Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Krag van die Gees

Deur ds Etresia van Schalkwyk,
leraar van NG Gemeente Memel

13 “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

ROMEINE 15:13 AFR83

Pinkster bring ’n nuwe hoofstuk vir die dissipels wat Jesus groet, maar ook vir elke gelowige. ’n Hoofstuk wat nog net so vol is van krag en wonderwerke en ’n gelooflike God wat beweeg en leef, as toe Jesus self teenwoordig was.

Pinkster bring ons in die hoofstuk in waar die verandering en effek wat die Gees in en deur ons kan bewerk, duidelik word. ’n Hoofstuk waar ons nie net hoor van Jesus wat met mag optree nie, maar waar elke gelowige met hierdie mag uitgestuur word. ’n Hoofstuk waar die gewone persoon die Goddelike kom duidelik maak deur die werk van die Gees.

Die verandering wat die Gees in en deur ons bewerk, moet maak dat ons aanhou beweeg. Hierdie verandering moet ons beweeg tot ’n lewe waar God verheerlik word, Sy koninkryk eerste gesoek word en die vreugde oor Hom alles oortref. Verandering wat passie en vrede bring in elke situasie in die lewe. Verandering wat nie vanuit ons eie krag kom nie, maar slegs moontlik is deur ons afhanklikheid van die Gees wat deur ons werk. Die Gees waarsonder geloof (1 Korintiërs 12:1-3), sekerheid (Romeine 8:14-16) en groei (Johannes 16:12-15) nie moontlik is nie. Die Gees wat ons die krag gee om nie net fees te vier nie, maar ook bruikbare instrumente vir God te wees (Handelinge 1:8). Die Gees wat ook vir ons, as gebarste kruike, intree (Romeine 8:26-27). Die Gees wat herstel bring waar dit menslik onmoontlik is (Psalm 51).

Pinkster is waar ons weer besef wat die krag van die Gees, wat deur ons werk, kan doen. ’n Besef van die mag wat ons deur die Gees ontvang en tot ons beskikking het. God los ons nooit hopeloos en kragteloos op moedverloor se vlakte nie. Deur die krag van die Gees wat in ons en deur ons werk kan twee vroue se gebede ’n oplewing bring, kan ’n vervelige preek die verskil maak tussen ewige lewe en ewige dood. Deur die Gees wat in ons en deur ons werk, kan regverdigheid seëvier en haat in liefde verander, is eenheid in Christus se liggaam moontlik. Die krag van die Gees wat in ons is en deur ons werk, bring ’n kragtige verandering in ons eie lewe en dié van die mense rondom ons.

Pinkster is die kans wat ons het om deur die Gees weer vreugde, heiligheid en nederigheid te ervaar soos ons verder die pad saam met God stap. Dit is die tyd waarin ons weer genooi word om te droom van ’n lewe soos God ons leer en die Gees ons inspireer. ’n Lewe waarin daar herstel, vreugde, regverdigheid, omgee, passie en wonderwerke is.

Pinkster is die tyd waarin ons opgeroep word om verantwoordelik die krag van die Gees te gebruik en met Sy gesag weer op te staan en verder te beweeg. Deur die Heilige Gees kan ons die Woord betroubaar verkondig en aanhou om in Sy weë te wandel. Deur die Heilige Gees kan ons wonderwerke van herstel en genesing sien. Deur die Heilige Gees kan ons met krag leef, met wapens wat niemand kan wegvat nie.

Pinkster plaas die keuse voor elkeen se deur of ons gaan aanhou beweeg vanuit ons eie krag en mag en of ons deur die krag van die Gees wat in ons beweeg, ’n blywende verandering gaan bring. Sien ons werklik kans om ten volle vanuit hierdie krag te leef?

’n Gewone visserman het deur die krag van die Gees, met gewone woorde, ongeveer 3 000 mense se lewens op een slag verander. Pinkster herinner ons dat ons self ook deur die krag van die Gees verandering kan bring. Vertrou God genoeg om hierdie kans te waag en die uitwerking te sien.

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13)

 | verskaf: Ds Etresia van Schalkwyk, leraar van NG Gemeente Memel

116 | Maatskaplike NOODLYN