Skip to content Skip to footer

“Is dit ’n regte hoenderhaan?” wonder Leon hardop terwyl  hy  droomverlore  na  die  weerhaan  bo-op die kerktoring staar. “Ek wonder … hmmm … dalk moet ek volgende keer vroeg genoeg kom sodat ek hom kan hoor kraai.”

Leon is op pad winkel toe. Sy pappa het hom gestuur om melk en brood te gaan koop.

Soos wat hy aanstap, kyk hy steeds op en hou die haan op die kerk se dak dop. Skielik begin die bome se blare ritsel en ‘n rukwind kom op wat Leon se skaapwolle deurmekaar waai. Die wind skiet hoog op en die weerhaan draai saam. Dit maak ‘n refleksie wat dadelik Leon se aandag trek. “Het die haan nounet gekraai?” wonder Leon. Op daardie oomblik draai die haan net genoeg dat die son van dit af reflekteer en in Leon se oë skyn.

Leon knyp sy oë styf toe en kyk nie waar hy loop nie. Toe gly hy op iets glad en KAPLAKS! Daar val Leon die lammertjie met ‘n slag reg in ‘n modderplas!. 

Arme Leon sit plat op sy stert in die modder en blare. Sy pragtige wit wolle is nie meer wit nie. Dit is net modder van sy oortjies tot by sy pootjies! Hy is vuil en hy voel skaam. Leon sit vir ‘n oomblik net daar en staar voor hom uit. Terwyl hy so sit, loop die modder teen hom af, amper soos sjokoladesous op roomys. Arme Leon!

Skielik hoor Leon rowwe musiek van die oorkant van die straat. Dit is die park waar die skaatsplank-skape die meeste van hul tyd spandeer. Hy skud homself reg en kyk of iemand hom gesien val het. Hy soek toe sy plakkies in die modder. Leon staan op en probeer om soveel modder moontlik af te skud, maar hy bly steeds vuil. Hy trek sy plakkies weer aan en stap sleepvoet in die winkelsentrum se rigting.

“Moet ek nog steeds brood en melk koop?” wonder Leon, bekommerd oor wat die ander skape van hom gaan dink. “Ek gaan die winkel mos nou vuil maak.” Tog besluit hy om winkel toe te gaan. Soos wat hy stap, sien hy hoe ander diere verbyloop en hom aankyk.

Toe Leon ‘n plaashond oom wil groet, grom die hond net: “Ek het nie vyf rand nie!” ’n Klein meisiekind-skapie wat met haar een pootjie na Leon wys en met die ander aan haar ma klou, roep bang uit: “Mamma, kyk die wilde skaap!”

Soos die diere verby Leon loop,  kyk hulle hom vreemd aan. Selfs  die sekuriteitswaghond gluur na die vuil skapie met ‘n frons toe hy by die winkel se deur kom. Leon voel baie skaam. Leon het nog nooit in sy lewe so onwelkom op ‘n plek gevoel nie. Hy is sommer kwaad vir homself omdat hy nie gekyk het waar hy loop nie.

“Dalk moet ek eerder huis toe gaan, myself skoon- maak en later weer terugkom,” dink Leon huiwerig. Net toe Leon wil omdraai, hoor hy ‘n skaap- stemmetjie wat roep: “Hoezit! My blêr!”

Leon skrik en staan kiertsregop. Voor hom staan ‘n seuntjie-skaap, net soos hy. Die skapie het rooi tekkies aan en dra ’n denimbroek en ’n T-hemp met ’n braaier- prentjie op. Hy hou ook ’n skaatsplank vas met sy ander pootjie. Hy’s seker ’n skaatsplank-skapie, dink Leon. Leon is versigtig.

“Halloooooo…. Hallo my Blêr!” sê die skapie weer. “Yes, meh-meh… my Blêr?…” skrik Leon wakker en groet terug. Die ander skapie lag. “My naam is Tjoppie!” sê hy vriendelik. “Uh… My naam is Leon.” antwoord Leon skaam terug en heel verbaas omdat dié skapie so vriendelik is.

“Halloooooo?! Hallo my blêr!” groet die skapie weer. Leon skrik wakker en groet terug: “Uhm … Ja, meh-meh, meh – my blêr?” Die ander skapie lag en sê vriendelik: “My naam is Tjoppie.” “O! … my naam is … my naam is Leon,” antwoord Leon skaam terug, heel verbaas dat dié skapie so vriendelik is. “Ek hou van jou uitrusting, my blêr,” sê Tjoppie speels. “Jy moet jou nie so steur aan wat die ander diere dink en sê nie.”

Leon is stil en hy verkyk hom nou net aan Tjoppie amper asof hy uitgevang is. “Daai diere weet nie waarvan hulle praat nie. Jy is die modder-merino van Blêrfontein!” speel Tjoppie verder. “Hulle het seker nie gesien hoe goed jy kan val nie. Ek het dit als gesien! Jy ken nogal jou storie, jy het gevlieg deur die lug soos ’n supergans met styl,” prys Tjoppie vir Leon.

“Jy is bevange, blêr, pasop net volgende keer vir daardie hoenderhaan!” Tjoppie hou sy pootjie uit vir ’n poot-stoot – dit is amper soos ’n vuis-stamp, net vir die skape. Leon sit sy pootjie by Tjoppie s’n. Hulle blêr kliphard en lag lekker saam. Leon voel beter. Al was hy vuil en vol modder, het hy ook sy eerste maatjie, ek bedoel blêr, gemaak. Tjoppie bied aan om Leon te help met die inkopies waarvoor sy pa hom gestuur het.

Daardie dag het ’n baie spesiale vriendskap in Blêrfontein begin. Van daardie dag af het Leon en Tjoppie saamgegaan soos melk en brood.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN