Leon loop en dagdroom in die paadjie langs die veld. Hy kyk vir die mooi blomme en hy bedink dinge. Leon wonder sommer oor die laaste tyd wat hy al soekend is in die Bybel en hoeveel hy al geleer het.
“Muhahaha!” hoor Leon ’n nare lag net oor die rantjie – dit klink bekend. Leon skrik groot en besef dat hy sal moet wegkom.
Net toe Leon wil wegdraai hoor hy nog ’n stem. “Skoert, jou Jakkals! Jy hoort nie hier nie. Ahoe! Ahoe!” tjank die bekende stem van … Ds Armach Breytenblaf!
Leon is nie seker wat om te doen nie – dit klink gevaarlik. Leon loer oor die rantjie en sien daar iets aardig.
Sy held Armach Breytenblaf lê op die grond en hou sy been vas – dit lyk of hy geval het. Oor hom staan die nare Jan Jakkals. Leon besef dat hy iets sal moet doen. Hy hardloop dadelik om hulp te gaan kry.
“Muhahaha!” lag Jan Jakkals nog ’n slag. “Jy is mos die brakkie wat my kom verjaag het, nie waar nie? Vra hy aan Armach Breytenblaf wat sit en grom vir hom. “Die naam is Armach Breytenblaf en jy beter baie vinnig in jou spore trap of …” waarsku Armach, maar hy besef dat hy nie iets kan doen nie.
“… Of wat Armach Breytenbrakkie, wat gaan jy maak? Nog so bietjie tjank? Muhahaha!” terg Jan Jakkals weer. “Ek dink dis tyd dat ek, die NARE JAN JAKKALS, jou ’n les leer!” dreig hy. Armach is sterk, maar hy is in ’n situasie wat nie goed lyk nie. Armach sit daar en grom en besef dat hy in die moeilikheid is.
Leon hardloop deur die strate, maar hy sien geen dier in sig nie. Hy sal moet gou maak – Armach Breytenblaf is in gevaar. Leon hardloop in by die skaatsplankpark op soek na hulp.
Terug in die veld – staan Jan Jakkals en wys sy nael na Armach se gesig. “Vandag gaan jy betaal brakkie Breytenbrak! JY GAAN BETAAL VIR WAT JY AAN MY GEDOEN HET!” skree hy uit.
Armach grom en toe lyk hy bekommerd. Jan Jakkals lig sy poot op in die lug en sy skerp naels blink in die son. “Vandag maak ek seker dat jy die naam JAN JAKKALS onthou … en so ook almal wat na jou gesig kyk, sal weet wie JAN JAKKALS IS!” sê Jan Jakkals met aggressie.
Net toe Jan Jakkals sy poot begin swaai gebeur daar iets …
“BLEEEEEEÊRRRRRRR!!!!” skreeu iemand – dit klink soos ’n aanvalskreet.
Dit is Leon en Tjoppie! Hulle kom teen die heuwel af, albei op Tjoppie se skaatsplank! Hulle ry tussendeur Jan Jakkals en Armach. Leon spring af om vir Armach te beskerm. Tjoppie gryp Jan Jakkals se poot en trek dit verby met die momentum van hulle skaatsplankrit.
Tjoppie los Jan Jakkals se poot en land op sy voete. Jan Jakkals draai een keer in die rondte en val plat op sy bas en daar sit hy. Leon staan nou tussen Jan Jakkals en Armach Breytenblaf – Leon is kwaad.
“Jan Jakkals!” roep Leon uit.
“Hierdie is Blêrfontein!” sê Leon met gesag, en terwyl hy dit sê, kom die ander diere aan op die rantjie – almal was daar, tot Tannie Êna.
“Ek is Blêrfontein! Tjoppie is Blêrfontein en Armach is Blêrfontein! Ons is almal Blêrfontein!
En, as jy met een van ons mors, is dit so goed jy mors met ons almal! En vandag het jy te ver gegaan! Leon trap vas en hy maak sy punt duidelik.
Armach Breytenblaf kyk met trots na Leon. Tjoppie staan saam. Jan Jakkals lyk redelik bekommerd.
“Hier in Blêrfontein is almal welkom, selfs jy, maar die dinge wat jy doen, hoort nie op enige plek nie. Maak spore voordat ek jou help!” sê Leon – hy het nou klaar gepraat.
“Jammer, Jammer …” vat Jan Jakkals nog ’n kans, maar Leon kyk hom steeds stip en ernstig aan. “… ek bedoel totsiens, baie dankie!” en woerts, daar hardloop Jan Jakkals uit oor die vlaktes.
Leon draai na Armach.
“Dankie Leon,” bedank Armach. “ek het gedink dit is verby met my, maar danksy jou wakkerheid is ek veilig.”
Leon glimlag en toe sê Armach; “Leon, jy is ’n ware held! My held!”
Die gemeenskap het toe almal ingespring en gehelp om vir Armach veilig te versorg. Jan Jakkals is later vasgetrek deur die polisiehonde en Blêrfontein is weer veilig.
Leon het toe sy held se held geword omdat hy wakker was en op die regte oomblik opgetree het.
Ds. Armach het daardie Sondag ook ’n mooi boodskap gepreek vanuit ’n rolstoel.
“Net soos wat my heldjie my uit die kloue van ’n nare Jakkals gered het, Blêrfonteiners, so het ons Jesus ons ook gered. Mag dit altyd vir jou waar bly.”
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat
Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.
