Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

IGROW: “Growth is never by mere chance” – ’n herstelprogram vir middelafhanklikheid

Deur Mariëtte Odendaal

“Die bediening bied aan leraars en gemeenteleiers ’n waardevolle verwysingskanaal waarheen mense met afhanklikheidsnood en hul families met vertroue verwys kan word.”

Anton Pelser
IGROW-koördineerder

Die Ring van die NG Kerk Suidoos-Bloemfontein het met behulp van sinodale fondse op 5 Julie 2024 ’n IGROW-afhanklikheidsherstelgroep by die NG Gemeente Pellissier gestig. Hierdie bediening het ten doel om ringsgemeentes te ondersteun in die hantering van mense met middelafhanklikheidsprobleme en om ’n geloofsgebaseerde, volhoubare pad na herstel te bied.

Om meer hieroor uit te vind, het ons met Anton Pelser, fasiliteerder en opleier van fasiliteerders, aook die koördineerder tussen IGROW en die Sinode Vrystaat en ander denominasies, gaan kers opsteek.

Anton, vertel ons asseblief meer van IGROW

IGROW (I grow) is ’n Christelike afhanklikheidsherstelprogram wat God se genade sentraal stel. Deelnemers word begelei om hul waardigheid as geliefde kinders van die Here te herontdek en om weer met hoop en verantwoordelikheid hul plek in hul gesinne, gemeentes en die samelewing in te neem.

“Die program fokus op beide middel- en substansafhanklikhede, soos alkohol- en dwelmmisbruik, die misbruik van pynpille, asook gedrags- of prosesverslawings, soos onder andere pornografie en dobbelary.”

Die doel en fokus van die program

Die IGROW-bediening begelei deelnemers om hulle:

  • afhanklikheid te oorkom deur toewyding tot algehele onthouding van die betrokke afhanklikheid;
  • persoonlike groei, selfwaarde en verantwoordelike besluitneming te bevorder;
  • volhoubare herstel met ’n stewige geestelike fondasie te bereik;
  • integriteit, menswaardigheid en gesonde verhoudings met hul gesin en vriende te herstel.

Anton, waarom is daar besluit om ’n IGROW-program by Pellissier van stapel te stuur?

“Die bediening het ontstaan danksy ’n groeiende bewuswording by die Ring dat die omvang en impak van afhanklikheid binne gesinne en die breër gemeenskap al hoe groter en uitdagender raak. Gemeentelede met afhanklikheidsprobleme het direk of via hul gesinne om hulp begin soek.

“Daar is ook besef dat formele behandelingsprogramme dikwels baie duur is en vir talle mense ontoeganklik bly.

“Na deeglike ondersoek en navorsing het die Ring met IGROW hande gevat en die NG Gemeente Pellissier se fasiliteite is gebruik om ’n bediening te vestig wat met deernis en hoop reageer op hierdie nood; waar mense weer die moontlikheid van herstel en nuwe lewe kan ontdek.”

Hoe word julle finansieel ondersteun?

“Sedert Julie 2024 word  Ringsfondse van R1 000 per maand aangewend om koste ten opsigte van administrasie, handouts, materiaal en verversings te help dek. Vanaf Maart 2026 is ’n verdere verhoging van R1 000 per maand toegestaan.

“Fasiliteerders ontvang tans geen vergoeding nie en deelname aan die groepe is gratis. Addissionele fondse word egter benodig vir die opleiding van nuwe fasiliteerders.”

Vertel meer van die byeenkomste. Hoe werk dit?

“Die IGROW-groep vergader weekliks op Woensdagaande vanaf ses-uur tot agtuur in ’n lokaal by die NG Gemeente Pellissier. Dis in die suide van Bloemfontein, sentraal-geleë en maklik bereikbaar vir deelnemers uit verskeie gemeentes. Dit bied lae-koste fasiliteite wat groter deelname aanmoedig.

“Ons ondersoek tans die moontlikheid om nog IGROW-groepe binne die Ring en die breër Vrystaat te vestig, sodat meer gemeentes bemagtig kan word om die program self te kan aanbied.”

Hoe gaan julle te werk en wat is jul geestelike vertrekpunte?

“IGROW se leuse is Growth is never by mere chance en beklemtoon die feit dat ware herstel ’n doelbewuste keuse is, geanker in die herontdekking van God se liefde en genade.

“Die program se geestelike vertrekpunte is eerstens afhanklikheid van God en doelbewuste geestelike groei, toewyding aan geheelonthouding en laastens insig in die afhanklikheidsiklus deur eerlike selfondersoek.

