Skip to content Skip to footer

Aurora – Deel 2 : Waar jou reis na ’n nuwe en gesonder toekoms begin

Deur Mariëtte Odendaal

“Moenie die persoon veroordeel nie en vermy religious shaming. Middelafhanklikheid is ’n kroniese siektetoestand en kan enige persoon raak.”

Marietjie Landsberg
Direkteur: Aurora Addiction Recovery Centre

In ons vorige uitgawe het ons met Marietjie Landsberg, direkteur van Aurora Addiction Recovery Centre, gaan gesels om meer uit te vind oor haarself, wat haar pos daar behels en wat sy as die grootste uitdagings in haar beroep ervaar.

In hierdie uitgawe gaan ons meer fokus op die wanpersepsies waarvan ons moet weet ten opsigte van die gebruik van dagga, wat gesinslede kan doen om verslawing te probeer vermy, die gevaartekens van verslawing wat rooi ligte moet laat aangaan en hoe ’n mens te werk kan gaan om so iemand te help.

Marietjie, watter wanpersepsies het die mense in die buitewêreld ten opsigte van dagga en waarvan moet ons weet?

“Baie mense dink dat die gebruik van dagga wettig is en dat enige persoon dit op enige plek in enige hoeveelheid kan gebruik, kweek en selfs verkoop. Die gebruik van dagga is nie gewettig nie; dit is gedekriminaliseer. Dit beteken jy gaan nie vervolg word as jy dit binne die raamwerk van die nuwe wetgewing gebruik nie.”

Die nuwe dagga-wetgewing sluit die volgende belangrike aspekte in:

  • Die verkoop van dagga en middels wat dagga bevat is onwettig. Dit sluit dagga-olies en eetware soos lekkergoed, koekies en drankies in. Daar is wel dagga-olies wat vervaardig word deur maatskappye wat spesifieke lisensies het om dit te maak en te verkoop. Voorbeelde hiervan sal CBD- (Cannabidiol) olies wees wat in geregistreerde apteke verkoop word. Die dagga wat hiervoor gebruik word, word deur middel van wetenskaplike prosesse aangepas om nie die gebruiker die high te gee wat gewone dagga doen nie. Dit beteken dat die persoon wat dagga-olie op Facebook of op die kunsmark verkoop dit heel moontlik onwettig doen.
  • Kinders mag nie dagga gebruik nie.
  • Jy mag dagga slegs in jou privaatwoning gebruik en nie in die omgewing van kinders of in ’n openbare plek nie. Universiteite en skoolterreine is ook nie private areas nie. Eiendom wat jy huur, kan met tegniese beredenering ook nie as jou privaateiendom beskou word nie. Indien jou gebruik jou bure pla, kan dit ook as teen die wet beskou word.
  • Die hoeveelheid dagga wat jy aan jou as persoon mag hê vir privaatgebruik is nie gespesifiseer nie; iets wat die polisiëring hiervan baie moeilik maak. Die wet moet nog baie ontwikkel word en spesifikasies sal aangepas moet word.

 Die gebruik van dagga hou baie nadele in waarvan die volgende voorbeelde is:

  • Dagga is hoogs verslawend en gewoontevormend. Die gebruik van dagga gee ook aanleiding tot die gebruik van ander middels; as die dagga nie meer ’n sterk genoeg high gee nie, soek die gebruiker na iets sterkers.
  • Dagga word ook gebruik in groepe of wanneer jy beïnvloed word deur vriende of kennisse. Die vriende het ook heel moontlik harde dwelms beskikbaar of weet waar die ander dwelms aangekoop kan word om die high te verbeter.
  • Omdat dagga ’n natuurlike produk is, dink mense dis nie skadelik nie. Die effek van een dagga-joint op die liggaam word wetenskaplik vergelyk met die effek wat 30 sigarette op die liggaam het. Die longe en brein word die meeste daardeur benadeel.
  • Sekere vorme van kankers soos keel-, neus-, kaak- en longkanker word direk aan die gebruik van dagga toegeskryf.
  • Kinders wat dagga gebruik se breinontwikkeling staak heeltemal; iets wat volwasse denkwyse later belemmer.
  • Die gebruik van dagga word direk gekoppel aan die ontwikkeling van psgiatriese kondisies, veral psigose wat later ook kan ontwikkel tot skisofrenie.
  • ’n Oordosis dagga kan aanleiding gee tot stuiptrekkings, braking, psigose, en selfs die dood.

