Deur Mariëtte Odendaal
Met hierdie uitgawe fokus ons op ’n tweede projek wat deur Vennote in Getuienis se Reformed Initiative for Community Development, of ook genoem RICD, ondersteun word.
Dit is die gewilde en merkwaardige gemeenskapsrugbyspan in Clarens, genoem die Clarens Eagles rugbyspan. Ons amal ken daardie gevoel van trots wat in jou opwel en soms jou trane laat loop as jy na ’n rugbywedstryd kyk en saam met jou span die volkslied sing. Dit het die vermoë om massas mense saam te snoer sodat hulle as één stem vir hulle skree.
Dink net wat dit vir ’n gemeenskap kan beteken as rugby ’n dorp so kan saamsnoer dat hulle as één gemeenskap kan begin saamwerk aan die verbetering van die hele gemeenskap. En dis presies wat in Clarens gebeur het, danksy hul Eagles. Ons het meer gaan uitvind.
Die Clarens Eagles rugbyspan het in 2020 as gemeenskapsprojek, kort ná die Rugbywêreldbeker in Japan, ontstaan. ’n Klein groepie seuns van sestien en sewentien jaar oud van die Sekondêre Skool Moriting Wa Thuto in Clarens, geïnspireer deur die prestasies van Siya Kolisi se Rainbow Team, het besluit om ’n rugbygroep te begin. Die skool kon egter net ’n rugbybal en twee stampsakke voorsien, maar dit het hulle nie gestuit nie.
Die seuns het begin oefen op ’n klein veldjie in Kanana, een gedeelte van die township in Clarens. Aanvanklik was ’n paar plaaslike ouers en jeugleiers daarby betrokke, maar die Covid-pandemie het die verdere ontwikkeling daarvan vertraag. In 2021 het die projek egter weer momentum gekry toe Lebote Miya, toe sestien jaar oud (wat later kaptein sou word), in kontak gekom het met ds Jan Venter, destyds die nuwe leraar van die plaaslike NG-gemeente en ’n voormalige rugby-afrigter van Pretoria.
’n Vergadering tussen ouers en vrywilligers het gelei tot ’n besluit om die projek behoorlik te vestig en die Eagles het van die veldjie af na die Laerskool Clarens se sportveld verskuif. Paolo Bertuzzi, eienaar van die plaaslike Italiaanse restaurant, Bocca di Lupo, het amper ’n kwarteeu lank in Italië rugby gespeel en is passievol daaroor. Aangesien hy ook besorg is oor die welsyn van die seuns, het hy by die afrigtingspan aangesluit en een van die projekleiers geword.
Ds Jan Venter staan hom by as mede-projekleier en -afrigter. Aan die einde van 2021 het die groep van sowat vyftien na ongeveer vyf-en-dertig spelers gegroei, meestal skoliere, met ’n paar post-matrieks wat reeds hul skoolloopbaan voltooi het.
Meer as net rugby
Die Eagles is nie net ’n span nie, dit is ’n gemeenskapsprojek wat kinders van uiteenlopende omstandighede saamsnoer.
Baie van die seuns kom uit gebroke gesinne en rugby bied aan hulle struktuur, dissipline en ’n gevoel van samehorigheid en broederskap. Danksy dié projek leer hierdie jong seuns kosbare lewensvaardighede aan, hoe om trauma en uitdagings te hanteer en veral dat hulle mag droom, dat daar ’n toekoms is waarvoor hulle kan werk. Die afrigters motiveer die seuns ook in hulle skoolwerk.
’n Graad 11-studiegroep van sewe seuns werk saam met plaaslike studieleiers om hulle akademiese prestasies te help verbeter. Daar is reeds oud-spelers wat verder studeer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Sentrale Universiteit van Tegnologie (CUT). Verskeie van die spelers het ook al hul skooljaar geslaag nadat hulle vroeër gedruip het.
Lebote Miya studeer byvoorbeeld Onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en het sy eerste semester met ’n 72%-gemiddeld voltooi. Sechaba Mosia, ’n tweedejaarstudent, studeer Siviele Konstruksie aan die CUT. Mojalefa Nkosinkulu is ingeskryf vir Verpleegkunde en Tiisetso Mofokeng vir Regte vir volgende jaar.
Prestasies op die veld en elders
In 2022 het die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas ’n rugby-kliniek in Clarens aangebied wat ’n spesiale verhouding tussen die Eagles en Shimlas tot gevolg gehad het. Gedurende die Varsitybekerreeks het die Eagles weekliks bemoedigingsboodskappe aan die Shimlas gestuur. In September 2022 het die Eagles hulle eerste amptelike wedstryd gespeel en gewen teen die Bethlehem-Zebras, wat sedertdien hul grootste mededingers is.
Die jaar is afgesluit met ’n rugby-jaareindfunksie by die plaaslike gholfklub, waar Thabang Mahlasi, kaptein van die Shimlas, die gasspreker was. Die 2023-seisoen het afgeskop met ’n toer na Bloemfontein, waar die spanne die Varsitybekerwedstryd bygewoon en teen plaaslike jeugklubs gespeel het. Een oorwinning, een naelskraap verlies.
Die toer het besoeke aan Grey Kollege, Naval Hill, die Vrystaatstadion en ander bekende plekke ingesluit. Twee van die spanleiers het selfs ’n halftyd-onderhoud op Supersport se nasionale uitsending gedoen. ’n Onvergeetlike ervaring, veral aangesien baie van die seuns nog nooit voorheen ’n regstreekse rugbywedstryd beleef het nie.
Vanaf 2024 het die Eagles weer op ontwikkeling begin fokus deur jonger spelers te begin inneem. Senior spelers help om die nuwe generasie op te lei, terwyl die oueres met trots afskeid neem.
’n Span wat die gemeenskap saamsnoer
Van die grootste hoogtepunte vir Clarens was twee rugbydae, naamlik ’n wedstryd teen die Bethlehem-Zebra rugbyspan in 2023 by die Kobetswana Stadion, en vanjaar se groot rugbydag op Clarens. Tydens die eersgenoemde dag in 2023 het die hele gemeenskap, van ouers en vriende tot inwoners uit alle dele van die dorp, saamgekom. ’n 60-jarige inwoner het opgemerk dat hy nog nooit gesien het dat Clarens so verenig is nie.
In Junie vanjaar het die Eagles met Welkom Rovers en Bethlehem-oudstudente saamgesnoer en ’n groot rugbydag op Clarens aangebied. Die twee klubs se eerste tot derde spanne het mekaar gepak en die Eagles se senior- en juniorspanne het Witsieshoek Rugby-akademie getroef. Talle toeskouers, asook die dorp se verskillende gemeenskappe, het die dag bygewoon.
Die Eagles dra ook, buiten op die rugbyveld, hul deel vir die gemeenskap by. Hulle dien as roete-opsieners by die Titanic Challenge Trial Run ten bate van die Clarens Natuurpark, help by die Clarens Bierfees en die Clarens Kunstefees. Sodoende bou hulle aan hul selfvertroue en doen kosbare werkservaring op.
Hoe kan jy help?
Enigiemand wat ’n bydrae wil maak, kan betrokke raak deur borgskappe, die skenking van rugbytoerusting of deur tyd af te staan as mentor of studieleier. Hierdie projek is ’n beleggingsmoontlikheid, nie in geldelike wins nie, maar in jong lewens wat verander word.
Kontak gerus vir ds Jan Venter by j.a.n.venter@icloud.com vir meer inligting.
| Verskaf deur ds Jan Venter

