Die vraag word baie geopper (veral van mense buite die kerk), waarom is die kerk so “verskeurd”? Die fragmentering van die kerk in ‘n veelheid van denominasies bly ‘n groot uitdaging vir die kerk – veral as die belydenis van die kerk is, dat die kerk een is. Uit die Gereformeerde belydenisskrif, Die Nederlandse Geloofsbelydenis, kom die frase “ek glo in een heilige algemene Christelike kerk” by ‘n mens op. Ons bely ‘n eenheid wat maar moeilik sigbaar is in die praktyk!
Binne die hoofstroom kerke, waarvan die NG Kerk en die Lutherse Kerk deel is, is daar altyd ‘n strewe na die Ekumene. Die Griekse woord oikoumenē dra in sy betekenis onder andere begrippe soos die bewoonde aarde, die inwoners van die aarde, mense en die heelal, die wêreld. Ekumene is die soeke na Christelike eenheid – ‘n reaksie op die Bybelse opdrag van Jesus in sy laaste gebed in die tuin van Getsemane: dat al sy volgelinge een mag wees, aangesien hy en die Vader een is. (Johannes 17:20-22)
Die uiteindelike doel van alle ekumeniese pogings en werksaamhede is ‘n poging om êrens in die wêreld iets tot stand te bring van ‘n volledige, organiese eenheid – ‘n enkele kerk van Christus, wat sigbaar en onsigbaar verenig word.
Uit die aard van die saak het verskillende kerke egter verskillende idees oor wat so ‘n eenheid moet wees en hoe om daar te kom. Dit kan ons egter nie stuit of verhinder om werksaamhede te begin wat hierdie eenheid meer sigbaar maak nie.
Een ding waaroor almal saamstem, is dat eenheid nie eenvormigheid beteken nie. Dit beteken nie dat alle Christene bloot NG Kerk, Luthers, Rooms-Katoliek, Grieks-Ortodoks of wat ook al hoef te word nie. Ons vind juis ook eenheid binne hierdie diversiteit van denominasies waar ‘n verskeidenheid van aanbiddingstyle, kerkordes, organisatoriese inkledings, ensovoorts geld. Dit is in die deel van ‘n ekumeniese visie dat ons ruimtes vind en dan toelaat dat eenheid gebeur in sekere werksaamhede.
Die samewerkingsooreenkoms tussen Vennote in Getuienis (Vrystaat Sinode), St Paulus Evangelical Lutheran Church in Bloemfontein en die Evangelical Lutheran Church (ELCSA – Cape Church) is juis ‘n voorbeeld van só ‘n ekumeniese samewerking tussen twee kerke oor die denominale grense heen. Die behoefte het ontstaan vir ‘n leraar by die gemeente, en aangesien leraars (pastors in die Lutherse tradisie) tans skaars is, is ‘n versoek gerig aan Vennote in Getuienis om ‘n leraar (pastor) te sekondeer aan die gemeente.
Na samesprekings op Algemene Sinodale vlak (tussen die Lutherse Kerk en die NG Kerk asook Vennote in Getuienis) is besluit om ‘n samewerkingsooreenkoms te sluit wat dit moontlik sal maak vir gemeentes van die NG Kerk en die Lutherse Kerk om leraars (pastors) wedersyds te sekondeer met die oog op bediening in gemeentes waar leraars (pastors) benodig word.
Dit is vir beide kerke ‘n voorreg om aan te kondig dat dr Gideon van der Watt (emeritus leraar) die eerste leraar sal wees wat volgens hierdie ooreenkoms gesekondeer word om as pastor by die Lutherse kerk diens te doen. Dit ons gebed dat hierdie samewerking vir St Paulus gemeente, die Lutherse Kerk, die NG Kerk en die Koninkryk van God tot groot seën sal wees.
