Daar op die tuinpaadjie kom Leon, Tjoppie en dominee Armach aan. Leon en Tjoppie stoot dominee Armach in sy rolstoel teen die bult op. Tjoppie en Leon het besluit om dominee Armach se persoonlike assistente te wees tydens sy hersteltyd.
“Dankie, Lamme! Julle is behoorlik sterk!” prys Armach.
Leon voel trots oor hul heldedaad, maar diep in sy hart is hy steeds onseker oor sy plek in die Herder se wêreld. Hy probeer alles doen wat hy weet reg is, maar iets voel steeds uit plek.
Terwyl hulle nog die rolstoel stoot, kyk Leon na die kerk se tuin. Daar, tussen die blomme, sien hy hoe tannie Êna rustig wandel. Toe hulle uiteindelik bo-op die bult kom, stop hulle eers om asem te skep.
“Blêr!” roep Tjoppie uit. “Dit was nou omtrent ’n storie!”
Dominee Armach lag. “Nou toe, ou Tjop, laat so ’n klein bultjie jou só blaas!”
Leon bly stil en kyk in die rigting waar hy tannie Êna gesien het. “Leon, my blêr,” sê Tjoppie, “gaan jy maar. Ek sal ons ‘pakkie’ van hier af vat en aflewer.”
Leon glimlag dankbaar en hardloop terug na die tuin. Hy groet oor sy skouer: “Totsiens, Blêrs!”
Terwyl hy hardloop, hoor hy die voëltjies sing. Die lug is vars, en Leon voel skielik weer die vreugde van alles wat hy onlangs oor die Herder geleer het. Die laaste keer toe hy in die tuin met tannie Êna gesels het, het haar woorde sy hart diep geraak, maar hy wonder steeds oor sy plek.
Hy roep, opgewonde en uitasem: “Tannie Êna! Blêr! Tannie Êna!”
Tannie Êna draai om en glimlag toe sy vir Leon sien naderkom.
“Leon, hoe gaan dit met jou?” vra sy vriendelik.
Leon stop en hyg na asem. “Dit gaan goed met my, Tannie,” sê hy tussen asemteue deur. “En hoe gaan dit met Tannie?”
“Dit gaan beter, dankie,” antwoord sy sag.
“Tannie Êna, ek wil nie net aan die Herder behoort nie! Ek wil elke dag vir Hom lewe!” verklaar Leon. “Hy maak my soooo bly, en sy manier is BAIE COOL!” sê hy passievol.
Tannie Êna is verras deur Leon se opgewonde stellings, maar dit maak haar baie bly.
“…Maar daar is ook baie dinge. Baie dinge wat gebeur, wat dit moeilik maak vir my om te weet wat my plek is in God se Koninkryk,” sê Leon verder, en hy lyk bekommerd.
Leon het so baie lesse geleer en nuwe dinge ontdek, maar steeds is hy versigtig om dit reg te doen – hy is bang om foute te maak.
“Leon… kyk na die voëltjies,” sê tannie Êna.
“Huh? Blêr!” sê Leon geskok, sy koppie skeefgedraai.
“KYK NA DIE VOËLTJIES! HOOR HOE HULLE SING EN KRAAI.
HY SORG VIR HULLE!
SONDER OM TE SAAI OF TE MAAI.
KYK NA DIE BLOMME VAN DIE VELD!
HY SORG VIR HULLE.
HULLE IS MOOI GEKLEE, EN DIT KOS NIE GELD!
AS JY EERSTE KYK! EERSTE KYK,
SOEK NA SY KONINKRYK, KONINKRYK!
HY SAL SORG! HY SAL SORG!” sing tannie Êna.
“Dit is normaal om so te voel, maar as ons sy Koninkryk in alles eerste soek, sal Hy oor al hierdie ander ‘dinge’ besorgd wees. LOOF HOM!” verduidelik sy.
“Jy hoef nie te probeer nie; jy het dit reeds! Soek Hom net eerste in alles wat jy doen, en Hy sal die res uitwerk volgens Sy wil. Lees jou Bybel en vra vir God wat Hy wil hê. Doen dit in alles.”
Net daar tref die gedagte vir Leon! “SY KONINKRYK!” roep hy uit en hardloop weg.
“Blêr! Blêr! Dankie, tannie Êna!” roep hy terwyl hy teen die bult af hardloop.
“Net so, Leon! Net so!” sê tannie Êna en lag.
Leon hardloop so vinnig as wat sy voete hom kan vat – om die draai en dan links deur die veldpaadjie tot bo-op die heuwel. Dit is dieselfde heuwel waar Leon besef het dat hy aan die Herder behoort.
“Dankie, HERE! U is so goed vir my!” roep hy uit oor die vlaktes, met die son wat goue strale skyn terwyl dit sak.
“Dankie dat ek aan U behoort! Ek het U lief. Ek wil elke dag net vir U lewe. Ek verstaan nie altyd alles nie, en ek verstaan ook nie almal nie, ek probeer soms te hard, maar ek weet dat U my sal leer en wys. Ek gaan nie meer myself bekommer oor môre of probeer om almal tevrede te stel nie – net vir U, Blêr!”
Soos Leon klaar bid, vlieg daar voëltjies verby hom. Hy besef dat hy niks meer nodig het as God se liefde nie.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat
Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.
