Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Het jy geweet?
- Die vier gemeentes waarvoor DEGNOS verantwoordelik is, praat vier verskillende tale: Kwedam, Hai//om, !Kung en Ju//hoansi.
- Hulle klink soortgelyk, maar verskil net soveel soos Duits en Nederlands!
- As almal bymekaar is, gebruik ons Afrikaans of Engels om te gesels.
Verslag oor die sendingreis na Caprivi, Luhebu-Noord
Die sewe Godsmanne van N#a-Jaqna het onlangs na die Caprivi-streek vertrek om vir ouderling Johannes Tokkelosh op Omega #3 te besoek en hom te ondersteun met die katkisasie van mense wat gedoop moes word. Tydens hierdie besoek het hulle ook die Evangelie in die omliggende gebied verkondig.
Saam met hulle op die pad was ses predikante van Luhebu-Noord, pastoor Armo Mishe van die AGS, en ons getroue drywer, Jesaja. Ds Jafet Moyo het met dankbaarheid getuig dat die werk in Bwabwata groot vrug dra. Die evangelisasie by Posha en Mashambo was besonder seënryk — mense is opgelei om die prenteboek vir Evangelie-verkondiging te gebruik. Nuwe gelowiges is onderrig, gedoop, en die nagmaal is op Omega #3 bedien.
Ná ’n geseënde tyd van samewerking met ouderling Tokkelosh, het die span weer koers gekies terug na Grootfontein. Daar hervat hulle hul bediening in die plaaslike gemeentes van Kanovlei, Omatako, Mkata en Mangetti Duin, waar hulle elke Sondag die Woord bedien en die werk van die Here voortdra. Bid saam met ons vir die Here se seën op hulle werk en dank die Here vir sy getroue werkers wat lig bring in ’n donker wêreld.
Jan-Willem den Bok verfilm ons plaaslike bediening
Jan-Willem den Bok het vir Andries in die veld vergesel, waar hy twee kort films gemaak het oor die bediening van ons eie ds Poppie Haramses en ds Regina Nauses. Tydens sy besoek het Jan-Willem saam met ons deur die Wildevy-gemeente gereis, waar hy inspirerende beeldmateriaal opgeneem het van ds Poppie en ds Regina se toewyding en diens. Hierdie twee dokumentêre films beloof om ’n treffende getuienis te wees van hoe God deur hulle lewens werk en sal deur EO Metterdaad op Nederlandse nasionale televisie uitgesaai word met die doel om God se werk deur sy kinders hier in Namibië bekend te maak.
Ons bid dat die Evangelie-boodskap – vanaf die Boesmans in die Kalahari tot in Europa – harte diep sal aanraak, en dat Jan-Willem se werk Jesus as die duidelike fokus sal laat uitstraal.
Riana terug van suksesvolle slypskool vir AMOS Meerkat-skole in Windhoek
Riana het onlangs van ’n baie suksesvolle slypskool vir AMOS Meerkat-skole in Windhoek teruggekeer. Altesaam 19 DEGNOS-kleinskooltjie ECD-onderwysers was in Grootfontein vir drie dae se intensiewe opleiding.
Tydens die program het Tracey waardevolle insette oor ’n gebalanseerde dieet en alternatiewe proteïene vir kinders gedeel, terwyl die onderwysers praktiese hulpmiddels en inspirasie ontvang het vir hul werk in afgeleë gemeenskappe.
Die logistiek van inbring en uitvat behels sowat 3 300 km se ry – ’n groot onderneming! Op pad terug het die bus ’n elektriese probleem ontwikkel, maar Jesaja van Mangetti Duin het dadelik ingespring en gesorg dat almal veilig by die huis uitkom. Bid asseblief dat elke onderwyser toegerus, bemoedig en vol nuwe moed sal terugkeer na hul skooltjies.
Kerspartytjies in Boesmanland
Dinsdag het die span saam met Trudie (CEF) vertrek om by tien skole in Boesmanland Kerspartytjies aan te bied. Die kinders het die Kersverhaal gehoor en dit terdeë geniet, saam met ’n bietjie lekkers en pret om die feesvreugde te vier.
Tsumkwe-jeugkamp en opleiding vir jeugwerkers
’n Jeugkamp is vir 80 kinders op Tsumkwe gehou. Dit was ’n geseënde tyd van saamwees, lofprysing en geestelike groei vir die jongmense van die streek. Drie van ons jeugwerkers het ook onlangs van hul opleiding in Suid-Afrika teruggekeer — vol nuwe idees, entoesiasme en planne om kinders met die Evangelie te bereik.
Besoek aan Henta en omliggende gebiede
Andries het die erediens op Henta gelei, waarna hy saam met ds Regina die omliggende plase en Mururani besoek het om die Woord te bedien en met gemeentes kontak te maak. Eredienste is regoor die area gehou – sowat 140 bedieningspunte in totaal. Ons bid dat die saad wat gesaai is, in oop harte sal val en vrug sal dra – tot eer van die Here.
Bid asseblief saam met ons
Bid saam met ons vir die onderwysers en jeugwerkers wat daagliks kinders onderrig en met liefde die Evangelie met hulle deel.
Dra ook in gebed op: Trudie, Riana, Lucia, Star, Mishe, Nhaka, Leviet, N!aici, Isak en almal wat getrou met kinders werk — dat hulle krag, wysheid en volharding sal ontvang in hul diens vir die Here.
Ná afloop van ’n baie geseënde Kersverhaal-reeks by elf skole in Boesmanland, waar meer as duisend kinders die boodskap van Kersfees gehoor het, het die plaaslike skool die koshuisleerders toegelaat om aan die Jeugkamp wat deur Trudie en haar span aangebied is, deel te neem. Bid asseblief saam met ons dat die Here self die deure verder sal oopmaak, sodat hierdie kinders die geleentheid kan hê om Sy liefde en Woord diep in hul harte te ervaar.
Ian en Becky Brunt is twee voornemende sendelinge uit die Verenigde Koninkryk wat graag saam met ons in die bediening wil kom werk. Hulle was reeds op besoek by ons en dra ’n besondere liefde vir die mense van hierdie streek. Hulle verwag tans hul eerste kindjie, ’n dogtertjie, wat ongelukkig met ’n hartdefek gediagnoseer is. Aanvanklik het die nuus bemoedigend geklink, maar onlangs het die prognose verswak. Bid asseblief saam met ons vir klein babatjie Brunt, asook vir Ian en Becky — dat hulle die Here se vrede, krag en vertroosting sal ervaar, en dat Hy sy genesende hand oor hul dogtertjie sal hou.
Een van ons getroue ondersteuners, oom Christo Botha, is tans baie siek met gevorderde kanker. Bid asseblief vir oom Christo en tannie Annetta, dat hulle in hierdie moeilike tyd die Here se nabyheid, vrede en krag diep sal ervaar. Ek het vanoggend ’n Geesvervulde besoek saam met oom Christo in die Swakopmund Hospitaal gehad, en dit was ’n kosbare herinnering aan die Here se trou, selfs te midde van swaarkry. Dra asseblief ook hul familie aan die Here op — dat Hy hulle sal vertroos en dra deur sy genade.
Mag die Here self die saad wat gesaai is, dertig-, sestig- en honderdvoudig laat groei. “Julle moet bid tot die Here aan wie die ryp koring behoort en vra dat Hy werkers sal stuur om sy oes in te bring.” — Matteus 9:38
DEGNOS-groete
| Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.









