Dit is ’n sonskyndag in Blêrfontein en Leon die lammertjie loop alweer en droom. Terwyl hy deur die veld stap, kyk hy op na die wolke en dink aan tannie Êna se mooi woorde wat sy so snaaks vir hom en Tjoppie gesing het. Hy wonder oor hierdie Herder – die Een wat alles gemaak het en ons veilig laat wei. Leon vra hom af: Wie is hierdie Herder? Is Hy ’n vreemdeling? Of is Leon die vreemdeling, omdat hy nie die Herder ken nie? So dwaal Leon se gedagtes terwyl hy stap.
Die ander dag het Leon pragtige blommetjies in die veld gesien. Hy wil graag ’n bossie pluk om vir tannie Êna te gee en haar te bedank dat sy hom vertel het van die Herder. Leon stap deur die goudgeel veldgrasse en kyk na die rooi klippies by sy pootjies op die paadjie. Skielik sien hy die mooiste rooi veldblomme! Dit is tannie Êna se gunstelingkleur!
“Fantasties!” sê Leon terwyl hy loop om die blomme te gaan pluk.
Terwyl Leon die blommetjies wil pluk, raak dit skielik donker, soos of die son weg is. ’n Groot skaduwee val oor Leon. “Dit is snaaks,” dink Leon, “daar was nie netnou só ’n groot wolk nie.”
Toe Leon opkyk om te sien waar die skaduwee vandaan kom, sien hy dat dit nie ’n wolk is nie, maar ’n groot, sterk figuur met skerp, spits ore op sy kop. Leon kan nie die figuur se gesig sien nie, want hy staan reg voor die son. Leon lig sy pootjie bewerig op om te groet, maar die figuur begin lag.
“Muhahaha!” lag die vreemdeling met ’n diep stem. Leon skrik hom boeglam! Sy hartjie klop vinnig en hy voel baie bang. Hy staan tjoepstil en weet nie wat om te doen of te sê nie.
“Muhahaha!” lag die vreemdeling weer. “Skapies soos jy mag mos nie alleen hier wandel nie, of hoe?” Leon sluk. Hy wou antwoord, maar voor hy iets kon sê, praat die vreemdeling verder.
“As skapies soos jy alleen rondloop, kan hulle mos gevang word.” Die groot figuur stap stadig in Leon se rigting. Leon kan nog steeds nie sien hoe die figuur met sy puntige ore lyk nie, maar sy stem maak Leon bang.
“In hiérdie area word almal altyd gewaarsku teen Jan Jakkals – die een wat skapies vang! Is dit nie waar nie, ou lammertjie?” Die vreemdeling sak sy kop en kyk vir Leon reg in die oë. Leon sien toe dat die groot figuur inderdaad ’n jakkals is! Leon is so bang dat sy stertjie bewe.
“En weet jy wat, lammertjie, my naam is Jan. Jan Jakkals!” sê die jakkals dat die spoeg spat.
Leon se oë rek groot toe hy Jan Jakkals se skerp tande sien. Hy besef hy moet spore maak. Hy hardloop so vinnig as wat sy pootjies hom kan dra. Die stof trek soos hy hardloop!
Die Jakkals sit vir Leon agterna. Leon wil nie agtertoe kyk nie – hy is te bang Jan Jakkals vang hom! Die volgende oomblik hoor Leon ’n groot grom. “GRROMMM!”
Terwyl Leon hardloop, loer hy oor sy skouer. Daar is nog ’n figuur agter Jan Jakkals – ’n skaaphond wat vir die Jakkals grom. Die skaaphond gryp Jan Jakkals aan sy stert en die Jakkals tjank van die pyn.
“Ahoe! Ahoe! Ahooo! Eina!” tjank Jan Jakkals. Die skaaphond byt en swaai vir Jan Jakkals dat hy dáár trek. Hy blaf: “Skoert, jou skelm! Woehoef! Wooeehoeff! Vat die pad! Laat jy gaan!” Jan Jakkals besef dat hy die pad moet vat en hardloop lafhartig weg, met sy stert tussen sy bene.
Leon stop, verlig. Hy weet dat hy nou veilig is en gaan sit plat in die grondpaadjie.
Hy verkyk hom aan die fris vreemdeling wat sopas tot sy redding gekom het.
Dit lyk of die skaaphond geoefen het. Hy dra drafskoene, en het ’n oefenbroek en ’n frokkie aan. Sy selfoon is vas op sy bo-arm sodat hy musiek kan luister terwyl hy draf. Hy is ook uitasem en kyk in die rigting waarheen die jakkals gehardloop het. Hy draai toe na Leon toe en steek sy poot uit.
“My naam is Armach Breytenblaf,” stel hy homself voor. “Is jy reg, boeta?”
Vir ’n paar oomblikke staar Leon na Armach. Hy sit nog op die grond en sy hartjie klop nog vinnig. Hy moes nounet ontsnap het van die gevaarlike vreemdeling. Dit het so vinnig gebeur en voel so onwerklik. Die skaaphond steek sy poot uit na Leon om hom te help opstaan.
“Jy moenie so alleen loop hier in die ooptes nie, boeta,” waarsku Armach, “daai Jan Jakkals is ’n kansvatter en jy moenie vir hom sy kans gee nie!”
Leon steek sy pootjie uit na Armach die skaaphond, wat hom optrek. Terwyl hy die stof afskud, vertel Armach: “Jan Jakkals probeer al lank om die skape hier in Blêrfontein bang te maak. Maar as hy ooit iets aan een van die skape hier doen, sal hy groot moeilikheid kry.” Leon stel homself voor, waarna Armach sê: “Kom, laat ons jou by die huis kry voor die son heeltemal gaan sak.” Hy bied aan om saam met Leon huis toe te stap. Leon was verlig – Jan Jakkals sal nie naby hom kom as hy saam met Armach is nie.
Op pad huistoe gesels Leon en Armach lekker. Toe hulle by sy huis kom, sê Leon weer dankie. Armach sit toe sy musiek aan en draf verder.
Daardie aand lê Leon en dink aan die twee vreemdelinge wat hy vandag ontmoet het. Die een was die gevaarlike Jan Jakkals. Die ander een was Armach Breytenblaf, die skaaphond wat sy vriend geword het. Soms moet ons versigtig wees vir vreemdelinge, maar soms kan vreemdelinge ook goeie vriende word.
‘n Projek deur NG Kerk Vrystaat se JONK Vrystaat Netwerk in samewerking met Schink Publishing.
Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)
Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat
(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat
Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in
www.ngkerkvrystaat.co.za
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.