Deur Mariëtte Odendaal
“Die oorsese jagters het dit so positief ervaar dat hulle dit graag wil uitbrei. Ons het binnekort weer so ’n jagtog op hande en die jagters praat alreeds van 28 mense wat hulle dan graag in diens sal wil neem. Dit sal ons help om nog meer werklose mense uit die groter Viljoensdrif-omgewing asook Kragbron en Taaibosspruit te betrek en te help.”
Dr Jan de Man
Leraar: NG Gemeentes Viljoensdrif en Taaibosspruit
Was jy al saam met jou pa en sy jagtersvriende op ’n vroeë wintersoggend in die veld op jag, terwyl die son nog laag in die slierte mis lê? Julle stap versigtig in een lyn langs mekaar met ’n skaflike spasie tussen elke twee; geweerlope grond toe gerig. Die opwindende afwagting bind julle as groep saam – daar is ’n samehorigheid en jy as jongmens voel jy word geag, want jy is nou ook deel van dié groep.
As jy as werklose in ’n baie klein gemeenskappie deel van so ’n groep word, voel jy jy word raakgesien – jy is iets werd. Én jy kry boonop die geleentheid om te werk en jou eie geld te verdien!
En dis presies wat dr Jan de Man, predikant van die twee gemeentes Viljoensdrif en Taaibosspruit in die Ring van Vaalrivier, Noord-Vrystaat, doen. Ons het meer gaan uitvind.
Jan, hoe het jy by die jagtersprojek betrokke begin raak?
“Sowat tien jaar gelede het ek, in samewerking met die breër jagtersgemeenskap, jagtydskrifte en heelparty ander borge met ’n projek begin waardeur ons ons passie vir jag met kinders sou deel; kinders wat om watter rede ook al nooit die kans sou kry om te jag nie.
“Dit sluit kinders van kinderhuise en ander jeugsorgsentrums, kinders in enkelouergesinne of enige ander moeilike sosio-ekonomiese omstandighede, asook kinders met gestremdhede in.
“So het ons die afgelope dekade alreeds aan meer as honderd kinders oor die hele land heen die geleentheid gebied om te leer skiet en hulle op jagtogte geneem. Die vleis van die bokke is dan aan byvoorbeeld die betrokke kinderhuis of jeugsorgsentrum geskenk.
“Die kinders se ervarings word in die Wildland-jagtydskrif vertel en dan kry hulle ook die bok wat hulle geskiet het se vel en horings, asook ’n boek en knipmes; iets waarop hulle ongelooflik trots is.
“Ek dink hierdie projek, en die impak daarvan op mense wat nooit hierin sou kon deel nie, het ons meer sensitief gemaak vir ander jagverwante projekte waardeur nood in die breër gemeenskap gelenig kan word.”
Hierdie inisiatief van jou het intussen vlerke tot in Brittanje gekry. Vertel meer.
“Een van ons grootste uitdagings in die klein nedersettinkie van Viljoensdrif is die ongeveer twintig werklose mense wat in ou Spoorweg- (Transnet)-huise hier, net ’n klipgooi van die kerk af, bly. Alhoewel hulle nie juis huur betaal nie, word hierdie huise nie meer van krag voorsien nie en het dit meestal ook nie water nie. Ons gemeente help soms om hulle van water te voorsien, maar dis maar die spreekwoordelike druppel aan die emmer. Hierdie mense kry baie swaar. Alhoewel hulle bereid is om te werk, is hier net eenvoudig nie werkgeleenthede nie.
“Afgesien van ’n sopkombuis- en naaldwerkprojek in ’n poging om ons werkloses te help, het ek, ’n professionele jagter en ’n voëljagter van Engeland onlangs met ’n nuwe plan vorendag gekom.
“Alhoewel ek nie meer self so ernstig jag nie, het ek nog baie goeie kontak met jagondernemers en professionele jagters wat kliënte van oorsee af kry. As gevolg van die groot boerderybedrywighede in ons omgewing is hier baie voëls. Die jagters reël dan met my as hulle vir ’n paar dae duiwe of selfs watervoëls en tarentale in die omgewing wil jag. Boonop is die lughawe ook naby; iets wat baie in ons guns tel om ons omgewing vir jagters maklik toeganklik te maak.
