Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Hier aan die tuisfront is dit ’n rustiger tyd ná ’n baie besige eerste helfte van die jaar.
Hier is ’n paar belangrike nuusbrokkies:
Visser Njamba aangestel as koster op Mangetti Duin
Antonio (Kapita) Mahongo het vir baie jare gesorg vir alles buite die huis op Mangetti Duin. Hy het al ’n tyd gelede afgetree, maar ons het gesukkel om iemand in sy plek te kry.
Die Kerkraad van NG Kerk Luhebu-Noord het tydens hul Februarie-vergadering besluit om broer Visser Njamba aan te stel as koster vir dié wyksgemeente.
’n Huis is vir Visser en sy vrou gebou, en met hulp van drywer Jesaja is hulle vanaf Kanovlei na Mangetti Duin verskuif. Visser was baie betrokke by jeugbediening en kategese in Kanovlei. Sy teenwoordigheid in Mangetti Duin is ’n groot seën – maar dit laat ook ’n groot gaping in Kanovlei agter.
Bid asseblief saam met ons dat die Here Visser se werk op Mangetti Duin sal seën en iemand uit Kanovlei sal roep om voort te gaan met die bediening daar.
| Verskaf: Deur Andries Gous, DEGNOS. Heuwelsig-gemeente se uitreik-video. Boesmans in Noord-Oos Namibie – 4 min voorskou om hulle en predikers te ondersteun travel2cmore.
Bediening en opleiding in Tsumkwe gaan voort
Die Tsumkwe-gemeente bestaan uit 45 habitatte, versprei oor 10 000 km² in die Nya Nya- en N#a-Jaqna-bewaringsgebiede – dit funksioneer eintlik soos 45 aparte gemeentes!
Sedert 2022 is ons besig met prosesse om die bediening daar te versterk. Sedert 2024 word 70 geestelike leiers opgelei met die hulp van ds Johannes Aucamp en ds Lucas van Vuuren.
Ds Leviet Kxao is deur die gemeente aangewys as mentor vir die leiers. ’n Sinkhuis is vir hom op Tsumkwe gebou, en hy en sy gesin het van #Goaguru na Tsumkwe verhuis.
Bid asseblief vir ds Leviet in sy rol as mentor, en vir die 70 leiers in opleiding wat die lig van Christus dra na elke habitat.
Vervoer vir die bediening: Aspirant-drywer aangestel
Om ds Leviet se werk moontlik te maak, is ’n bakkie aangekoop met die hulp van een van ons donateurs. Soos in Luhebu-Noord, is daar besluit om ’n drywer aan te stel.
Tsamkxao Kunta is geïdentifiseer as aspirant-drywer. Hy ontvang tans opleiding in Grootfontein oor:
- Basiese voertuigonderhoud
- Defensiewe bestuur
- Noodhulp
- Pad- en DEGNOS-reëls
- Voertuigmonitering
en vele meer!
Bid asseblief vir Tsamkxao — dat hy toegerus sal wees om hierdie belangrike rol met ywer en wysheid te vervul in diens van die Here.
Sterfte: Tracey se pa is oorlede
Andries en Tracey is tans op pad terug van die Natalse Suidkus, waar Tracey die afgelope twee weke vir haar pa gesorg het. Buddy Dellar, haar pa, is op 28 Julie oorlede.
Die roudiens het op Saterdag 2 Augustus plaasgevind, waarna hulle op Sondag 3 Augustus hul reis terug na Grootfontein begin het.
Uitreikgroep van TVCC (Tennessee, VSA)
Ons het vanaf 5 Augustus ’n uitreikgroep van ons vriende in Paris, Tennessee (TVCC) ontvang. Hulle kom besoek die Tsumkwe-gemeente vir ’n tyd van bediening, bemoediging en samewerking.
Bid asseblief saam met ons dat hierdie uitreik ’n Geesgevulde en vrugbare tyd sal wees!
Dankie vir julle gebede, ondersteuning en belangstelling in die werk wat die Here deur DEGNOS doen.
“Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees,” sê die Here. – Sagaria 4:6-10
Ek lees 1 Sameul 4 waar die Israeliete die ark saamneem om te gaan oorlog voer en dan verloor hulle liederlik die stryd. En ek dink hoe dat ons dink dat ons sukses afhang van ons wat God saamneem en ons vergeet dat God alomteenwoordig is. Hy is alreeds daar waarheen ons gaan – want Hy is altyd oral.
Ek is die Here dankbaar dat die werk van DEGNOS en die werk van God nie afhang daarvan of Andries teenwoordig is nie. God self is aan die werk en ons loof Hom daarvoor, ons loof Hom dat ons mag deelneem aan die werk wat Hy self doen in Sy Koninkryk. Prys die Here.
Besoek aan Swart Tak
Saam met ds Jafet Moyo en Mishe (jeugwerker) word vir die eerste keer ’n gemeenskap besoek op ’n plekkie genaamd Swart Tak, naby aan die Rooidag hek. Daar vind hulle ’n man genaamd Elias en sy familie wat die Here dien. Elias dra die Evangelie na sy mense toe – al het hy nie baie kennis nie – want die Here is alreeds daar!
Ds Jafet Moyo vertel dat hulle besluit om die mense daar te help deur die Vaste Fondamente-opleiding met hulle te deel in die toekoms. Ook sal Mishe hulle help om hul jeugbediening van die grond af te kry. Die Here het alreeds sy mense bymekaar gemaak – nou is ons werk om te help dat die gelowiges daar beter toegerus is om die Evangelie verder te dra.
Bid asseblief saam met ons vir die gelowiges op Swart Tak.
Besoek aan #Goaguru
Sowat 230 km noordoos van Swart Tak besoek ds Isak saam met ds Leviet die gemeenskap waar ds Leviet gebly het voordat hy teruggeroep is na Tsumkwe. Die bediening gaan steeds goed aan op #Goaguru onder leiding van die plaaslike gelowiges. Hulle het nie meer ’n predikant by hulle in die habitat nie, maar God self hou sy kerk in stand deur die gelowiges wat daar deur ds Leviet toegerus is terwyl hy daar gewoon het.
Bid asseblief saam met ons dat die Here die werk op #Goaguru sal laat voortgaan.
Twee gelowige voorvegters sterf
Op Luhebu sterf ons broer Augustinus Kambinda. Augustinus was vir baie jare ’n man wat sy gemeenskap bedien het met die Evangelieboodskap. Op Omega sterf ou Levitikus, die skoonpa van ons sendeling Smith Muyatwa. Ek sal nooit vergeet nie hoe Levitikus vir my en Smith telkemale beskerm het (fisiek en in gebed) in die stryd teen die bose. Ek weet met sekerheid dat al twee hierdie godsmanne se kamers vir hulle reg was in ons Vader se huis met die baie kamers. Hoe wonderlik is dit nie vir ons om te weet dat dit nie totsiens is nie, maar tot weersiens.
Bid asseblief saam met ons vir die familie vir vertroosting.
Uitreikgroep uit die VSA
Vandag arriveer ’n uitreikgroep vanaf Tennessee in die VSA by ons om saam met ons in die Tsumkwe-gemeente te werk vir die volgende klompie dae.
Bid asseblief vir die Here se seën op hierdie besoek.
DEGNOS-groete
| Verskaf: Deur Andries Gous, DEGNOS. Die gelowiges by Swart Tak saam met Isak, Jafet en Mishe


