Loading Events

« All Events

SESSIE 2 | KRONIESE KRONIEKE : Kopskuif vir pastors | Hospitaalbesoek van kroniese siek persone

May 5, | 7:00 pm - 9:00 pm SAST

 

 

Kopskuif vir pastors – hospitaalbesoek van kroniese siek persone

Narratief-pastorale verdieping deur poëtiese analise

Is die hospitaalbed van ’n kroniese siek persoon vir jou as pastor ’n plek van onsekerheid en selfs spanning? Voel die gang na die hospitaalkamer langer as wat dit werklik is? Worstel jy ook dikwels met vrae soos: Wat moet ek sê? Watter Skrifwoord moet ek bring? Hoe bid ’n mens hier reg?

Daar is tye wanneer jy as pastor voel dat jy net nie kans sien nie. Wanneer jy seker weet dat jy nie weet wat die “regte” woorde gaan wees nie en soms bly die besoek onafgehandel. Dit is die werklikheid van pastorale spanning tydens die hospitaalbesoek en soveel te meer wanneer dit ʼn kroniese siek lidmaat is wat weereens gehospitaliseer word.

Leraars en pastors is deeglik gevorm om die Woord te bedien en te verkondig. Tog kan die hospitaalruimte spanning skep omdat die verwagting om te spreek die vermoë om te luister oorheers. Die soeke na ’n teks kan die aanhoor van ’n verhaal verdring.

Hier is die ontdekking – elke hospitaalbed van ’n kroniese siek persoon dra reeds ’n teks:

’n Lewensverhaal. ’n Pynverhaal. ’n Kroniese verhaal.

Luister is nie pastorale passiwiteit nie. Luister is hermeneutiese betrokkenheid. Om ’n hospitaalverhaal werklik te hoor, beteken om: die verhaal te ontgin (die onderliggende temas van verlies, vrees, hoop en geloof raak te hoor), daarby aan te sluit (nie met vinnige antwoorde nie, maar met empatiese teenwoordigheid) en dit te benut sodat die pasiënt se eie verhaal die vertrekpunt van pastoraat word.

Wanneer die pastor saam met die siek persoon binne sy of haar verhaal beweeg, ontstaan ’n ruimte van saamreis. Met die hospitaalverhaal wat ernstig geneem word,
word teenwoordigheid self die bediening. Hier kan die pastor se Teks by die kroniese siek persoon se teks inhaak.

Kroniese Kronieke ontsluit met Kliniese wit – hospitaalverhaal, ’n narratief-pastorale verdieping van die hospitaalbesoek, deur die analise van poësie in twee dele:

 

Deel 1: Die dinamika van die stem en die stoel in die hospitaalkamer 

  • Ontdekking, erkenning en bevestiging van die kroniese siek persoon se stem – sy of haar hospitaalverhaal.
  • Ontdekking, erkenning en bevestiging van die pastor se luistergesindheid en teenwoordigheid.
  • Die hospitaalbed as plek van ontmoeting en saamreis waar die Woord luisterend en sprekend teenwoordig is.

 

Deel 2: ʼn Perspektief op ʼn hospitaalervaring deur ʼn kroniese siek persoon: Kliniese wit

  • Die dinamika van ’n hospitaalverhaal in poëtiese teks – analise en integrasie.
  • Moontlike praktykwysigings vir ʼn verbeterde pastorale ervaring tydens die hospitaalbesoek aan kroniese siek persone.

Die studiebron is die poëtiese bundel, Lamentoso – Ervarings van pyn deur Swan en Van der Merwe (2025), waarin die stem van kroniese siekte poëties en reflektief verwoord word. Lamentoso skep ’n hermeneutiese ruimte vir pastors om

  • oor hul eie selfverstaan binne die konteks van die hospitaalbesoek te herbesin.
  • die beweging van teenwoordigheid en verkondiging te realiseer langs die hospitaalbed.
  • en met groter pastorale bewoënheid hospitaalbesoeke aan kroniese siek persone te benader.

Pastors en leraars, geestelike werkers, pastorale beraders asook elke persoon wat by siekebesoek betrokke is, sal hierdeur baat vind. Kroniese siek persone kan met vrug inskakel.

 

Praktiese besonderhede 

Twee aanlyn sessies van 2 uur elk met ʼn refleksie aktiwiteit (10 VBO-punte) aangebied deur dr. Suzanne van der Merwe, me. Matilda Swanepoel en dr. Theo Kleynhans met insluiting van: 

  • Die digbundel Lamentoso – Ervarings van pyn (Swan & Van der Merwe, 2025) in elektroniese formaat
  • ’n Gesprekshandleiding (elektronies)
  • ’n Begeleide refleksiewe aktiwiteit
  • Terugvoer op die refleksie (persoonlik)
  • Elektroniese bywoningsertifikaat

Datums:  24 Maart 2026 en 5 Mei 2026

Tyd:  19:00 – 21:00 (aanlyn sessies)

Koste:  R350 vir ’n elektroniese weergawe van Lamentoso

Koste:  R450 vir ’n harde kopie van Lamentoso wat gekoerier word

NAVRAE

E-pos dr.suzannevdm@gmail.com of WhatsApp +27 (0)63 478 5988

Details

Venue

  • Zoom
  • South Africa

Organizer