Skip to content Skip to footer
Nuus
  • HELP ONS OM DIE BOEREVERENIGINGS TE HELP! VRYSTAAT-BRANDE | HOOPFONDS | ONS KORT JOU HULP! | NG KERK VRYSTAAT | Nedbank | Tjekrekening: 1178 097 218 | Takkode: 198765 | VERWYSING: VS-Brande | Navrae: Diens van Barmhartigheid Ds De la Harpe le Roux 083 232 1051 / dlh@ngkvs.co.za
  • HELP ONS OM DIE BOEREVERENIGINGS TE HELP! VRYSTAAT-BRANDE | HOOPFONDS | ONS KORT JOU HULP! NG KERK VRYSTAAT | Nedbank | Tjekrekening: 1178 097 218 | Takkode: 198765 | VERWYSING: VS-Brande | Navrae: Diens van Barmhartigheid Ds De la Harpe le Roux 083 232 1051 / dlh@ngkvs.co.za
  •  

Eendag, nie te ver van hier af nie, was ‘n klein dorpie. Dié dorpie is ‘n baie spesiale plek vir een rede… daar het net diere gewoon. Ja, glo dit nou of nie, dit was ‘n dieredorpie, ook beter bekend as Blêrfontein. Welkom!

In die middel van die plaaslande, daar anderkant Stofkop, voor jy deur Bossieskraal gaan, daar is Blêrfontein. Alhoewel Blêrfontein ‘n skape-dorp is, het daar baie ander diere ook gewoon. Skape, beeste, honde, katte, eende, varke en allerhande diere het hier gewoon. Maar, die meeste was die skape.

Die diere hier het elkeen ‘n rol gespeel, elkeen was belangrik in sy werk. Party diere het strate gevee, ander het skoolgegee. Daar was Polisie-diere, Brandweer-diere en natuurlik dieredokters, of dan dokterdiere. Elkeen van die gemeenskap het sy deel gedoen. Elkeen het op sy manier gedien en sy beste gedoen om Blêrfontein ‘n besonderse plek te maak.

Daar was ook ouer diere. Ou skape en jong lammertjies. As dit skemer word in Blêrfontein sit die ouer diere graag op hulle voorstoep met ‘n koppie tee, veral die skaap-tannies. Die diere-kinders het in hierdie tyd lekker buite baljaar totdat dit tyd was om huis toe te gaan.

Ja, Blêrfontein is ‘n mooi dorp met ‘n diere-gemeenskap wat omgee en saam staan.

Die volgende oggend, na ‘n reënbui gedurende die nag, stap ‘n klein skapie af in die straat.

Sy naam is Leon. Leon die lammertjie. Sy pappa het hom winkel toe gestuur vir melk en brood. Die winkel is om die draai, net langsaan die kerk. “Ons straat is pragtig.” dink Leon hardop.

Die bome is lowergroen en die lug is helderblou. Die huise daar is mooi en netjies. Terwyl Leon stap sien hy ‘n paar dinge, hy sien vir oom Varkie wat besig is om sy struike te snoei, hy sien twee ouer tannies wat tee drink op die stoep en oom Basie wat werkskaf in die waenhuis.

Leon sien ook daar in die verte voor hom ‘n hele paar dierekinders wat sport oefen op die sportvelde. Soos wat hy stap lig hy sy pootjie om te groet.

Leon sien die kerk. Hy sien die hoë kerktoring en bo-op staan die hoenderhaan. “Sjoe, dit is mooi!” sê Leon hardop. Leon is so bietjie van ‘n dromer en hy waardeer die mooier dinge in die lewe. “Hierdie kerk is so…êh.. enorm!” sê hy weer.

Leon is nuut in Blêrfontein. Hy het onlangs saam met sy ouers daarheen verhuis. Hierdie is die eerste keer wat hy voor die kerk in hierdie unieke dorpie staan.

Ja, Leon hou daarvan om nuwe dinge te ontdek en in Blêrfontein is baie daarvan. Dít belowe ek julle.

Tot volgende keer! Groete vanuit Blêrfontein.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
die Kerkmuise), NG Kerk Vrystaat

www.ngkerkvrystaat.co.za

Produk van die NG Kerk Vrystaat © Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie stories
mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN