Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Hadith: Die versamelde woorde en werke van Mohammed

In die algemeen verwys “Hadith” in arabies na ‘n gesprek of ‘n literêre tradisie. Vir meeste Moslems verwys dit egter na ‘n geskrewe weergawe van die lewe van Mohammed, veral wat drie sake betref: Sy woorde, sy dade en sake wat hy deur sy stilswye goedgekeur het. Die Hadith is meer as tweehonderd jaar ná Mohammed se dood saamgestel na aanleiding van stories wat oor geslagte heen oor hom vertel is[1]. Hierdie tydsverloop is juis ‘n bron van kritiek oor die betroubaarheid van die Hadith.

Die hadith word dikwels die morele ruggraat van Islam genoem. Vir meeste Moslems is die gesag van die Hadith, as bron vir godsdienstige wette, belangriker as enige reëls of boeke, behalwe die Koran. Daar is trouens binne Islam ‘n debat hieroor, aangesien daar ervaar word dat party Moslems meer waarde heg aan die Hadith as aan die Koran. Baie Moslems glo egter dat die Hadith nie ‘n goddelike oorsprong, soos die Koran, het nie.

Baie belangrike sake wat deur Moslems aanvaar word, na aanleiding van die Hadith, kom nie in die Koran voor nie. Hierdie is nie bloot interessante feite nie. Dit is noodsaaklik om daarvan bewus te wees en te gebruik in ons gesprekke met Moslems. Ten minste twee sake wat deel vorm van die Pilare van Islam (sien Studie 5 in hierdie reeks) kom nie in die Koran voor nie. Die eerste pilaar, wat die belangrikste saak in Islam is, lui: “Allah is die enigste God en Mohammed is sy profeet”. Dit kom uit die Hadith en nie uit die Koran nie. Dieselfde geld vir die derde pilaar (die Zakat) wat bepaal dat Moslems 2,5% van hulle jaarlikse inkomste vir armes en die Moskee moet gee.

In ‘n Moskee mag mans en vroue nie saam aanbid nie. Hierdie reël kom ook nie uit die Koran nie, maar uit die Hadith. Dit weerspreek trouens hoofstuk 62:9 van die Koran wat beveel dat mans en vroue, veral op Vrydae, saam moet aanbid.

In die vorige studie in hierdie reeks het ons kortliks gekyk na die Shariah-regstelsel in Islam. Daarin het ek ook verwys het na die opstande wat in Iran gevolg het op die dood van ‘n jong vrou, Mahsa Amini, wat deur die Morele Polisie doodgemaak is. Sy het geprotesteer teen die drakoniese wette in die land, wat onder andere vroue verplig om te alle tye in die openbaar ‘n hijab (of burkah) te dra. Die ironie (tragiese?) van die storie is onder andere dat die Koran nie van vroue eis om dit te dra nie, maar die Hadith.

In gesprek met Moslems sou dit gepas wees vir ons om aan hulle te vra hoekom (sommige van) hulle ander tradisies in so ‘n mate hoër as die Koran ag, dat baie mense hulle lewens verloor oor goed wat Allah nooit vir hulle gesê het nie. 

[1] Hamdeh, E. 2019. Are Hadith necessary? An examination of the authority of Hadith in Islam.  

116 | Maatskaplike NOODLYN