Deur ds Christo Weideman, Verteenwoordiger: Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) en leraar van NG Gemeente Kroonheuwel-Noord
Handelinge 1:9-11 AFR83
(9)Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. (10)Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. (11)Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
Komende Donderdag vier die kerk oor die hele aarde die hemelvaart van Jesus. Lukas berig oor hierdie gebeure in die laaste verse van sy eerste boek (Lukas 24), asook in die eerste verse van sy tweede boek (Handelinge). Wat ’n gebeure moes dit nie gewees het om te kon aanskou nie!
En alhoewel ons dit nie meer as ’n amptelike vakansiedag vier nie, moet die kerk beslis nog iewers ruimte maak om hierdie dag behoorlik te vier. Want Hemelvaart bevat minstens twee wonderlike beloftes waarmee ons vandag nog kan lewe:
Die belofte van die Heilige Gees
Let mooi op hoe Lukas vers 9 begin: “Nadat Hy dit gesê het …” Wat gesê het? Die eerste verse van Handelinge handel oor die belofte van die Heilige Gees. Vers 4 en 5: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” En dan natuurlik die groot vers 8: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
En nou sê Lukas: Nadat Hy dit gesê het, is hy opgeneem! Hemelvaart en Pinkster is dus onlosmaaklik aan mekaar verbind vanweë hierdie wonderlike belofte van die Gees. Wanneer ons volgende week ons jaarlikse Pinksterdienste begin wat uitloop op Pinksterfees, behoort ons dit voortdurend te onthou – dis die waar-wording van Jesus se belofte met sy hemelvaart!
Die belofte van Jesus se terugkoms
Terwyl hierdie manne nog verslae staan en kyk hoe Jesus wegraak terwyl die wolk Hom wegneem, staan daar twee manne (engele) by hulle en deel ’n tweede belofte met hulle:
Jesus sal net so weer terugkom soos julle Hom nou sien weggaan het!
Hierdie belofte lê nog in die toekoms en hoe lank ons nog op daardie dag sal moet wag, weet nie een van ons nie! Maar dat dit vas en seker staan – die Here kom op ’n dag terug, dis gewis! Wat ’n heerlike vooruitsig!
Hoe kan ons ooit oor hemelvaart dink as onbelangrik en nie ’n groot genoeg gebeure om oor fees te vier nie! Twee van die kragtigste beloftes loop hand aan hand met hierdie gebeure: Terwyl die eerste een 10 dae ná hierdie dag waar geword het, wag ons opgewonde op die tweede belofte se waar-wording!
Kom ons bid daarom in alle erns: Maranata – kom Here, kom tog gou! Dit – terwyl ons met die krag van die Gees in ons, elke dag tot Sy eer, kerk van die Here Jesus Christus is!
| verskaf: Ds Christo Weideman, Verteenwoordiger: Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) en leraar van NG Gemeente Kroonheuwel-Noord.

