Skip to content Skip to footer

“Nuus! Nuus! Kom kry jou nuus!” roep die posman- poedel terwyl hy deur die strate loop en koerante aflewer.

Dit is ’n nuwe dag in Blêrfontein, en die diere is elkeen besig met sy eie werkie vir die dag. Tannie Katryn-kat sit en speel met ’n bolletjie wol waarmee sy wil brei. Gert-bok is op pad om kabels te herstel langs die spoorlyn. Jasper sny die kerk se gras sodat dit vars sal wees vir Sondag se kerkdiens. Natuurlik is die skaatsplank-skape besig om te oefen vir hulle volgende kompetisie.

Daar voor die skaatsplank-park sit die blêrs, Leon en Tjoppie. Hulle gesels oor nuwe idees vir toertjies wat Tjoppie wil probeer. Die musiek is altyd kliphard en rof daar by dié park – hoe dan nou anders?

“Hoekom hou julle so van musiek terwyl julle ry?” vra Leon vir Tjoppie.“Dit kry ons in die zone, my blêr. Dan ry ons beter en ons kan beter toertjies doen,” antwoord Tjoppie heel gemaklik.

“Oooh, ek sien. Maar pla dit nie die ou-diere nie?” vra Leon nuuskierig. “Ag, nee wat,” antwoord Tjoppie, “die ou-diere kan in elk geval nie so lekker hoor nie.” Leon en Tjoppie begin altwee lag.

Die volgende oomblik hoor hulle ‘n hoë tannie-stem wat sing: “LOOF HOM! LOOF HOM VIR DIE MOOIE DAG! HY IS GOED! HY IS GOED! LOOF HOM!”

Leon en Tjoppie hop soos hulle skrik. Tjoppie spring op om te hardloop en beveel vir Leon: “Hardloop my blêr! Hier kom sy!” Heel  deurmekaar  vra  Leon:  “Hoe  nou?  Hardloop? Waarheen?”

Tjoppie draai terug, gryp Leon aan die arm, amper soos ’n soldaat wat sy kameraad uit die oorlog wil red. “Kom! Ons moet gaan! Die vreemde tannie van Blêrfontein is op pad! Sy gaan vir ons kom sing en bid. Hardloop!”

Toe hulle omkyk sien hulle dit was te laat. Daar reg voor hulle staan die tannie wat so sing – dis tannie Êna!

Nou, tannie Ena is nie regtig  so vreemd nie. Dit is net ’n paar diere wat so dink omdat sy altyd  in  die strate van Blêrfontein rondloop  en  lofgesange hardop sing.

En as tannie Êna nie sing nie, bak sy koekies en beskuit wat sy graag uitdeel aan al die diere van die dorp wanneer sy by hulle kuier. Sy is bekend hiervoor. Sy sing en bid vir almal. En nou is dit Leon en Tjoppie se beurt.

“Dagsê, jong lammers!” groet sy. “Môôôre, tannie!” antwoord Tjoppie. Leon verkyk hom aan dié tannie. Tjoppie weet wat kom. Hy probeer vir Leon waarsku, maar dit is te laat.

Tannie Êna kyk die twee lammers aan en vra: “Sê bietjie vir tannie, het julle al vandag gebid?” Sy wil seker maak elkeen doen sy deel.

“Ja, tante,” antwoord Tjoppie vinnig. Leon kyk vir Tjoppie en besef hy moet net knik en saamstem. “Nou maar goed, lyk vir my julle weet wat belangrik is, nê?” sê tannie Êna. “Onthou altyd, as julle met die Vader wil praat, maak julle julle ogies toe en praat met Hom. Hy luister en Hy sien alles!” verduidelik sy aan die lammers, terwyl sy reg in Tjoppie se oë kyk.

Leon weet nie eintlik wat nou aangaan nie, maar hy werk saam. “Pootjies! Gee julle pootjies!” beveel tannie Êna. Dit lyk of Tjoppie weet wat gaan gebeur. Hierdie was verseker nie sy eerste ontmoeting met tannie Êna nie. “Pootjies, lammers!” sê tannie Êna weer. Leon gee sy een pootjie vir tannie Êna en die ander een vir Tjoppie.

Hulle drie staan nou in ’n kringetjie. “Tannie Êna gaan bietjie vir julle sing,” sê sy. Leon besef tannie Êna se manier is vreemd, maar haar bedoeling is goed.

“HY  HET  JOU  LIEF!  HY  IS  JOU  HERDER!  HY  LEI JOU WAAR JY VEILIG KAN WEI!” sing tannie Êna so hard dat almal kan hoor. Sy kyk vir Leon en dan vir Tjoppie terwyl sy sing, so asof sy seker wil maak hulle verstaan haar boodskap. Sy hou ook hulle pootjies vas met ‘n ferm greep om seker te maak hulle hoor haar boodskap. Leon en Tjoppie kyk na mekaar en wil begin giggel, maar probeer hulle beste om te luister. “HY LAAT JOU WEI, BY HOM IS JY VRY!” sing tannie Êna verder.

Nadat sy gesing het, kyk sy met ’n glimlag na die twee, en sê: “Julle moet dit altyd onthou. En julle moet sing as die lewe rof raak. En sommer as julle bly is ook.” Tannie Êna los hulle pootjies en stap al singende in die straat af. Sy is nog lank nie klaar met sing en bid vir die dag nie.

Tjoppie draai na Leon: “Dit was weeeird, nê?” “Uhm, ja … ja, my blêr,” sê Leon vinnig, eintlik net om iets te antwoord. “Baie vreemd.” Maar terwyl hy dit sê, glimlag hy breed.

Die twee skapies staan op om huis toe te gaan, en nadat Tjoppie vir Leon ’n poot-stoot gegee het, spring hy op sy skaatsplank. Leon kyk egter na die wolke en dink aan die woorde wat tannie Êna gesing het. Niemand het al ooit so vir hom gebid nie, en al wou hy dit nie vir Tjoppie sê nie, het wat tannie Êna gesê het oor die Herder wat by hulle is hom diep geraak.

‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.