende Dinsdagaande ’n aanlynkursus aan. Dié kursus dek die basiese sake van belang wanneer dit kom by agtergrondkennis oor, en gesprek met Islam. Maak gebruik van hierdie geleenthede en moedig ander ook aan om op dié manier toegerus te word.
’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor lidmate wat toegerus word oor Islam.

