Skip to content Skip to footer

Aan die begin, toe tannie Êna met Leon gesels het oor sy gevoel van behoort, het Leon dalk meer gehoor as wat werklik gesê is. Hy het om elke hoek en draai ‘n geleentheid gesoek om die Herder se werk te doen, en teen dié tyd het al ‘n paar snaakse dinge gebeur.
Leon het gedink hy verstaan, maar hy het steeds vrae gehad. Hy het so hard probeer om die regte ding te doen.

Net toe stop ‘n plaasbakkie voor hom in die straat. Dit is die plaashond-oom, oom Ore. Die bakkie hou stil met ‘n geraas en ‘n skwiek. Agterop die bak is waatlemoene gelaai, hoër as die bakkie self. Leon sien dit as ‘n geleentheid om te help, en hy tree dadelik in aksie.

“Dagsê, oom Ore!” groet Leon vriendelik, al is dit dieselfde oom wat hom voorheen by die winkel afgejak het.
“Halooe, ou Leontjie! Dis nou aangenaam om jou te sien,” antwoord oom Ore, hierdie keer vriendelik. Oom Ore was ‘n paar maande op die plaas en het dorp toe gekom om sy oes vir geld te verruil.

“Oom se oes lyk goed … en … ê … groot!” sê Leon, terwyl hy woorde soek om hierdie kolossale vrag te beskryf.
“Hahaha, ja, Leontjie. Harde werk maak die oes sterk!” antwoord oom Ore trots.

“Wel, oom, dit lyk vir my ek het net op die regte tyd aangekom om te help!” bied Leon ywerig aan. “Nou maar goed, jonglammer, laat jy span!”

Die bak maak oop, en oom Ore se werker begin waatlemoene na Leon toe gooi. Leon dra dit dan na die winkel se stoor. Hy wil dit alles doen vir die Herder – dalk probeer hy net ‘n bietjie té hard.

“Een waatlemoen, twee waatlemoene, drie!” tel Leon uit terwyl hy dit dra. Hy stap aan en sing: “Werk hard vir die Herder! Werk!”
Hy sukkel met die drie waatlemoene, maar kry dit tog waar dit moet wees. Daarna stap hy terug vir die volgende vrag. Oom Ore glimlag dankbaar. “Lekker, Leontjie!”

Leon keer terug en roep weer: “Een waatlemoen, twee waatlemoene, drie!… Kom, kom!” Hierdie keer probeer hy meer: “Vier waatlemoene, vyf waatlemoene… ses!” Hy kreun: “Werk… hard… vir die… Her…der!”
Tree-vir-tree kom hy aan by die stoor, uitgeput maar tevrede. Oom Ore kyk verwonderd na hierdie ywerige jonglammer.

Leon keer weer terug en vra vir nóg meer. “Kom, kom! Sewe… waat…lemoene… agt… waatlemoene… nege!”
Maar hierdie keer het Leon homself té swaar gelaai. Hy verloor sy balans, en daar kom al die waatlemoene reg op hom af!
Daar sit Leon, plat op die grond. Twee waatlemoene het gebreek, en die ander rol rondom hom. Leon begin huil.

Oom Ore lyk bekommerd en vra: “Jonglammer, is daar fout?”
Leon spring op, vee sy trane af en sê: “Jammer, oom. Jammer dat ek die waatlemoene laat val en breek het. Ek sal elke sent terugbetaal.”

Oom Ore glimlag en kniel by Leon. Hy tel ‘n stuk van een van die gebreekte waatlemoene op en sê: “Proe!”
Leon lyk verbaas, maar neem ‘n hap.
“Dis lekker soet, nè?” sê oom Ore.

Voor Leon weggaan, gee oom Ore vir hom twee heel waatlemoene. “Vat dit saam vir jou ma en pa, en vertel hulle hoe hard jy gewerk het!”
Leon stap weg, verward oor die oom se vriendelikheid. Hoe kan oom Ore, wat gewoonlik streng is, so gaaf wees?

Dit is net genade! Net so is die liefde van die Herder vir ons. Ons hoef nie onsself te oorlaai nie, want ons God is ‘n liefdevolle Vader. Sy juk is sag, en sy liefde… so soet soos waatlemoen!

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella,
Schink Publishing

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht,
JONK Vrystaat

Uitleg deur Celicia McLean en Carlie Niehaus
(
die Kerkmuise), NG Kerk Vrystaat

Geskryf, geïllustreer en oudio-opnames deur Martin Schwella, Schink PTY. (ltd.)

Temas en Teologie deur ds Francois Lamprecht, JONK Vrystaat

(“die Kerkmuise“), NG Kerk Vrystaat

Ontwerp deur Celicia McLean en Carlie Niehaus Geset in

www.ngkerkvrystaat.co.za

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, gestoor word in ’n herwinningstelsel, of oorgedra word in enige vorm of op enige manier, elektronies, meganies, fotostaat, opgeneem word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers en uitgewers nie.