“Verlede jaar het hierdie bedryf egter in ’n verrassende nuwe rigting begin ontwikkel. Tydens ons winterjagseisoen was hier ’n professionele jagter met ’n jagter van Brittanje wat baie beïndruk was deur ons jagprojek met kinders asook die projekte ter ondersteuning van die werklose mense in ons omgewing. Daarna wou hy ook baie graag hierby betrokke raak en het die geleentheid raakgesien om via die jagtersbedryf groter gemeenskapsbetrokkenheid te bewerkstellig.
“Hy het toe ’n groepie jagters bymekaargemaak wat die werklose gemeenskap se dienste tydens die jagtog sou gebruik; ’n proeflopie om te sien of dit sou kon werk. Hy het vanjaar toe ook ’n jagagent uit die noorde van Engeland saamgebring om eerstehands te kom kyk hoe dit werk.
“Met die werwing van die groep jagters het die agent die voordeel gehad dat die jag geadverteer kon word as ’n jagtersondervinding met ’n opbouende gemeenskapsimpak. Sy addissionele bemarkingsinvalshoek was: ‘Kom jag hier en maak ’n verskil’. Hierdie invalshoek spreek nou ’n al groterwordende groep oorsese jagters aan, waaroor ons natuurlik baie dankbaar is.”
Jan, hoe is dit toe prakties ten bate van die werklose gemeenskap geïmplementeer?
“Ons het toe so ’n maand gelede vyftien werklose mense, waarvan die meerderheid vroue was, uit die gemeenskap gekry wat tydens hierdie eerste driedagjagtog ingespan is om die jagters by te staan.
“Die vroue het by sekere punte met vlae gestaan om die voëls na die vluglyne ‘aan te keer’ sodat die jagters meer en makliker skote kon kry, en die mans is elkeen aan ’n spesifieke jagter toegeken om hulle in die jagproses te ondersteun. Voëls wat geskiet is, asook die doppies, moes byvoorbeeld opgetel en versamel word en sekere toebehore moes aangedra word; iets wat van groot hulp vir die jagters was.”
Watter impak het hierdie eerste proeflopie toe op die gemeenskap asook die jagters gehad?
“Ons mense het vir die drie dae se werk ’n inkomste verdien en boonop kon hulle die voëls wat geskiet is, kry. Met hul welverdiende inkomste kon hulle toe noodsaaklike items vir hul huishouding en gesinne aankoop; iets wat besonder waardeer is.
“Ons kry geweldige goeie terugvoer uit die gemeenskap. Hulle het groot waardering vir hierdie inisiatief.
“Die oorsese jagters het dit so positief ervaar dat hulle dit graag wil uitbrei. Ons het binnekort weer so ’n jagtog en die jagters praat alreeds van 28 mense wat hulle dan graag in diens sal wil neem. Dit sal ons help om nog meer werklose mense uit die groter Viljoensdrif-omgewing asook Kragbron en Taaibosspruit te betrek en te help.
“Alhoewel dit nie ’n ‘kerkprojek’ is nie, is dit ons lidmate en gemeenskap wat hul gewig agter hierdie inisiatief ingooi sodat ons gemeenskap se werkloosheidsprobleem aangespreek kan word.
“Werkloosheid lei natuurlik ook tot ander euwels en ons gaan probeer om hierdie projek te vestig met soveel moontlik jaggeleenthede per jaar. Ons beplan ook om ons mense beter op te lei en toe te rus vir wat van hulle verwag word. Ons fokus op die vroue en kinders – die kwesbares en weerloses. Kinders kan dan ook sien dat hul ouers werk; iets wat hulle sal inspireer om aan hul lewensdrome te werk. Ons wil vir ons gemeenskap iets gee om na te streef.
“In dié proses lewer ons gemeenskap ook ’n diens waarop ons almal baie trots kan wees en wat bydra tot ’n groter belewenis van ons mense se menswaardigheid.
“Ons kan nie die hele wêreld red nie, maar ons kan dalk aan vyftien of meer mense se lewens ’n verskil maak deur geld en geleenthede te kanaliseer.”
Vir meer inligting kan dr Jan de Man by ng.viljoensdrif@gmail.com geskakel word.
| Foto’s is deur dr Jan de Man, verskaf.