Marietjie, wat kan gesinslede doen om verslawing te vermy?

“Ouers moet die gebruik van enige onwettige middel ten alle koste vermy.  Moenie toelaat dat jou kinders met die gebruik van alkohol vanaf ’n vroeë ouderdom eksperimenteer nie. Sommige ouers is van mening dat dit kinders daaraan gewoond maak en dit sal help dat hulle hulle nie later daaraan vergryp nie. Dit is nie waar nie. Kinders se liggame is nog besig om te ontwikkel en die gebruik van alkohol het ’n negatiewe invloed op hul liggaamlike ontwikkeling.

“Dit skep ook die persepsie aan die kind dat die gebruik van alkohol normaal is vir kinders en dit kan ’n negatiewe siklus begin ontwikkel en van geslag na geslag oorgedra word.

“Ouers se verhouding met alkohol skep die kinders se basis vir hul verhouding met alkohol. Moenie toelaat dat daar tydens sosiale geleenthede ’n oormaat alkohol gebruik word nie.

“Probeer egter om nie alles te verban nie. Fokus op die ontwikkeling van ’n gesonde verhouding met wettige middels sodat kinders hulle nie daaraan vergryp as hulle daaraan blootgestel word nie.

“Indien jy onseker is oor gewoontes in jou huis, kan jy gerus ’n professionele persoon soos een van die maatskaplike werkers by Aurora kontak sodat daar ’n gesprek gevoer kan word oor gesonde lewenstylgewoontes.”

Noem ’n paar gevaartekens van verslawing wat rooi ligte moet laat aangaan, asseblief.

“As iemand begin verskonings maak vir negatiewe gedrag wat onder die invloed van die middel plaasvind, of dit probeer regverdig.

“As jy agterkom die persoon steek die middel wat gebruik word, weg en gebruik dit in die geheim.

“Nog ’n teken is as die persoon skielik belangstelling verloor in aktiwiteite wat vroeër belangrik was en daar ook skielik drastiese verandering in hul vriendekring plaasvind.”

Hoe kan ’n mens te werk gaan om so iemand te help?

“Moenie die persoon veroordeel nie en vermy religious shaming. Middelafhanklikheid is ’n chroniese siektetoestand en kan enige persoon raak.

“Jy gaan nie die persoon help deur hulle fisies te slaan of aan te rand en hulle sodoende te probeer leer om nie middels te misbruik nie. Jy gaan ook nie afhanklikheid uit hulle geoefen of gewerk kry nie.

“Verwys die persoon vir behandeling. Behandeling beteken nie noodwendig opname vir binnepasiëntbehandeling nie. Daar kan eers ’n assessering gedoen word sodat die maatskaplike werkers die regte leiding kan gee en behandelingsopsies bespreek kan word.”

Marietjie, watter rol kan jý speel om gemeentes of instansies soos skole meer daarvan bewus te maak?

“Aurora is beskikbaar om inligtingsessies en selfs opleidingsessies by kerke, skole en organisasies na behoefte aan te bied.

“Ons kan ook aan werkgewers spesiale programme vir hul onderneming help ontwikkel en beleidsdokumente help skryf sodat wetgewing hier gevolg kan word. Dieselfde diens kan ook aan skole verskaf word.

“Ons praatjies is opvoedkundig en inligting-gedrewe, wat ’n meer positiewe en wetenskaplike manier bied om die spesifieke probleem aan te pak.”

Vir meer inligting kan Marietjie Landsberg by director@auroracentre.co.za gekontak word.

Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein
Die aansig van Aurora Sentrum in Bloemfontein

 | Foto verskaf : Marietjie Landsberg, Aurora-direkteur