“Dit word prakties uitgeleef deur vertroulike groepsessies in ’n veilige ruimte, verantwoordingsvennote, die opstel van ’n persoonlike Life Recovery Plan, ondersteuning deur ’n WhatsApp-groep, deurlopende gesprekke met fasiliteerders en, waar nodig, verwysings na buitepasiëntprogramme en spesialiste soos sielkundiges, terapeute en herstelafrigters.”

Na watter uitkomste streef julle met die program?

“Deelnemers ontwikkel ’n dieper begrip van hul afhanklikheid en die impak daarvan op hul lewens. Hulle leer ook hoe om denk- en gedragspatrone te onderskei. Hulle leer om ondersteuningsbronne te identifiseer en om gesonde hanteringsvaardighede aan te leer. Dit lei tot die herstel van waardige deelname aan die kerk, hul gesinslewe en die samelewing.”

Hoeveel mense het al deel van hierdie program geword?

“Sedert 2024 het meer as sestig mense al by IGROW aangemeld. Sommige woon sessies ad hoc by, terwyl ander weer selfstandig binne hul gesinne en beroepe funksioneer.

“Aanvanklik is afhanklikes en ondersteuners saam bedien, maar vanaf 2026 funksioneer die bediening in twee groepe: ’n afhanklikheidsgroep met ongeveer 15 tot 25 deelnemers en ’n ondersteuningsgroep met sowat 12 deelnemers.

“Deelnemers kan enige tyd by ’n groep aansluit of dit verlaat, aangesien IGROW ’n voortgesette program is en nie ’n kursus met ’n vaste begin- of einddatum nie.”

Hoe ondersteun die program gesinne en vriende van die middelafhanklike?

“’n Afsonderlike program (soos bo) rus gesinslede en vriende toe met kennis oor verslaafde gedrag, die stel van gesonde grense en vaardighede vir selfbehoud.

“Die ondersteuners word begelei om as medeherstellers op te tree sonder om hul eie welstand prys te gee.”

Hoe werk die opleiding van die fasiliteerders?

“Ons fasiliteerders ontvang aanlyn-opleiding in fasiliteringsvaardighede en kennis van middelafhanklikheid. Daar vind ook deurlopende mentorskap plaas.

“Akademiese kwalifikasies is nie ’n vereiste nie; die fokus val op lewende geloof, geestelike volwassenheid, empatie, betroubaarheid en die vermoë om vertroulikheid te handhaaf.

“Die program skakel in by Project Exodus om effektiewe en bekostigbare herstelprogramme toeganklik te help maak. Die bediening staan onder leiding van Renier Gouws, stigter en direkteur van IGROW, wat self agt jaar in herstel is en ’n passie het vir gestruktureerde, geloofsgebaseerde afhanklikheidsherstel.”

Wat beteken IGROW vir julle as gemeente en Ring?

“Die IGROW-bediening dra by tot groter bewusmaking van middelafhanklikheid, ’n verdieping ten opsigte van deernis en barmhartigheid en dit versterk die samewerking met ander gemeentelike bedieninge soos gebedsbediening, traumahulp en omgeegroepe.

“Waar gemeentelede vroeër huiwerig was vir blootstelling of etikettering het dit plek gemaak vir vrywillige en hoopvolle aanmelding as vrywilligers.

“Dit help skep ook ruimte vir herintegrasie van persone wat herstel het om binne die gemeentes en gemeentelike aktiwiteite opgeneem te word.”

Ten slotte

“Die IGROW-afhanklikheidsherstelprogram vervul ’n belangrike en hoopvolle rol binne die Ring van Suidoos-Bloemfontein. Deur geloof, gemeenskap en doelbewuste herstel word lewens verander en gemeentes geestelik verryk. Die bediening bied aan leraars en gemeenteleiers ’n waardevolle verwysingskanaal waarheen mense met afhanklikheidsnood en hul families met vertroue verwys kan word.”

Vir meer inligting kan Anton Pelser by pelser1954@gmail.com gekontak word.

GETUIENISSE

Getuienisse uit die groep bevestig die geestelike vrug van die bediening. Een deelnemer skryf: “Goeiemôre Charles, ek wil sommer vanoggend vir jou laat weet dat dit baie goed gaan met my! Hierdie is week agt vandat ek by IGROW aangesluit het en ek het sedertdien geen alkohol gebruik nie. Ek ervaar ook geen drang daarna nie. Ek wens die IGROW-groep was twee keer per week.

Jan Venter

 | Foto’s is deur Anton Pelser, IGROW-koördineerder, verskaf.