Deur Mariëtte Odendaal
“Waar daar eers dooie grond was met bome wat enige groei verhinder het, is daar nou ’n florerende groentetuin van uie, spinasie, kool en beet. Die kerk, wat die teken van Lewe is, demonstreer nou ook Lewe na buite. Daar is nuwe hoop, daar is groei, daar is opgewondenheid en groot dankbaarheid.”
Ds Phillip Garbers
Projekbestuurder: Bultfontein-gemeenskapstuin
Wat maak jy as jy ’n kosbare stuk grond reg langs jou kerk het wat jare lank verwaarloos en onbewerk lê? Jy begin drome droom en planne maak, veral as jy in ’n omgewing bly waar armoede hoogty vier en kos skaars is. As jy dan nog boonop hulp van buite kry om jou arms sterk te help maak met hierdie droom om dit van die grond af te kry, bring dit groot vreugde en hoop in ’n gemeenskap.
En dit is presies wat gebeur het toe ds Phillip Garbers, predikant van die NG Kerk Bultfontein-Oos, en Elbie Conradie, bestuurder van Vennote in Getuienis se Reformed Initiative for Community Development (RICD), met ds Sebolai, predikant van die NG Kerk in Afrika Bultfontein, en sy kerkraad koppe bymekaargesit het.
Maar hoe het dié projek nou eintlik prakties begin? Ons het meer daaroor gaan uitvind by die projekbestuurder van dié opwindende inisiatief, ds Phillip Garbers.
Phillip, vertel meer van Bultfontein se gemeenskapstuin. Hoe het dit ontstaan en wat het dit ten doel?
“Ons NG Kerk het ’n paar jaar gelede met die NG Kerk in Afrika in Bultfontein vergader met die doel om mekaar beter te leer ken. Die gesprekke het daarna om verskeie fokus-areas gegaan, naamlik Bybelstudie, manne wat saam bid en vroue-dienste.
“Tydens een van ons byeenkomste het een van die ouderlinge my gevra om by die venster uit te kyk. Daar sien ek toe ’n groot stuk grond, oorgroei met onkruid met net ’n paar bome, wat heeltemal onbenut lê.
“Hulle droom was om dié stuk kosbare grond in ’n groentetuin te omskep. Die nood in die gemeenskap is groot, die bejaardes kry swaar en die kerk wil help. Daar was ’n groot behoefte aan die ontwikkeling van ’n gemeenskapstuin in Bultfontein en hulle het ondersteuning nodig gehad.
“Ek en Elbie Conradie het toe op 15 Oktober 2024 vir ons eerste vergadering met die kerkraad van die NG Kerk in Afrika bymekaargekom. Dit was die amptelike begin van die projek.
“Die droom het egter al baie vroeër in ds Sebolai se hart ontstaan – ’n droom wat spoedig ook sy kerkraadslede se harte aan die brand gesteek het. Hulle was almal baie entoesiasties om so iets te begin.”
Hoeveel mense is daarby betrokke?
“Daar is twee gemeentes by hierdie projek betrokke, naamlik die Getuieniskommissie van die NG Kerk Bultfontein en vurige lidmate van die NG Kerk in Afrika van Bultfontein, asook boere van ons omgewing. Sluit daarby in die ondersteuning van Vennote in Getuienis se RICD van die Vrystaat Sinode en hier is ’n wenresep!”
Wie neem die leiding daar?
“Elbie is die moeder van die projek. Sy gee leiding, spoor aan, droom nuwe drome en maak seker dat die fondse vir ontwikkeling gekanaliseer word. Entoesiastiese NG Kerk in Afrika-lidmate, soos January Matina, Jeremia Nesimola en Piet Suping het sedertdien ’n wonderlike en geil groentetuin uit die dorre aarde geskep. Water is aan die begin met die hand aangedra, aangesien dit aanvanklik min gereën het en die watertenks leeg was. Intussen is daar, danksy RICD, ’n boorgat gesink en watertenks aangebring – iets wat onontbeerlik vir die sukses van dié tuin is.
“Die beplanners en implementeerders van die gemeenskapstuin was oom Piet Ferreira, Flippie Blignaut, Stefan Fourie en Riaan van Zyl – van bome afkap, water boor, pype lê en saad voorsien tot raad en ondersteuning gee – dit álles het hulle gedoen.”
So ’n projek beteken seker baie vir die gemeenskap, né?
“Ja, beslis. Waar daar eers dooie grond was met bome wat enige groei verhinder het, is daar nou ’n florerende groentetuin van uie, spinasie, kool en beet.
“Die kerk, wat die teken van Lewe is, demonstreer nou ook Lewe na buite. Daar is nuwe hoop, daar is groei, daar is opgewondenheid en groot dankbaarheid.
“Ek was daar nadat die boorgat gesink en die pomp aangebring is. Die watertenks was vol, die besproeiing het gewerk. Ek het trane in my oë gekry – trane van dankbaarheid.
“Danksy die gemeenskapstuin is daar nou vars produkte vir die gemeenskap beskikbaar en groter planne word vir verdere bedieninge in die gemeenskap beplan.
“Hierdie gemeenskapstuin het die toonbeeld van Lewe in die plaaslike gemeente en gemeenskap geword, so daar is entoesiasme en opwinding. Soos die Here die groente laat groei en die water voorsien, so sal Hy ook sy koninkryk laat groei.”
Hoe kan mense by hierdie projek betrokke raak?
“Bid vir die NG Kerk in Afrika in Bultfontein, stuur saad en kunsmis, kom werk saam, kom gee raad, kom deel in die opgewondenheid van ’n gemeente en sien hoe die lewende Here sy seën uitstort.”
| Verskaf deur: Elbie Conradie







