Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Vir ons as Christene is dit aksiomaties dat alles bestaan tot Sy eer. Ons lees in Kolossense 1:17-18: “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.” Die hele Skrif is ook Christosentries, sodat die Bybel in sy totaliteit op Christus fokus – ongeag die spesifieke skrywer. Ons lees byvoorbeeld dat die Here Jesus in Johannes 5:46 sê: “As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.”
Om met enkele tekste die Godheid van Jesus te staaf, maak teen bogenoemde punt dus nie veel sin nie. As ons egter in aanmerking neem dat sulke tekste tog van groot waarde kan wees in gesprek met Moslems, dan is dit goed om ’n paar van hulle te lys.
Ons het met die vorige kort artikel gesien dat die hele Skrif die Woord van God is, en dat die woorde van die Here Jesus, soos opgeneem in die Bybel, nie méér gewig dra as die woorde van ander persone en skrywers in die Bybel nie. Hoewel Jesus sélf by geleentheid sê dat Hy God is, is ander Bybelskrywers se bydrae in dié verband ewe waardevol. Ons kyk daarom hier na ander persone wat ook in die Bybel die godheid van Jesus bely.
In Matteus 22:43-45[1] wys die Here Jesus daarop dat Dawid (in Psalm 110:1) bely het dat Jesus God is, as Hy sê: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
Jesaja voorspel ook die koms van die Messias en noem Hom selfs “Magtige God”. In Jesaja 9:5,6 lees ons: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”
Jeremia voorspel ook die koms van Christus en dat Hy God sélf is. In Jeremia 23:5-6 verklaar hy:
“Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige spruit sal laat opskiet, ‘n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. In sy tyd sal Juda gered word en sal Israel veilig woon. Sy naam sal wees: Die Here regeer regverdig oor ons.”
Matteus noem Jesus God as hy die woorde van die engel in Matteus 1:23 neerpen: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken “God by ons”.
Die engele noem Hom God. In Lukas 2:11 roep hulle dit uit: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”
Die kere wat Johannes dit noem, is ’n lang lys op sy eie. In Johannes 1:1 lees ons die bekende woorde: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” In 1 Johannes 5:20 lees ons ook: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.”
Die blinde man in Johannes 9 noem Hom God: “Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: ‘Glo jy in die Seun van die mens?’ Hy het geantwoord: ‘Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?’ Jesus het vir hom gesê: ‘Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.’ Die man sê toe: ‘Ek glo, Here!’ En hy het Hom aanbid.” (vers 35-38)
Die “ongelowige Thomas” bely teenoor Jesus in Johannes 20:28: “My Here en my God!”
In Handelinge 10:34-36 lees ons: “Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: ‘Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.’”
Paulus getuig ook dat Jesus God is. Die tekste is te veel om te noem, maar een van hulle is Filippense 2:5-6: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie.”
God die Vader (Hebreërs 1:8-10) sê selfs dat Jesus God is: “Maar van die Seun sê Hy:
‘U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote’.” En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande.”
Hierdie is net ’n kort (en onvolledige) lys, maar kan handig gebruik word in gesprek met Moslems.
[1] Alle aanhalings uit: Die Bybel. 1983. Die Bybel: Nuwe Afrikaanse Vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie is nog ’n artikel in die reeks oor apologetiese gesprekke met Islam om Christene toe te rus vir gesprekke met Moslems
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za