Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Uitreik na Wes-Caprivi verryk lewens

Deur Mariëtte Odendaal

Baie van ons wat al so bevoorreg was om op uitreike te kon gaan, weet dat die blootstelling aan medegelowiges van ’n ander kultuur ons insig en begrip van hulle (en hulle van ons) onherroeplik verander; ’n kosbare belewenis wat ons hele geloofservaring telkens verryk.

Een van die gelukkige gemeentes wat jaarliks uitreike na die Caprivi in Noord-Namibië onderneem, is die Bothaville-gemeente. Ons het meer daaroor gaan uitvind by hul leraar, ds Dylan Allen.

Dylan, vertel ons meer oor die ontstaan en geskiedenis van jul jaarlikse Caprivi-uitreik.

“Ons is ’n paar gemeentes wat al sedert 2007 by die Caprivi-uitreik betrokke is. Aangesien ons hooffokus van die begin af verhoudingsbou was, was dit nodig om soveel moontlik daar uit te kom.

“Daar is toe besluit om jaarliks twee spanne daarheen te stuur. Die een span fokus hoofsaaklik op mediese dienste, jeugbediening en geestelike versorging en -versterking.

“Die ander span, die bouspan, se taak was om die kerkstrukture, sowel as ander fisiese handewerk wat nodig was, op die been te kry. Dit het aspekte soos die onderhoud van hul elektriese installasie, selfs groentetuinverbouing, ensovoorts behels.

“Vandag is daar net een span wat een maal per jaar opgaan. Hulle sorg dan dat beide spanne se fokusse aandag kry. Sommige van die spanlede is verantwoordelik vir die bouwerk en instandhouding, terwyl die ander verantwoordelik is vir basiese uitreikwerk.

“Wat ons op die uitreike doen, word egter nie deur ons span hier bepaal nie, maar word bestuur vanuit die Wes-Caprivi se eie geledere; ons ondersteun hulle dan in hul geïdentifiseerde behoeftes waar moontlik.”

Vertel meer van jul uitreik vanjaar.

“Vanjaar se Caprivi-uitreik het plaasgevind vanaf 27 Junie tot 9 Julie. Ons het die voorreg gehad om in die Wes-Caprivi, van Katima Mulilo tot Singalamwe wat aan Angola grens, te kon bedien.

“Vanjaar was ons ’n diverse groep van 19 mense uit gemeentes van Bothaville, Kroonstad, Welkom en Virginia. Die ouer mense in die span kon danksy hul lewenservaring baie bydra met hul wyse insette, terwyl die entoesiastiese jongmense in die span ’n vrolike en energieke bydrae gelewer het.

“Die hoofdoel met ons uitreik was weereens om ons medegelowiges daar geestelik te versorg, te versterk en aan te moedig. Omdat ons, soos hulle, Kerk van Christus is, moet ons mekaar dra, ondersteun en liefhê, sodat ons mekaar weer daardeur kan inspireer om aan te hou om die goeie stryd te stry.”

Hoe lyk dit daar in die Wes-Caprivi?

“Die temperatuur daar wissel van versengende warm somers tot ysige koue winters; baie soos ons dit hier in die Vrystaat ken.

“Dit is ’n pragtige landskap wat grens aan die Zambezirivier, sowel as die Linyanti- en Kwandoriviere wat deur die hartjie van die Caprivi loop. Jy sien ook oral baie wilde diere wat tussen die mense se huise (wat die afgelope jare baie verwesters het) beweeg, soos olifante, wildsbokke, ensovoorts.

“Hoe verder jy egter van die groot dorpe af wegbeweeg, hoe meer afgeleë word dit. Die mense se lewenswyse word ook dan toenemend tradisioneel. Dit is vir seker een van die mooiste en mees ongerepte gebiede wat ek nog ooit in my lewe gesien het.”

Vertel iets van die mense by wie julle die uitreik gedoen het.

“Die geskiedenis van hierdie mense het sy oorsprong by die Sotho’s wat in die 19de eeu van die Zulu’s ontvlug en noordweswaarts beweeg het totdat hulle die Zambiërs teëgekom het. Hier het hulle vermeng en die Losi-stam gevorm. Tot vandag toe kan ons iets van ons Vrystaatse Sotho’s by hierdie mense ervaar. Dié van ons wat byvoorbeeld Sotho magtig is, kan jy so half en half verstaan wat die Losi-mense sê en hulle kan ook iets van ons Sotho verstaan.

“Daar is nêrens ’n plek op aarde waar ’n mens met soveel liefde en deernis ontvang word soos by hulle nie. By die een gemeente, genaamd Lezauli-village, word ons gewoonlik deur die hele gemeente langs die hoofpad ontvang en ingewag met liedere soos Visitor’s we greet you in the name of Jesus, the Father and the Holy Spirit, ’n onvergeetlike ervaring. Terwyl ons dan by die dorpie inry, word ons aangemoedig om uit ons voertuie te klim en saam met hulle te dans tot ons by die kerkgebou kom.

“Hulle verwelkoming is telkens oorweldigend; ’n opregte gebaar wat iets weergee van die hartlike liefde van die mense na wie ons uitreik. Ons leer by hulle baie van die krag van Christus se liefde.”

Wat het hierdie uitreik vir julle asook vir die Caprivi-mense beteken?

“Vreugde. Wedersyds. In ons saamwees het ons ontdek hoe goed God vir ons groep, sowel as vir hulle as gemeentes is. Daarom het albei ons groepe ’n vreugde in die Here herontdek; iets waaroor ons nog baie kan praat.

“Getuienisse soos die volgende is uit ons span gehoor: ‘Ek het gesien hoe liefde vir God waarlik moet lyk.’ ’n Ander persoon het gesê: ’nou verstaan ek werklik waarom die Here ons stuur.’ Nog een se wens is: ‘Mag God hierdie bediening vermenigvuldig, want die effek wat dit het – nie net op die mense na wie toe ons uitreik nie, maar die effek wat dit het op ons wat gestuur is – is onmeetbaar. Daarom kan ons God net dank om deel hiervan te kan wees.’

“Die evangelis daar, Ernst Kamwe, vir wie ons by elkeen van die gemeentes in die Wes-Caprivi as tolk gebruik, my broer in Christus, het aan die einde van ons besoek gesê: ‘Reverend, we thank you, and we praise God for you.’

“Is dit nie wat Paulus ook aan die gemeente in Fillipi in Fillipense 1 sê nie? ‘Ek dank my God vir julle.’ Hierdie hartroerende woorde klink dalk doodgewoon, maar dit maak dit alles die moeite werd.”

Vir meer inligtng kan ds Dylan Allan by dylanallen265@gmail.com gekontak word.

 | verskaf deur ds Dylan Allen